Boekvoorlesing: Nog ʼn eier te lê

Ons het al darie skarniertjies versigtig ge-olie en daarna bring Kaploeksie elke Vrydag haar kuikens werf toe om ge-olie te word.

Oor die verteller

Johny Klein is ʼn gewilde verhoog- en radio-akteur in die Afrikaanse vermaakbedryf.  Hy is veral bekend vir sy voorlesing van Ferdinand Deist se Sandveldstories op RSG en sy rol as Ricky October in die radiovervolgverhaal Plattelanders. Klein was ook in 2019 die aanbieder van Maroela Media se Aardklop-produksie, Kontreistories.

***

Hiermee ʼn uittreksel uit die kortverhaal “Nog ʼn eier te lê” deur Tom Ackermann wat in Spekskiet verskyn. 

Om ʼn ding te vertel, is nie sommer net nie. Mense kom jou maklik staan dik lieg, maar nou kan jy mos nie sommer ʼn anner ou se lieg staan en oorlieg nie. Nee, jy moet jou eie waarheid spreek. Daar’s nie anner manier nie. Ek meen; vat nou maar darie kuiken van ons. Ek het haar met my eie oë gesien, in my eie hande vasgehou en haar persoonlik self gedokter soos oorle Pa beduie het en al daai dergelike dinge. Maar wanneer ek daarvan vertel, kan ek sien die kindertjies luister aandagtig. Nou sal jy weet ek spreek waar, want mens lieg nie vir kindertjies nie.

Sommer van piepklein af was die kuiken anners. Jy kon dadelik sien sy’t ʼn houding. En as groot hen was dit nog so, en met reg, want sy was nie sommer hierjy se hoender nie. Pa het dit ook gesien en gewaardeer, en toe dit nou tyd kom dat sy moet begin lê, het hy haar fyn dopgehou en annerste begin behandel.

Die eerste ding wat Pa opgelet het, is dat hierdie hennetjie annerste lê. Anner henne kan vir ure op die nes sit voor die eier daar is, en dan staan hulle op en begin kekkel sonder om te weet waaroor. Maar nie hierdie hennetjie nie. Nee, as haar tyd kom, stap sy nes toe, gaan sit, en lê sommer so kaploeks ʼn eier. Dan staan sy op en kyk eers of die eier die moeite werd is om voor te kekkel, en dan kekkel sy. En dis ook sommer waar sy die naam gekry het: Kaploeksie, oorlat sy ʼn eier sommer so kaploeks kon lê.

***

Spekskiet is deur Dineke Volschenk saamgestel en in 2008 deur Lapa Uitgewers uitgegee. 

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing van “Nog ʼn eier te lê” deur Johny Klein. Die voorlesing is in samewerking met Lapa Uitgewers moontlik gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.