Boekresensie: Voetspore in Suid-Afrika

Voetspore in Suid-Afrika is geskryf deur Johan Badenhorst en word uitgegee deur Protea Boekhuis.

Die immergewilde Voetsporemanne het in 2019 ’n drie maande lange avontuur – sowaar die dertiende Voetspore-ekspedisie – aangepak om die uithoeke van Suid-Afrika te verken. Hierdie reisgids bied aan die leser die wonderlike geleentheid om die sonderlinge reis tussen die bladsye van die boek mee te maak.

Dit maak nie saak of jy sommer as ’n leunstoelreisiger wil saamrits of dalk die reisgids wil gebruik om ’n voornemende toer – of jy nou wil kampeer of in weelde wil vertoef – te beplan nie. Die kaarte, verblyfbesonderhede, 4×4-roetes en vele praktiese wenke in dié boek behoort jou reëlings seepglad te laat verloop. Fotograaf Gideon du Preez Swart se pragtige foto’s is genoeg om enige avonturier te laat kwyl by die blote gedagte om ons mooi land vanuit die bevoorregte oogpunt van ’n reisiger te ervaar.

Badenhorst skryf in die Voorwoord: “Dit was ’n reis na die uithoeke van Suid-Afrika. Dit was ’n ontdekkingsreis. ’n Reis van ontginning. Die soeke na plekke wat ons land spesiaal maak. Daar is nog weggesteekte geheime of plekke waarvan ons net vergeet het.” Hy vervolg: “Die uitstaande kenmerk van Voetspore in Suid-Afrika, oftewel ViSA, was sekerlik die oorvloedige gasvryheid van die mense wat ons langs die pad raakgeloop het.” Die manne wat saam met hom gereis het, was Stefan Sonnekus, Gideon du Preez Swart, Simon Wearne, Norbert Coetzee en Streicher Badenhorst.

Voetspore in Suid-Afrika moet nie gesien word as ’n reisgids vir die hele SA nie. Dit beskryf  wel in dertien hoofstukke die dertien reise wat die manne aangepak het. “Voetspore in Suid-Afrika is nie ’n omvattende gids nie, maar eerder ’n boek wat jou sal aanmoedig om jou eie reis te beplan, gepaardgaande met ’n paar nuttige wenke, telefoonnommers en e-posadresse.” Badenhorst moedig die leser aan om die pad te vat en ’n “wêreld in een land” te gaan geniet. Die dertien bestemmings/hoofstukke is Die Kalahari, Die Richtersveld, Namakwaland, Tankwa-Karoo, Klein-Karoo, Baviaanskloof, Die Wildekus, Suidelike Drakensberg, Kwazulu-Natal se slagvelde, Om eSwatini, Die Wolkberge, Limpopovallei en Terug na die Kalahari.

Die Voetspore-span se voertuie (Foto: Voetspore/Facebook)

Ek het die lys van ikone, wat verblyfgeriewe (soos byvoorbeeld of dit kindervriendelik is of nie en oor kredietkaartfasiliteite en Wi-Fi beskik), kampgeriewe (soos byvoorbeeld of dit spoeltoilette, elektrisiteitpunte en ’n kombuis het) en aktiwiteite (soos byvoorbeeld wildkyk, swem en voëlkyk) aandui, baie nuttig gevind. Tracks4Africa het die verblyf-, afstand-inligting en reistyd verskaf. Daar is ook ’n paklys en inligting oor vulstasies,  gesondheidsorg, besienswaardighede en gidse.

Ek het die reisgids van voor tot agter deurgelees en heerlik saamgereis. Dit is egter nie net die mooi foto’s en interessante inligting wat my geboei het nie, maar wel Badenhorst se baie toeganklike en onderhoudende skryfstyl. Hy skryf nie net oor die unieke reisbestemmings nie, maar vertel ook meer van die wonderlike mense wat hulle langs die pad ontmoet het. Die taal- en musiekliefhebber sal inspirasie put uit sy aanhalings uit onder meer David Kramer, DKW en Valiant Swart se werke.

As liefhebber van geskiedenis het ek ook sy vertellinge oor die agtergrond van die plekke waar hulle aangedoen het, baie geniet. Badenhorst en sy span het byvoorbeeld in Ladysmith vir Johann Hamman, ’n slagveldgids, ontmoet. Hy skryf só daaroor: “Die Beleg-museum langs die stadsaal in Ladysmith is ’n wonderlike plek om te besoek en uit te vind oor die Boere- en Britse magte se uniforms, wapentuig, taktiek en ook wie die verskillende leiers was. Johann gebruik die geleentheid om ons die groter prentjie te skets. ’n Gids vir die vir ’n slagveldbesoek is baie belangrik. Dis dié mense wat dinge in perspektief plaas.” Hy gee dan ook aan die leser die gebeure weer tydens die Slag van Spioenkop.

Meer oor die skrywer

Johan Badenhorst is ’n televisiepersoonlikheid, programvervaardiger en avonturier. Hy is die eienaar van KewTV Produksies, die Voetspore-winkel en Voetspore Safari’s.

Skaf gerus jou kopie van Voetspore in Suid-Afrika hier aan.

  • Lees ook op Maroela:

Johan Badenhorst van ‘Voetspore’: ‘Hoe verder jy gaan, hoe meer wil jy reis’
‘Voetspore’ se span weer op reis

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae