Boekvoorlesing: Gevleuelde bome

Lewies het gedink ons moet dit maak Swerm-Voëls-Vlieg-Met-ʼn-Boom-Weg-Fontein. Pa het ʼn ander naam gedink, en ek ook. Dis Ma wat gesê het die wilkers lyk te pragtig, ons noem dit Sewewilkerwerf.

Oor die verteller

Johny Klein is ʼn gewilde verhoog- en radio-akteur in die Afrikaanse vermaakbedryf.  Hy is veral bekend vir sy voorlesing van Ferdinand Deist se Sandveldstories op RSG en sy rol as Ricky October in die radiovervolgverhaal Plattelanders. Klein was ook in 2019 die aanbieder van Maroela Media se Aardklop-produksie, Kontreistories.

***

Hiermee ʼn uittreksel uit die kortverhaal “Gevleuelde bome” deur Tom Ackermann wat in Spekskiet verskyn. 

Dit is nou maar eenmaal so dat die waarheid partykeers vreemder is as ʼn lieg. As jy dit nie weet nie, sal jy seker ook sê ek lieg as ek jou vertel wat ek jou nou gaan vertel. Maar dan moet dit maar so wees, want waarheid bly waarheid al klink dit ook na  ʼn lieg.

Dit was ʼn hele paar jaar voordat Pa die plaas in die Perdeberg gekoop het. Ons het nog daar in die Knersvlakte op die plaas Droëfontein probeer boer, maar dit was nie plesier nie. Wárm, sê ek jou. En dróóg! Daar was darem so ʼn droë lopie wat af en toe water gewys het, maar ook maar min. Daar het so ʼn paar mooi wilkerbome gestaan. Maar dis ver van die werf af.

Dan het ons ook droëlandkoring gesaai. Reën was daar nooit om van te praat nie, maar ons het darem altyd genoeg koring geoes vir eie gebruik. Behalwe darie een jaar met die baie voëls. Hulle het ons omtrént toegesak. Toe kry Pa mos die plan.

Jy sien, op Droëfontein het daar net een boom op die werf gestaan. ʼn Peperboom. Kyk, Pa het os almelee baie gedink, en dit was sy dinkboom. Selfs in die bloedige son sal jy hom onder darie boom kry sit, kop onderstebo aan’t dinke. So kry ons toe die plaag met die voëls en nie hoe lank nie, toe’t Pa ʼn ding gedink.

***

Spekskiet is deur Dineke Volschenk saamgestel en in 2008 deur Lapa Uitgewers uitgegee. 

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing van “Gevleuelde bome” deur Johny Klein. Die voorlesing is in samewerking met Lapa Uitgewers moontlik gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.