Boekvoorlesing: Ondier

Ondier bied ʼn blik op die donker psige van ’n seksuele kannibaal. Die hulp van die forensiese profileerder, dr. Olaf Demeyer, word ingeroep toe voetslaners aan die voet van Bosberg op die naakte lyk van ’n vrou afkom. Sy is vasgemaak teen ’n jong bloekom. Verskeie meswonde ontsier haar liggaam. Maar Olaf sien nie kans nie. Hy het sy praktyk gesluit, want, het hy gedink, “Ek is oor die muur. Ek het vir te lank te veel oor hierdie soort afgronde van mense gehang om te probeer help. Toe my eie dogter deur ’n reeksmoordenaar ontvoer word, het ek oor my eie afgrond gedonder. Tot onder in die hel. Nooit weer nie. Ek kan nie meer nie. Ek het genoeg gehad.”

Maar so maklik is dit nie om sy rug op hierdie trauma te draai nie. Die slagoffer teen die bloekom is kaptein Jasmyn Oktober, die vrou vir wie hy lief geword het. Sy het uit sy lewe gestap toe sy agterkom sy verwag sy kind.

Cor is nou twee maande oud en hy ly aan ’n ernstige hartdefek. Cor moet dringend in die Kaap kom vir ’n operasie, maar hy het verdwyn. Hy word vermoedelik deur sy ma se moordenaar aangehou. Sy uurglas is besig om leeg te loop.

“Jy het jou dogter se lewe gered,” soebat adjudant Jordaan van Somerset-Oos vir Olaf. “Kom help ons nou om jou babaseun ook te red.”

Oor die skrywer

Jan Vermeulen is in Bethanie in die suide van Namibië gebore. Op 14 is sy eerste kortverhaal in die destydse jeugtydskrif Patrys gepubliseer. Hy het ʼn BA-graad met Hebreeus en Filosofie as hoofvakke aan die Universiteit van Port Elizabeth behaal. Vermeulen het later sy Teologiese Lisensiaat aan die Universiteit van Stellenbosch en ’n kursus in kreatiewe skryfkuns aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Port Elizabeth behaal. Sy debuutroman, Die laaste dans, is in 1998 deur Queillerie uitgegee. In 2000 het sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie, verskyn. Dié boek is met die Sanlamprys (goud), die MER-prys, die Scheepersprys en ʼn ATKV-Kinderboektoekenning bekroon. Vermeulen se kortverhaal “In ma se stoof” het in 2006 in die kortverhaalbundel Van spoke gepraat verskyn. Vermeulen en sy vrou, Diana, woon in die Oos-Kaap.

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing uit die boek Ondier deur Jan Vermeulen. Die voorlesing word in samewerking met die skrywer en uitgewer moontlik gemaak. Neem kennis dat die voorlesing nie in ʼn klankateljee opgeneem is nie, maar deur die skrywer self.

Genre: Spanningsfiksie
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R300,00*

*Pryse onderworpe aan verandering
Koop die boek en e-boek by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.