Boekvoorlesing: 40 dae tot hoop

Hier volg ʼn uittreksel uit die boek 40 dae tot hoop deur Ronell Bezuidenhout. Luister ook hierbo na die voorlesing van die uittreksel.

Ons, die 21ste-eeuse mense, is nie goed met “tussenin” nie.
Dit is vir ons uiters ongemaklik om in limbo te wees.
Ons wil weet waarheen ons gaan; ons wil nie wonder nie.
Ons wil weet wat die volgende stap is; ons wil nie wag nie.
Ons kan nie niks doen nie!
Ons sukkel met onsekerheid.
Ons sukkel met “wag in die donker”.
Ek wonder: Hoe sal jy ooit ’n volwasse gelowige word as jy nie ook met die “tussenin” van die lewe kan vrede maak nie?

(En hier voeg ek nou net by die boek: Is hierdie periode van inperking nie vir ons ook maar ʼn “tussenin”-tyd nie. ʼn “Wag in die donker”, want ons weet inderdaad nie wat voorlê nie. Dis vir ons limbo-tyd.

Ek lees voort …)

Tussenin tyd laat jou weerloos voel. Jy weet nie watter kant toe nie?
Dit is ʼn eensame tyd.
In ’n wêreld van verslaafdheid aan besig wees en ’n strewe na oorlewing (ten minste dít, as dit dan nou nie sukses kan wees nie), is daar min van ons wat “tussenin” verstaan.

Presies wat maak tussenin-tye met ons?
Dalk dit: Dit herinner ons daaraan dat dit werklik nie ons is wat die lewe beheer nie. Dat niemand dit selfs namens ons kan doen nie.
Dit dwing ons om ons magteloosheid te bedink.
“Tussenin” leer ons terugsit. En ook hoe selde ons dit regkry. Want ons is doeners. Performance anxiety, noem ons dit.

As daardie son die Sondagoggend na Jesus se kruisiging sy kop uitsteek, vroeg die môre, het die Nuwe Begin niks te make met enigiets wat mense kon doen nie. Niemand kon daarop roem dat hulle ’n aandeel daaraan gehad het nie.

Dalk is dit juis wat ons moet ontdek: Hoop is ʼn geskenk. Dit is wat tussenin tye ons wil laat verstaan. Ons kan nie self nie. Ons het net hoop.
Dit herinner ons:
Ashoop word altyd hoop.
Dit is so waar soos die son wat opkom.

***

Vandag, ʼn Maandag, en die wonderwerk – en die stryd! – is dat ek weer kan begin.
Ek beskou hierdie weer begin as een van die genadigste moontlikhede denkbaar.
Die heilige Benediktus, die ou kerkvader, het gelowiges wat struikel en opstaan juis met hierdie woorde bemoedig: “Dan begin ons maar weer….”

Al my goeie voornemens kan so maklik, en gerieflik, vergete raak.
Gebeur daar iets wat my weer aan my vroeëre, vergete besluite herinner, is daar ’n paar maniere waarop ek kan reageer – waarvan die gewildste dalk dié selfkastyding is.  Hoekom kan ek nie by my besluite hou nie?  Hoekom moet ek altyd iets laat misluk.
ʼn Ander gewilde een is weer die swaar hoogmoed-las wat jy op jouself kom lê: Hoe kan God my tog weer ’n keer vergewe.
Waarskynlik het die Christene in die 4de eeu met dieselfde probleem opgeskeep gesit.
Jy sou verwag dat ’n belangrike kerkvader soos Benediktus sy gemeentelede behoorlik met die Woord sou bykom. Maar hy het nie.
In plaas daarvan dat hy oor sleg wees preek, klink sy woorde só:
“Dan begin ons maar weer….”

Die God wat ons so goed ken, is die God van oor begin.
Die God van nuwe kanse. Van weer en weer en weer.
Dít is sekerlik wat genade beteken.
Net soos hoop is genade ʼn geskenk
Net soos hoop is oor begin ook ʼn geskenk.

Geniet hierdie dag as God se geskenk.
Leef die dag met hoop. Te midde van die onsekerheid.
Dis God wat in beheer is.
En as jy sukkel … begin dan maar weer ʼn keer.

***

Oor die boek

“Daar behoort slegs een rede te wees waarom jy jou tot hierdie hartsreis verbind, en dit is omdat jy ’n behoefte aan geloofsverdieping het. Maar dit is nie bloot ’n behoefte nie; dit is meer diepgaande as dit. Dit is eintlik ‘n verterende begeerte,” sê dr. Ronell Bezuidenhout, skrywer van 40 dae tot hoop.

Die boek help lesers om ’n deurdagte pelgrim te wees deur te weet waar hulle vandaan kom en waarheen hulle op pad is. Met God as reisgids begelei die boek jou op jou hartsreis van ashoop tot hoop.

Vastyd is ’n pelgrimsreis van 40 dae wat altyd op ’n Woensdag begin (Aswoensdag) en op ’n Saterdag (Donkersaterdag/Stil Saterdag) eindig. Die boek fokus op ’n metaforiese pelgrimsreis wat by “ashoop” begin en 40 dae later by “hoop” eindig en vra die volgende vrae:

  • Hoe skud ’n mens jou “valse self” af?
  • Hoe laat jy emosionele bagasie agter?
  • Hoe leef ’n mens met hoop in ’n wêreld wat al minder hoopvol lyk?
  • Hoe word jy meer vrygewig?
  • Hoe daag jy ’n verbruikerskultuur uit?
  • Is dit moontlik om ’n vry, hoopvolle en gelukkige mens te wees?

Oor die skrywer

Dr. Ronell Bezuidenhout is predikant by die Fontainebleau Gemeenskapskerk in Randburg. Sy bied landwyd retraites aan wat veral op die inoefening van geloofsgewoontes fokus. Sy het bygedra tot verskeie publikasies en haar eie publikasies sluit in Was my lewe maar ’n somervakansie wat in1999 verskyn het en Woestynwysheid wat in 2014 uitgegee is.

Uitgewer: Lux Verbi
Prys: R230,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek en e-boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Frieda

Dankie dis baie bemoedigend!!