Boek-uittreksel: Tussen die oond en die yskas

Hiermee die kortverhaal ‘Tussen die oond en die yskas’ deur Ryno Eksteen wat in Soete sonde, saamgestel deur Lizz Meiring, gepubliseer is.

Hulle het mekaar die eerste keer in die koöperasie op die dorp ontmoet. Albei was drie en ’n half jaar oud. Hulle ma’s het die winkeltrollies in die paadjie met waspoeier en skoonmaak­middels langs mekaar geparkeer. Daar was ’n geritsel van blink­papiertjies. Hy het sy vingers deur die tralies gedruk en sy het daaraan gelek. Haar gesiggie het gewys sy het nuwe emosies ont­dek: soet, bitter, jubelend, taai, lekker, afskuwelik, nóg!

Vir die eerste keer het sy sjokolade geproe.

Op een-en-twintig trou hulle. Met mekaar. Blus boer en Plankie bak. Die tuisnywerheid op die dorp gee haar ’n kans en nommer nege-en-sestig word aan haar toegeken.

Plankie stel net mooi alles op die proef: suurlemoenkolwyntjies, madeliefieterte, karringmelkskons, broskorshorinkies met ’n slap vulsel inkluis. In die algemeen is koeke en ander fyngebak in die kontrei egter van hoogstaande gehalte en ná twee maande laat weet Smul sy loop gevaar om haar nommer te verloor.

Die kompetisie is straf en omdat sy laaste ingekom het, moet sy eerste gaan. Daar is min genade in die kleinhandel van groot koeke langs die N2.

Blus troos met ’n Chocolate Log vir hom en ’n Sweetie Pie vir Plankie. Met ’n wit halfmaan op sy bolip, mompel hy: “Hashtag ’n Boer maak ’n plan.” Plankie sluk die molshopie van haar Sweetie Pie met een hap in.

Tot laatnag help Blus haar.

Totdat die kombuistafel vol staan met al hulle probeerslae van Sweetie Log Chocolate Pie-koeke. ’n Stewige wafelagtige beskuitjiebasis met ’n fluweelsagte meringue-tipe vulsel onder die aller delikaatste laag ganache.

Natuurlik kry Plankie haar nommer terug.

Blus skaf vir Plankie spesiale lêhoenders aan sodat sy die beste eiers vir haar gebak kan hê. Hy koop ook vir haar ’n Jersey-koei wat die romerigste melk gee. Self skei hy die room van die melk as sy dit so wil hê en met sy sterk arms karring hy vir haar die botter, soms twee maal per dag.

(Foto ter illustrasie: Steve Buissinne/Pixabay)

Hy help klits en klop en sif en smeer, die een swierige versiersel beter as die vorige een, beslag ná beslag. Nog en nog en nóg. Sag, ryk, klam, donker en lig. Laag op laag op laag. Hy sê niks toe Plankie vir almal vertel haar groot geheim is die musiek wat sy vir die koeke speel nie, met die aanmaak daarvan en in die oond.

’n Regte lied vir elke koek.

Telkens wanneer Kiri Te Kanawa se stem styg in “Le nozze di Figaro”, sing die mengsel in die oond insgelyks. In die middel van die nag kom help Leonard Cohen soms. En ander kere kan Plankie en die koeke slegs klavierkonserte of stryk-ensembles verdra. Meel gesif op maat van hemelse klanke.

Die deeg, die temperature, die vulsels.

Vanieljepeule en die perfekte partituur inspireer die geklopte eierwitte tot groot hoogtes. In die crescendo van die regte lied verdubbel die mengsel se volume soos melkmusiek. Saam met die fynste note skitter suikerkristalle soos sterre aan die hemeltrans.

Soos Plankie se oë.

Dan gaan Blus heel verleë eenkant staan.

Koeke is gehoorsaam. Hulle vra nie vrae nie en stig ook nie vakbonde nie.

Een oggend toe Plankie nog so vir Jessye Norman staan en dirigeer, val ’n emmer room van die rak af sodat die Melkweg self oor die kombuis neerreën. Blus is dadelik jammer. Hy maak of dit ’n ongeluk is. Hy kan nie vir sy vrou sê hy is jaloers op onbekende musikante nie.

Daar is roomwit spatsels oor alles. Ook bo-oor die twee dosyn koeke wat oor ’n uur afgelewer moet word.

Plankie begin huil.

Blus troos.

