Boekresensie: Ware spookverhale van Suid-Afrika

Ware spookverhale van Suid-Afrika deur Daniël Lötter word deur Protea Boekhuis uitgegee.

Ek het Ware spookverhale van Suid-Afrika oor twee redes gelees – omdat resensent Jonathan Amid op die voorblad aangehaal word waar hy Lötter se skryfstyl as lig, vermaaklik, intiem, gemaklik, gereeld ondeund, skerp en spitsvindig beoordeel, en ook omdat ek ’n goeie spookstorie baie geniet. Die uitgewersbrief beskryf die bundel spookstories as ’n amper volledige rekord van Suid-Afrika se tientalle bekende en minder bekende spoke wat maar net nie tot rus kan kom nie – nóg ’n rede om dié spokerige boek te lees.

Die lokteks op die agterblad nooi: “Kom maak kennis met ’n paar van die bekende, minder bekende en selfs heeltemal onbekende gedaantes wat in die donkerste ure van die nag in die huise en oor die vlaktes van ons land hul ontstellende opwagting maak.” Lötter skryf in die Voorwoord dat spookstories so deel is van ons tradisies en herkoms, onder al Suid-Afrika se gemeenskappe en kulture, dat die beste pogings van ons verligte tye om hulle te verdryf, nie slaag nie.

Ek het grootgeword in ’n huis waar my oorlede oupa graag spookstories vertel het uit sy kinderdae op ’n Vrystaatse plaas. Oupa se sibbe het natuurlik hierdie stories as die waarheid beaam. My hare rys nou nog as ek onthou van die koplose gedaante wat Oupa glo een maanlignag raakgeloop het in die veld. Dan het ek self al ’n keer of wat ’n onverklaarbare of bonatuurlike verskynsel gewaar, gevoel en gehoor. Maar dis stories vir ’n ander dag …

Lees Ware spookverhale van Suid-Afrika liefs gedurende die dag, verál as jou verbeelding maklik op loop gaan en die geringste geritsel of skaduwee jou hartkloppings gee. Ek erken ruiterlik dat ek vir ’n paar nagte omkyk-omkyk in my huis rondbeweeg het nadat ek dié boek gelees het. Die deeglik nagevorste stories het my lyf in hoendervleis laat uitslaan. Maar mensig, dit lees lékker! Lötter is sonder twyfel ’n meesterstorieverteller en verdien al die lof wat Amid hom so kwistig toeswaai. As jou adrenalienvlakke met die eerste storie getiteld “Ons alleroudste spookstorie” eers hemelhoog styg, móét jy eenvoudig die res lees.

Ware spookverhale van Suid-Afrika beslaan 240 bladsye. Die boek is in verskeie afdelings ingedeel, naamlik Ons alleroudste spookstorie; Verjaarspoke; Saampraatspoke; Tydspronge; Krisisspoke; Spookdiere; Voorbodes en nakennis; Goëlery en geraasspoke; Die wêreld se drie bekendste spookstories, en Waar ons spoke dwaal. Die hoofstuktitels lees nét so lekker soos die stories self, bv. Die sakdoek met die handmerk op; Lichtenburg se spookkat; Tante Wessels se voorbode; Die spookwa van die Spokeveld, en Die spioen wat spook. Die groot verskeidenheid spookstories sal by menige lesers aanklank vind.

Uittreksel: Die jong man bring die fiets tot stilstand en klim af. Skielik staan daar vlak voor hom ’n uitgegroeide wolhaarhond wat glimmend in die maanskyn kordaat na die fietsryer staar. Dadelik spring die seun terug op sy fiets en trap so al wat hy kan terug in die rigting waarvandaan hy gekom het. Agter hom hoor hy die hond hyg en telkens wanneer hy oor sy skouer kyk, is die dier vlak agter hom. Skaars 800 meter verder gaan die lig van sy fiets skielik vanself weer aan en word dit doodstil agter hom” (102).

Meer oor die skrywer: Daniël Lötter se eerste twee boeke, Die grootpad is ’n grondpad  en 17 maal moord, het in 2020 by Protea Boekhuis verskyn en is goed ontvang.

Skaf jou kopie van Ware spookverhale van Suid-Afrika hier aan.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.