Hier volg ʼn uittreksel* uit die boek Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme deur Albert Blake. Klik hier om na ʼn onderhoud met die skrywer te luister.
In Junie 1941, ná net meer as twee maande ter see, het die bemanning van die seiljag Kyloe uiteindelik land gesien. Die voorafgaande weke moes hulle die onstuimige waters van die Atlantiese Oseaan langs die Weskus van Afrika trotseer.
Dit was nag en ’n misbank het op die see gelê. Die swart streep wat hulle vir ’n kort oomblik in die verte gesien het, was die duine van die Namakwalandse kus.
Aan boord was lede van die Duitse militêre geheimediens, die Abwehr, se sogenaamde spookseiljagvaarders en die bekende Suid-Afrikaanse bokser Robey Leibbrandt. Hulle het pas een van die eerste doelwitte van Operasie Weissdorn bereik – om Leibbrandt in die geheim van Duitsland na Suid-Afrika te bring.
Die oomblik toe hulle die land ruik, het Leibbrandt ongeduldig geraak. Hy wou dadelik die rubberbootjie laat sak en die tog na die kus aanpak. Die seiljag se bemanningslede het hom gewaarsku dat dit malligheid sou wees om dit in dié weersomstandighede in die aand te doen, maar niks kon hom keer nie.
Leibbrandt moes al sy kragte inspan om die ses kilometer na die land te roei. Hy kon beswaarlik die strand uitmaak met net twee sterre wat dof deur die misbank geflikker het.
Die rubberbootjie was klein, die radiosender en sy tas, waarin ’n sak vol Amerikaanse dollars en sabotasietoebehore was, het feitlik al die plek opgeneem. Hy moes uiteindelik op die sender sit en roei. In dié ongemaklike posisie het dit groot inspanning geverg om nie net die rubberbootjie nader aan die strand te kry nie, maar ook sy ewewig te behou.
Die skynbaar vreeslose Leibbrandt het later erken “’n knaende gevoel van verlatenheid en onrus het in my opgestoot” terwyl “allerhande vrees-gedagtes in my begin spook het”. Dit het vir hom geklink of hy mensestemme op die strand hoor totdat hy besef het sy verbeelding loop met hom weg en dat dit maar net, soos hy dit gestel het, die “inheemse taal van suisende en klotsende waters is”.
Weer het Leibbrandt se ysere wil hom deurgedra.
“Elke keer as die branders my bootjie skep, swaai ek my lyf in die teenoorgestelde rigting om te verhoed dat dit omkantel. Hoe lank ek geroei het, weet ek nie, maar plotseling het ek besef dat ek redelik naby die strand moes wees.
“Ek het skielik omgekyk en gesien hoe ’n groot brander skaars tien treë agter my skuimend teen die rotsmassa vasslaan en breek. Met al my mag het ek aan die spane gebeur om die bootjie weer terug in die see te stuur. In daardie paar oomblikke het dit my meer krag en inspanning gekos as wat ek die hele twee uur tevore gebruik het. Dit was seker een van my benoudste oomblikke en die sweet het in groot druppels op my voorhoof uitgepêrel.
“Toe die volgende brander aanrol, het die worsteling weer van voor af begin. Uiteindelik het ek daarin geslaag om buite gevaar te kom. Ek was weer in die oop see. Ná ’n rukkie kon ek in die skemerende verte ’n plekkie sien waar die branders vlak breek en ek het soontoe geroei, wetende dat daar strand moet wees.
“Ek het met my rug na die strand geroei. Net toe ek in die branding kom, voel ek hoe ’n koue rilling langs my ruggraat afkruip. Ek het gevoel hoe ek saam met die bootjie opgelig word. Die bootjie het gekantel en ek het onder die koue watermassa verdwyn.”
***
Sydney Robey Leibbrandt is op 25 Januarie 1913 op Potchefstroom gebore as die derde van John en Maggie Leibbrandt se sewe kinders. Volgens hom was sy kinderjare “sorgvry en ongebonde”.
Die huislike omstandighede waarin hy grootgeword het, was in baie opsigte verteenwoordigend van die gemiddelde Afrikanergesin van die tyd. Geld was skaars en wat beskikbaar was, moes spaarsaam vir basiese noodsaaklikhede aangewend word. Verhoudings binne die Leibbrandtgesin was stabiel en heg.
Leibbrandt se verhouding met sy pa was goed, maar soms ook kompleks. “Nooit het ek my probleme met my vader bespreek nie. Ek het altyd my eie besluite geneem en self die verantwoordelikheid gedra vir die resultate van daardie besluite … Vleitaal het hy nie geken nie, nie eens teenoor sy vrou en kinders nie,” skryf Leibbrandt.
