Boekresensie: Voetspore in Suid-Afrika 2 – ’n reisgids

Voetspore in Suid-Afrika 2 – ’n reisgids deur Johan Badenhorst word uitgegee deur Protea Boekhuis.

Ek was sommer baie opgewonde om hierdie splinternuwe reisgids uit die Voetsporestal deur te blaai, want ek het die vorige titel, Voetspore in Suid-Afrika (2020), baie geniet. Ek is die alleenversorger van my ma wat aan demensie ly, en die geleentheid vir my om tans te reis is dus nul. Dit is dus ’n reusebederf om saam met Johan Badenhorst en sy Voetsporespan deur Suid-Afrika te toer. Boonop is Gideon Du Preez Swart se pragtige foto’s van só ’n aard dat dit vir my gevoel het asof ek alles eerstehands meemaak.

Voetspore in Suid-Afrika 2 – ’n reisgids sluit kaarte, die name en telefoonnommers van gidse in elke streek, verblyfbesonderhede, aktiwiteite, ’n paklys, afstande tussen dorpe, 4×4-roetes, inligting oor vulstasies en gesondheidsorg, nuttige wenke en besienswaardighede in. Dit is nie ’n omvattende reisgids nie, maar bied wel uitmuntende waarde en wenke as die verslag van die Voetsporespan se eie reis van dertien weke. Johan se dogter, Nina, het hierdie reis meegemaak as die eerste dame wat deel uitmaak van die Voetsporespan. Naas Johan het ook sy seun, Streicher, en drie ander bekende gesigte, Gideon, Norbert en Stefan, saamgereis.

Dit was aan die begin van Junie 2020 (wintertyd!) toe hulle hul tasse vir die reis gepak het om die veertiende Voetspore-ekspedisie aan te pak. Die oorgrote deel van die Suid-Afrikaanse bevolking was weens grendeltyd ingeperk, maar die Voetsporespan kon toestemming kry om die lang pad te vat, mits hulle streng Covid-19-protokol handhaaf. Johan noem die ervaring ’n uitsonderlike reis tydens ’n uitsonderlike jaar.

Die Voetsporespan se drie maande reis het in Pafuri, in die noordoostelike hoek van Suid-Afrika afgeskop. Daarna is hulle na die Klaserie, Dullstroom, die Waterberg, die Suid-Vrystaat, die Groot-Karoo, die Sederberg, die Weskus, oor die Hottentots-Hollandberge en uiteindelik na Agulhas, die suidpunt van Suid-Afrika. Die dertien hoofstuktitels gee ook ’n goeie idee waar die span oral heen gereis het: Pafuri tot by Letaba Ranch; Leydsdorp tot by die Klaserie-natuurreservaat; Mariepskop tot by Dullstroom; Lapalala tot by die Marekele- nasionale park; Witkoppen tot by Moolmanshoek; Garingboom tot by Koffiefontein; Orania tot by die Witsand-natuurreservaat; Witsand tot by Badshoek; Beaufort-Wes tot by Gannabos; Dwarsrivier tot by Marcuskraal; The Baths tot by Riebeek-Wes; Kalmoesfontein tot by Mcgregor en Gantouwpas tot by Agulhas.

Johan skryf: “Hierdie reis het aan ons die geleentheid gebied om ou bekende plekke te besoek soos Pafuri in die Krugerwildtuin, die Wolkberg, Bourke’s Luck in die Blyderiviervallei, Lapalala, Witkoppen, Witsand, Victoria-Wes, Verneukpan, Loeriesfontein, Tietiesbaai en Agulhas. Elkeen is ’n bestemming wat ons weer sal kan besoek. Maar dan was daar nuwe plekke, soos Leydsdorp, die Belvedere-kragstasie, Marakele se 4×4-roete, Witsieshoek, Moolmanshoek, Bethulie, Poupan, Ja-Nee, Wintershoek, Karreekloof, Badshoek, Loxton, die korbeelhuisies op Stuurmansfontein, Gannabos, die Maltese kruis in die Sederberge, Dwarsrivier, Marcuskraal, Klein Tafelberg, Allesverloren, Kalmoesfontein, Matroosberg, die Gantouwpas en Baardskeerdersbos, om net ’n paar te noem (8).

Voetspore in Suid-Afrika 2 – ’n reisgids is propvol wetenswaardige inligting wat in Johan se gemaklike geselstrant weergegee word. Deur hom ontmoet lesers interessante mense en leer ook meer omtrent die agtergrond van die plekke waar hulle aandoen. Hy is baie vaardig met die pen, en ek hoop om nog eendag ’n spanningsvolle avontuurverhaal van hom te lees. Ek is van vooraf oortuig dat ons in die mooiste land ter wêreld woon, en dat ons eers ons eie land moet verken voordat ons oorsee wil gaan rondrits. Hierdie reisgids gaan my nog lank laat droom en in my gedagtes laat saamreis.

Meer oor die outeur: Johan Badenhorst is ’n bekende en geliefde televisiepersoonlikheid, programvervaardiger en avonturier. Hy besit KewTV Produksies, die Voetspore-winkel en Voetspore Safari’s. Die volgende publikasies het uit sy pen verskyn: Voetspore op die ewenaar (2014), Voetspore: Agulhas tot Alexandrië (2013), Voetspore: Casablanca tot die Kaap (2011) en Voetspore in Suid-Afrika (2020). Hy en sy vrou, Alma, woon op Kleinmond in die Overberg. Hulle het drie kinders genaamd Nina, Heleen en Streicher.

Kry jou kopie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.