Boekresensie: Wetenskaap

Wetenskaap deur Leon de Villiers word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Skuif gerus nader indien jy hou van boeke wat met jou kop smokkel en vol wonderlike wolhaarstories en lawwe raaisels is. Wetenskaap word op die omslag beskryf as ’n “wollerige boek vir nuuskierige kinders wat hou van ongelooflike onbenullighede, vreemde vyte en … slim skape!” Die uitgewersbrief belowe: “Wetenskaap bestaan uit ’n versameling speelse, onderstebo, wonderlike en snaakse vyte. Dis ’n heerlike boek vol grappige idees oor dinge. Oud en jonk gaan glimlag vir hierdie heerlike nonsens.” En dis waar! As volwassene het ek my omtrént verkneukel aan hierdie verbeeldingryke sagtebandboek soos geskryf deur Leon de Villiers en geïllustreer deur die talentvolle Linki Brand.

Die leser leer op bladsy 5 wat vir ’n ding ’n vyt dan nou eintlik is. “Wanneer ’n mens goeters uitmekaarhaal en dit weer bymekaarsit, bly daar baie keer ietsies oor. Daardie oorbly-ietsies is vyte.” Wetenskaap is die “behoefte om vyte bymekaar te maak” (4). Wetenskape bêre glo vyte in botteltjies onder hulle beddens. Het jy byvoorbeeld geweet dat skape vreeslik slim is? Hulle maak dan jouwaarlik wit wol van groen gras! “Wol is uitgedroogde skaapsweet en sy is uitgedroogde wurmspoeg” (7). Ek het lekker gelag toe ek Wetenskaap lees, want selfs die mees ongelooflike verduidelikings en verklarings het my daardie gevoel gegee van “duh, dit maak eintlik sin! Hoekom het ek nie self daaraan gedink nie?!”

Het jy al ooit gewonder hoekom mense hulle klere uittrek as hulle wil bad? Die antwoord is beslis nie die een wat dadelik in jou gedagtes opkom nie! Ek het ook geleer wat ’n drook is en waarom dit nie gesien wil word nie. Het jy geweet dat almal op aarde baie amper in ’n stadium tot stilstand gekom het maar toe breek daar chaos uit? Lees gerus dié wolhaarstorie op bladsy 21.

Die gespekskietery rondom die name van die maande van die jaar sal jou na jou asem laat snak. Dieselfde met die betekenis van die name van die dae. En as jy gedink het jy weet waar mense vandaan kom, moet jy weer dink. Die rede hoekom mense begin praat het sal jou ook verras. Alle mense soen ook nie met hulle lippe nie, so moenie jou ore uitleen nie! Het jy al ooit gesien dat honde in die rondte draai voordat hulle neerval om te slaap? Wel, daar is ’n baie goeie rede daarvoor!

Ek het geskaterlag toe ek op bladsy 34 lees dat seewater eintlik Aardpiepie is! Ek kan my net indink hoe baie kinders dit sal geniet om die lawwe antwoorde op die swetterjoel vrae in hierdie boek te lees. Die lekkerste van alles is dat dit kinders se verbeelding laat vlamvat. Wie wil nou nie pret hê met vyte nie? Dit is tog soveel meer opwindend as om net altyd ’n spul droë feite uit jou kop uit te moet leer vir skool. Boonop kan jy jou maats vasvra of uitdaag om selfs meer ongelooflike simpel antwoorde uit te dink. Wetenskaap laat die leser heerlik lag, kraai van plesier, uitroep in ongeloof of verwoed kop skud. Jy weet daar word met jou die gek geskeer en dat jy die antwoorde met ’n knippie sout moet neem.

Wetenskaap is dan ook geskryf deur ’n “maloom” wat vyte in die boek vasgekeer het. Maak jou reg vir ’n leeservaring wat jou wêreld en die manier wat jy oor die wêreld dink op sy kop keer. Ná die lees van hierdie prettige boek sal jy ook weet waar skool en onderwysers vandaan kom. Dieselfde met selfone, stories en goud.

Bestel jou kopie van Wetenskaap hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.