Boekvoorlesing: Die Bergengel

“Om ʼn Bergengel te wees, is om alleen deur die ondergrondse gange van ʼn kapel te stap terwyl daar gesing word – jy hoor nie net die musiek en die stemme nie, jy hoor ook hoe dit eggo in die toekoms.”

In die land Gabriëllië het reeds 13 jaar verloop sedert daar enige teken van ’n Bergengel was en die jong mense glo byna nie meer in die bestaan van dié mitiese wese nie. Eron Verberger, seun van die klokmakersegpaar Gibor en Alida Verberger, word egter gedwing om met nuwe oë na fantasie en die werklikheid te kyk wanneer hy saam met sy pa op ’n reis vertrek wat alles wat hy van die lewe in Gabriëllië weet, sal omverwerp. Kan Eron die sinistere steltstapper afskud en die smeulende Vuurstorm oorleef? Sal hy ʼn mán kan word waarop sy pa trots is, of gaan die geheimhouding en skuld rondom sy pa hom uiteindelik vernietig? Meer nog: Sal Eron, terwyl hy die lewe met sy eie verstand en al honderd sy sintuie ontdek, heldersiende genoeg kan bly om nie die kleur van sy verbeelding te verloor nie?

Die Bergengel is ’n mistieke en allegoriese fantasieverhaal van grootword en groei wat tot volwasse, sowel as jong volwasse lesers sal spreek. Dit is ʼn poëtiese en byna gewyde kunswerk in ʼn literêre gedaante wat nog nie voorheen in Afrikaans teëgekom is nie.

Dit is die eerste boek in Stander se Bergengel-trilogie. Die Wonderwese is die tweede titel in die reeks en het in 2019 verskyn. Stander is tans besig om die laaste boek Die Waterplek te skryf.

Oor die skrywer

Carina Stander is in 1976 gebore en het op die plaas Bergfontein in die Waterberge van Limpopo grootgeword. Sy het ʼn honneursgraad in beeldende kunste aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy het daarna vir ’n paar jaar vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland gewerk. Stander het ʼn meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad met lof geslaag.

Haar twee digbundels en drie romans is elk bekendgestel met ʼn solo-uitstalling waarin sy haar skryfwerk visueel uitbeeld. Sy het ook ʼn kinderboek uitgegee waarin sy die opskrywer van haar kleuter se vertellings is.

Stander is ʼn reisjoernalis en rubriekskrywer vir ʼn tiental tydskrifte en koerante. Sy woon in Tsitsikamma saam met haar man en twee seuns.

Die voorlesing word in samewerking met die skrywer moontlik gemaak. Neem kennis dat die voorlesing nie in ʼn klankateljee opgeneem is nie, maar deur die skrywer self.

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing uit Die Bergengel deur Carina Stander.

Genre: Fiksie
Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R235,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Protea Boekhuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.