Boekvoorlesing: Breins

Maar hy’t Klein-Willem gaan wegvat na die ding van die breins, want hy laat nie ʼn nefie van hom ʼn vark oppas nie. En die ding van die dikmelk was nie reg nie.

Oor die skrywer

Dr. PG du Plessis is in die Vrystaat gebore waar sy pa ʼn onderwyser was. Met ʼn amper obsessiewe belangstelling in die geskiedenis van sy medemens het Du Plessis hom verdiep in die lewens- en volksverhale van die Afrikaner. Hy het ongeveer nege dramas, sewe kortverhaalbundels, ʼn roman, agt draaiboeke en nagenoeg 100 televisie-dramatekste geskryf. Voeg daarby dat Du Plessis die aanbieder van meer as 300 geselsprogramme op televisie was. Hy word veral onthou vir die unieke mengsel van humor en melankolie in sy stories.

Oor die verteller

Johny Klein is ʼn gewilde verhoog- en radio-akteur in die Afrikaanse vermaakbedryf. Hy is veral bekend vir sy voorlesing van Ferdinand Deist se Sandveldstories op RSG en sy rol as Ricky October in die radiovervolgverhaal Plattelanders. Klein was ook in 2019 die aanbieder van Maroela Media se Aardklop-produksie, Kontreistories.

***

Hiermee ʼn uittreksel uit die kortverhaal “Breins” deur PG du Plessis wat in Spekskiet verskyn. 

Fred sê, hy was nie.

Jellie sê is, hy was, anders was hy dom.

Fred sê hy was nie dom nie en hy was ook nie dronk nie, en wat weet hy wat Jellie is van breins af. Hy’t self nie eens nie.

Ek vra Jannetjie wat nou aan die gang is van die breins, want ek was ʼn week weg met my maag en ek het die oggend ingekom vir ʼn Boegoe en Port. Vir my maag. Stop hom dood. Vreeslike maag aan my.

Jannetjie sê Piet Oosthys, Fred se neef agter die Pilansberg, het nou ʼn vark bygekry.

Ek sê hom ek eet nie varkbreins nie.

Hy sê dis nie dit nie, dis die dikmelk. En ʼn vark het harsings, nie breins soos ʼn mens nie.

Wat’s dit van die dikmelk? vra ek hom.

Vra Fred, sê hy.

Vra Fred, sê Jellie. Ha-ha. Breins. Ha-ha.

Gwaan, sê Fred en hy kry die stilstuipe.

Fred het ʼn Oosthys-neef agter die Pilansberg. Hy bly daar in ʼn Datsunbakkie rond met ʼn haelgeweer en ʼn hond. Die hond vreet derms en nou het hy ʼn vark bygekry.

Mangope se polisie soek hom, so hy versit elke dag of twee. Hulle soek hom oor hy geskiet het op die goed waarmee almal deesdae van die berg af vlie.

Ek vra Fred of die vark wat hy aanhou, saam versit.

Ja, sê Fred. Hulle is nou vier. Daar’s Piet Oosthys en sy broer, en dan die dermhond en die vark. Maar hy’t Klein-Willem gaan wegvat na die ding van die breins, want hy laat nie ʼn nefie van hom ʼn vark oppas nie. En die ding van die dikmelk was nie reg nie.

***

Spekskiet is deur Dineke Volschenk saamgestel en in 2008 deur Lapa Uitgewers uitgegee. Die verhaal het aanvanklik in 120+ Sommer-stories verskyn wat deur Lapa Uitgewers uitgegee is.

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing van “Breins” deur Johny Klein. Die voorlesing is in samewerking met Lapa Uitgewers moontlik gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.