Boekresensie: Verstommende raaisels en rampe

Regte-egte raaisels en Regte-egte rampe word uitgegee deur Human & Rousseau en is geskryf deur Susan Martineau.

Hierdie kleurvolle sagtebandboeke van 250 mm x 218 mm beslaan 48 bladsye elk en is geskik vir kinders 9-12 jaar oud. Fred Pheiffer het beide boeke in Afrikaans vertaal. Vicky Barker het vir die ontwerp en illustrasies gesorg.

Regte-egte raaisels is die wenner van die gesogte Blue Peter-boektoekenning 2018 vir beste feiteboek. Dit kom met ’n waarskuwing op die agterblad, nl: “Regtig spokerig. Moenie als glo wat jy lees nie!” Die kopkrappers wat ondersoek word sluit onder meer in nare, harige gediertes, vreemde vlieënde voorwerpe, hulpvaardige spoke, monsters uit die dieptes en verstommende superkragte. En soos dit mos maar met raaisels gaan, het baie dit al probeer ontrafel, maar die vreemdhede in hierdie boek word nie so maklik verklaar nie.

Die leser word aangeraai: “Lees eers die verstommende stories. Kyk dan na elkeen se DOSSIER om die beskikbare getuies te ondersoek. Dalk is JY die een wat die waarheid ontdek?” Jy hou dus jou lyf speurder en beskou die feite versigtig en saaklik. Dis ’n goeie idee om ’n notaboek en pen as speurgereedskap byderhand te hou sodat jy kan aantekeninge neem wanneer jy die dossiere nagaan, die verklarings van die getuies lees en die leidrade opvolg. Jy kan jou bevindinge met familie en vriende deel en hulle verstom met jou knap speurwerk. Jy sal ook heelwat raaiselwoorde leer ken waarmee jy jou maats en onderwysers mee kan beïndruk. Daar is selfs wenke vir opvolgondersoeke. Vreemde verduidelikings en kenners se indrukke sal jou help om jou eie mening te vorm oor wat die waarheid agter die raaisels is.

Kinders wat daarvan hou om sélf raaisels op te los en na antwoorde te soek, sal hulself ure lank met hierdie boek besig hou. Kom, help verklaar die onverklaarbare!

Regte-egte rampe stel ondersoek in na hoekom sekere rampe gebeur het en hoe dit voorspel en verhoed kan word. Kundige rampondersoekers is aan die woord en lewer kommentaar oor die lewensbedreigende rampe soos vervat in die boek – “van reuse-uitbarstings tot vreesaanjaende mensgemaakte katastrofes”. Die vreeslike rampe sluit onder meer in Die onsigbare skip, Dinoramp, Die bedrieglike driehoek, Wilde weer en Dodelike siekte. Dit waarskuwing op die agterblad lui só: “Regtig gevaarlik. Wees veilig – volg die kenners se raad.”

Die leser word aangeraai: “Lees eers die verstommende stories oor die rampe. Kyk dan na elkeen se RAMPDOSSIER. Jy sal die feite oor wat regtig gebeur het, kan nagaan en in die voetspore volg van die kenners wat ondersoek instel.” Die kaarte, tydlyne, feite, verklarings deur ooggetuies, rampwoorde en vreemde verduidelikings sal menige nuuskierige agie op die punt van hulle stoele hou. Die inligting word feitelik en interessant deurgegee. Daar is ook riglyne oor wat om te doen wanneer jy jouself te midde van ’n ramp bevind. Jy kan selfs jou eie rampdossiere saamstel en data insamel oor ander rampe as dié in die boek.

Kinders wat daarvan hou om feite na te vors en self antwoorde op hulle vrae te soek, sal hierdie boek baie leersaam vind. Kom, ondersoek wat régtig gebeur het!

Meer oor die skrywer:

Susan Martineau het meer as twee dekades se ervaring in die uitgee van boeke. Sy skryf graag kreatiewe en opvoedkundige boeke vir kinders.

Skaf gerus Regte-egte raaisels hier en Regte-egte rampe hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.