Boekresensie: Welvaartskeppers

Welvaartskeppers deur Riaan Botha word uitgegee deur Lapa-Uitgewers.

As jy ook soos miljoene ander afgunstige aardlinge wonder hoe sommige mense dit regkry om meer welvarend te wees as ander, is hierdie boek die perfekte leesstof vir jou.

Wat is die “iets” wat finansieel suksesvolle mense onderskei van die res? Baie van ons spog met stringe kwalifikasies, maar tog bly ons beursies miserabel leeg. Sekerlik erf net ’n handjievol gelukkige siele hulle skatryk of word gebore met die spreekwoordelike silwer lepel in die mond, al gooi politici die gonsterm “generasie rykdom” tog so lustig rond? Jan Rap en sy maat kom kaler as kaal die wêreld in en moet met slegs duimsuig tevrede wees. Of hoe?

Wat is die kans om welvaart te skep wanneer die wêreld om ons lyk soos dit lyk?

Dr. Riaan Botha, die outeur van Welvaartskeppers en stigter van Bovest, wys daarop dat te midde van ’n algehele gevoel van moedeloosheid oor die land se ekonomiese stagnasie daar steeds individue is wat sakegeleenthede raaksien. Die doel van sy boek is tweeledig. Hy wil aan die leser deur middel van bewese strategieë wys hoe om welvaart te skep en om reeds verworwe welvaart suksesvol te bestuur.

“As selfgemaakte miljoenêr wat op die Vrystaatse platteland grootgeword het, deel ek die duur lesse wat ek vroeg in my werkende loopbaan geleer het en wys ek hoe om ’n familieonderneming in uitdagende ekonomiese tye te vestig en suksesvol te bedryf” (2). Hy noem dat daar nie ’n enkele “wonderoplossing” is wat sukses waarborg nie, maar dat ’n mens die onderliggende beginsels in selfgemaakte miljoenêrs se strategieë kan identifiseer en op jou eie situasie van toegepassing maak.

“Die pandemie het sekere bedrywe gedwing om te herbesin oor hul werkwyse, terwyl welvaartskeppers genoop is om kreatief te dink om hul ondernemings van finansiële ondergang te red. Dit het ’n wekomgewing geskep wat geleenthede bied aan gemotiveerde en toegeruste individue” (3). Hy wys daarop dat menige internasionale kolos as klein familiesaak begin het. Dit is dan ook teen dié agtergrond dat heelwat van die strategieë wat in die boek bespreek word ’n familie-aanslag het.

Gesien in die lig dat families al hoe meer deur omstandighede gedwing word om swaar op mekaar te steun, kom Welvaartskeppers handig te pas. Suksesvolle welvaartskeppers deel hierin hulle wenplanne, wenke en inspirerende stories. Die praktiese advies en toerusting oor hoe om jou eie geldelike posisie te verbeter en daarby ook ’n inkomste vir ander te skep, sal die leser help om ’n kopskuif te maak en welvaartsmoonlikhede te eien, of jy nou ’n gewone salaristrekker, vernuftige entrepreneur of professionele persoon is.

Ek hou baie van die nugter, realistiese én byna vaderlike wyse waarop dr. Botha met sy lesers in gesprek tree. Dit alleen plaas Welvaartskeppers vir my in ’n ander klas as die magdom boeke deur ghoeroes wat met allerhande slimpraatjies aan jou ’n mirage van kitsrykdom voorhou net om boekverkope te verseker.

Dr. Botha noem ’n sakeplan ’n padkaart om potensiële beleggers mee te lok en wys op die belangrikheid van deeglike beplanning. Hy skryf op bladsy 5: “Die leser van dié boek staan voor die volgende uitdaging: Jy leef in ’n ontwikkelende ekonomie wat geleenthede bied om jou eie sakeonderneming te begin deur te voorsien in die behoeftes van die gemeenskap waarin jy leef. Die hoop is dat hierdie boek vir jou ’n gereedskapskis sal gee om hierdie uitdaging suksesvol aan te pak.”

Hy belig die volgende ses-stap-werkswyse: Stap 1: Ontleed jou finansiële situasie; Stap 2: Stel vas waar jy in die toekoms finansieel wil wees; Stap 3: Ontleed en verbeter jou kontantvloei; Stap 4: Beskerm jou bestaande welvaart; Stap 5: Skep nuwe welvaart; en Stap 6: Konsolideer die proses.

Die talle suksesstories deur mense wat suksesvol hulle eie welvaart skep is uiteraard baie inspirerend. Hulle deel raad en wenke aan die hand van vrae soos: Watter raad sou jy jou jonger self gee? Watter gewoontes help jou om sukses te behaal? Wie of wat motiveer jou? Watter rol het jou grootwordjare in jou sukses gespeel? En watter boodskap het jy vir voornemende entrepreneurs?

Skaf Welvaartskeppers hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.