Sy pa was ’n introvert wat nie met sy hart op sy mou geloop het nie. Dit dui waarskynlik daarop dat hy nie openlik liefde betoon het nie, maar volgens Leibbrandt het hy omgegee vir sy gesin en binne sy vermoë vir hulle gesorg. Hy het met ’n ysere, maar regverdige, ouerhand gesag uitgeoefen, soos dit ook tipies van die era was.
Leibbrandt het groot respek en ontsag vir sy pa gehad en het volgehou dat hy sy sterk eienskappe van hom gekry het. Sy pa het ongetwyfeld sekere van sy waardes soos beginselvastheid, vaderlandsliefde en trots by sy seun ingeskerp.
Daar was egter ook wesenlike verskille tussen pa en seun. Anders as sy pa was Leibbrandt, hoewel by uitstek ’n individualis, ook ’n ekstrovert met ’n grootheidswaan.
Leibbrandt beskryf sy ma as “’n gebore pedagoog, ’n fynbesnaarde en welopgevoede dame. Sy was ’n wonderlike moeder vir haar kinders” wat hulle geleer het dat “selfrespek meer waarde het as rykdom”. Sy het hulle baie vryhede gegee en hulle selde vermaan. Hulle moes van vroeg af selfstandigheid leer.
Kort ná Leibbrandt se geboorte het die gesin na Graaff-Reinet verhuis, waar hulle tien jaar lank gewoon het. Leibbrandt is op vyfjarige ouderdom skool toe omdat sy ouer boetie Meyder nie sonder hom skool toe wou gaan nie. Meyder was toe reeds besonder geheg aan sy jonger broer.
Leibbrandt het reeds as jong seun tekens van selfstandigheid getoon. Sy ma het hom altyd mark toe gestuur, waar hy geleer het om tot die grootmense se ergernis oor die pryse te kibbel. Hy was van kleins af hardkoppig en moeilik. Al was daar ’n gesonde emosionele band tussen hom en sy ouers, was hy geneig om onafhanklik van hulle sy eie rigting in te slaan.
Leibbrandt het ook vroeg sy rebelse streke getoon. Hy was skaars tien jaar oud toe hy tydens ’n Voortrekkerkamp in 1923 ’n opstand aangestig het. Nadat hulle deur ouer seuns wat as monitors oor hulle aangestel was belet is om te speel, het Leibbrandt die kleineres opgesteek om weg te loop. Meyder en nog vyf het by hom aangesluit en tot groot ontsteltenis van die onderwysers het hulle in die veld gaan wegkruip. Hulle is ná ’n reusesoektog, gelei deur Japie Heese (die stigter van die Voortrekkerbeweging in Suid- Afrika), gekry. Elkeen is met ’n pak slae gestraf.
Leibbrandt se Afrikanerskap is in die Afrikaanse gemeenskap van Graaff-Reinet geslyp. Die eerste suiwer Afrikaanse laer- en hoërskool in die destydse Kaapland is in hierdie tyd op dié dorp deur plaaslike kampvegters vir Afrikaans gestig. Onder hulle was prominente Afrikaners soos die hoërskoolhoof, dr. G.W. Eybers, en die NG predikant, ds. J.F. Naudé, pa van die anti-apartheidsaktivis Beyers Naudé.
Tissa Eybers, dr. Eybers se vrou, het as laerskoolonderwyser ’n belangrike invloed op Leibbrandt se beskouing van Afrikanernasionalisme gehad: “In my optrede van later jare het mev. E. Eybers onwetend ’n reuse-aandeel gehad met haar geskiedenisklasse in my vormingsjare,” skryf hy later.
Volgens hom was haar vertellings van die smart in die konsentrasiekampe “so aandoenlik dat sowel die onderwyseres as leerlinge in trane was voordat die les verby was”.
Japie Heese het weer vir Leibbrandt patriotiese gedigte leer voordra waarvoor hy pryse op kunswedstryde ontvang het. Die emosionele beskrywing in Jan F.E. Cilliers se gedig van die Afrikanerrebel Jopie Fourie se teregstelling in 1914 het ’n blywende indruk op Leibbrandt gemaak. Die impak van Fourie se verhaal op hom kon later gesien word in sy uitdagende uitsprake dat hy bereid was om sy lewe vir sy volk op te offer.
* Dit is ’n verkorte uittreksel verskaf deur Jonathan Ball Publishers
Koop die boek by Graffiti Boeke
Ek het sy outobiografie jare terug gelees en daar net besef dis nie iemand van wie ek veel dink nie.
Wat my oë laat rek het is dat hy daarin sê Jan Smuts was een van SA se beste leiers gewees.
Albert Blake se boeke getuig dat hy deeglik navorsing doen, daarom moedig ek mense aan om dit te lees. Reeds omdat daar ook al n klomp nonsens oor Leibbrandt ook gekryf is.