Sy sê hy moet die gemors weggooi, en loop oor die damwal tot in die lemoenboord. ’n Duwweltjie steek seerder binne-in die huis as buite in die veld. Skelm probeer hy die koeke red en net plek-plek smeer hy die kolle en spatsels toe of jaag ’n vurk met wilde draaie daardeur.

Fantasia, wat die till slaan by Smul, vra ’n dag later of Plankie nog van die koeke met die wit kolle en gate in kan bak. Die mense vra vir nog daarvan.

(Foto ter illustrasie: Katetsib/Pixabay)

Blus bely. Plankie vergewe hom. Nou moet hy staanplek vir vier emmers op verskillende hoogtes in die kombuis bou, wat sy met die hoogtepunt van die “Vier seisoene” in al die windrigtings kan omdirigeer.

Kantelklanke.

Kolkoeke word die in-ding en die kontrei se topverkoper.

Blus bou ’n houtplatform en uittrek-rakke onder die bakkie se kappie in sodat hy sommer ’n paar dosyn fyngebak op een slag kan invat dorp toe.

Belangegroepe met vroom beleidsklousules en venynige ondertone stuur dikwels afgevaardigdes vanaf buurdorpe om steekproewe te doen van Plankie se gebak. Wat op aarde maak dit so aantreklik? Watse onwêreldse goed klop sy in haar mengsels in?

En by Smul se jaareindfunksie in Augustus sien Plankie hoe vreemde mense aan Blus hang en die ruie hare op sy voorarms streel terwyl hulle hom vertel hoe gelukkig hy is om ’n vrou soos Plankie te hê. Die middelste week van Augustus is die enigste stillerige tyd wanneer al die nommermense van die tuisnywerheid ’n ligte blaaskansie kan vat. Dan hang hulle uit en laat kom groot caterers van die Kaap om hulle te entertain.

Dit is eers nadat Blus se trekker teen die steilte van die damwal agteroorgeslaan het dat Plankie besef die belangrikste bestanddeel van haar sukses is nie verhewe musiek nie. Dit is haar man se hande wat vir háár die regte eiers uitgehaal het en die Jersey-koeie met liefde rustig kon kry sodat hulle die romerigste melk kon gegee het.

Sy liefde vir haar het in haar handewerk beslag gekry.

Die dokters wat Blus behandel, sê ná ’n maand daar is niks meer wat hulle vir hom kan doen nie; hy kan maar huis toe gaan. Hy sal vir die res van sy lewe verlam wees, maar daar is niks met sy verstand verkeerd nie.

Plankie het opgehou professioneel bak en sien nou heeltyds na Blus om. Sy dink nuwe resepte uit en proe ruimskoots daaraan.

Blus begin haar later Plank noem.

Haar musiek word donker: “You don’t bring me flowers anymore.”

Plankie lees vir Blus gedigte voor en vertel vir hom die geskiedenis van kakao. Laat hom toe om die bak van ’n nuwe mengsel uit te lek.

Gelukkig het verleiding nie ’n vervaldatum nie.

By tye sal dit selfs uitspattig in sy kamer met die uitsig op die Rûensveld raak wanneer hulle hul eie “Eine kleine Nachtmusik” maak. ’n Verskeidenheidskonsert vir twee. Sy sou ’n nuwe sous of vulsel ontwerp en met ’n vingervraggie daarvan voor Blus se mond huiwer, terwyl sy eers die hele geskiedenis daarvan vir hom vertel voordat hy dit mag lek en sê wat hy daarvan dink.

Hy jok nooit meer vir haar nie.

Een naweek raak Blus stil. Met sy oë fluister hy dat hy in die moeilikheid is. Plankie laai hom op die koekrak in die bakkie en jaag Caledon toe. In die hoësorgeenheid hou sy ’n laaste keer haar vingers teen sy lippe. Die lewemasjien se pomp-en-suiggeluide het niks meer om te sê nie. Aan die ander kant van die bed verskyn ’n reëlmatige lyn op die skerm.

Blus Visagie het opgehou kou.

Op die skitterwit hospitaallinne lê ’n sjokoladestreep van sy mond tot by sy hart. Morsig en tevrede kantel sy gesig.

Die kortverhaal is goedgunstig deur Lapa Uitgewers verskaf.

Genre: Kortverhaalbundel
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R250-00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
jinny jualinda

Baie oulike storie, kry sommer trane in my oe!

Cornelia

Baie mooi verhaal, kon nie help om ‘n traan te stort nie.