Boekvoorlesing: ‘Bloedsuier’

Leon van Nierop (Foto: Verskaf)

Deur Christa Steyn

“Ek het een dag saam met ʼn wildbewaarder na ʼn lodge gery toe hy skielik stop en my vra of ek weet watter insident dáár gebeur het,” vertel Leon van Nierop. “Hy het vir my die storie vertel en ek het in totale verslaenheid gesit en luister na wat hy sê.”

Van Nierop vertel dat hy uitgeklim het, na die spesifieke plek geloop het en op daardie oomblik self die trauma van die gebeure ervaar het. “Net daar het ek besluit dat ek nog ʼn storie gaan skryf,” sê hy.

Só het die verhaal van sy jongste roman, Bloedsuier, ʼn sielkundige riller, op daardie dag soos ʼn parasiet onder sy vel ingekruip. Dis op dié einste plek wat Van Nierop se verhaal sy klimaks bereik en lesers ook tot die einde gaan boei.

Van Nierop se karakters en die storielyn het hom maande lank geteister.

Jou gedagtes is soos parasiete op jou onderbewussyn. Jy moet net leer hoe om hulle te bestuur (bl.153).

“Die roman het my vir agtien maande lank geterroriseer,” vertel Van Nierop. “Soms moes ek die boek vir drie of vier weke los, want ek het agtergekom dat ek geweldig aggressief begin raak het.”

Hy vertel dat Wallflower, sy antagonis, veral ʼn negatiewe uitwerking op hom gehad het. “Ek het besef dat hy baie soos die hoofkarakter in Joker, die rolprent, is. Die karakter het my gedreineer, want ek het later sy woede begin voel,” vertel hy. “Ek het soos Wallflower geraak. Dit was moeilik om hom uit my uit te kry.”

Van Nierop erken dat dié boek hom toegelaat het om werklik te skryf wat hy voel.

“Ek word iemand anders wanneer ek skryf,” vertel Leon van Nierop, skrywer van Bloedsuier wat onlangs bekendgestel is. “Mense maak baie aannames oor my, maar daar is ʼn ander kant wat in my boeke bevry word.”

Danksy ander skryftake kon Van Nierop ʼn balans vind tussen die skryf van donker intriges in Bloedsuier en die gemoedelikheid van Hartebreker, ʼn sepie wat weeksoggende op RSG uitgesaai word. Hy het dikwels ook na rolprente gekyk om te ontsnap en die spanning te verlig.

Van Nierop vertel dat hy besluit het om hipnoterapie te inkorporeer nadat hy self onder hipnose geplaas is. Dié terapie ontsluit dit wat in jou onderbewussyn aangaan en maak dit moontlik om vergete herinnering te on-onthou, te verwerk en vrede met die situasie en jouself te maak.

As ʼn gedagte eers deur die onderbewuste aanvaar is, bly dit daar. Soms is daardie idee verkeerd of is die herinnering skeef, maar bly dit haak vas tot dit deur ʼn ander idee vervang word: die waarheid (bl.150).

Hoewel die boek in die onderwêreld van menslike gedagtes rondkrap, bied die verhaal ook romantiese en komiese oomblikke. Maryke, die protagonis, maak ʼn draai in Amsterdam waar sy werklik kan ontsnap van die werklikheid wat haar dreineer.

“Dit is belangrik vir lesers om te weet dat dié boek uiteindelik ook ʼn boodskap van hoop bring,” sê Van Nierop. “Dit gaan daaroor om vrede met jouself te maak en te leer om jouself lief te hê.”

Oor die verhaal

Toe Maryke, ’n jong hipnoterapeut, ’n kwak wat gehore kamma hipnotiseer probeer ontmasker, skud iets in haar onderbewuste los. Het dit te doen met die inbraak tydens haar matriekjaar? Wat is dit wat sy vergeet het?

Lukas probeer haar help. Hy is haar steunpilaar en mentor, en die man op wie sy verlief is. Ook hý moet veg om ’n greep op sy verlede te kry.

Maar die bedreiging is nie net in Maryke se kop nie: Vreemde briewe en onheilspellende geskenke maak dit duidelik dat iemand haar dophou. Iemand wat enigiets sal doen – miskien selfs sal moor – om seker te maak sy onthou.

Oor die outeur

Leon van Nierop (gebore 1953), die skrywer van meer as twintig romans, is ’n Suid-Afrikaanse skrywer, joernalis, aanbieder, akteur en filmkritikus, veral bekend vir die skep en skryf van talle radio- en televisiereekse, waaronder Ballade vir ‘n Enkeling, Stralerjakkers en Ratels.

  • Luister hier bo na ʼn voorlesing uit die boek Bloedsuier deur Leon van Nierop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae