Het jy drie en ʼn half minute? Kry die jongspan en skuif dan sommer gou nader om te luister na Mila Guy se voorlesing van die storie Oupa sê so uit WO Kühne se bundel van die klassieke Huppelkind-verhale.
Daar is in die Afrikaanse kinderlektuur al aan WO Kühne se Huppel-verhale dieselfde waarde toegedig as wat Christopher Robin van AA Milne in die Britse kinderletterkunde het. Kühne was die eerste ontvanger van die CP Hoogenhout-toekenning vir Huppel verjaar in 1960.
Die skrywer se geliefde karakters soos die Slaapkouse, die Nuuskierige Agies en die Boekwurms, wat altyd moet help dat Storieman sy storie vertel in Wip-Huppel-Wip is nou in een pragtige bundel vervat. In die storie Vrolike Huppelkind besoek hy saam met Fiefman die Land van Wol en Hare, en wanneer Huppel verjaar, kry hy ʼn regte koekoek in ʼn klok!
Die kleurvolle, komiese karakters en die vrolike Huppel, te same met Dororthy Hill se bekoorlike illustrasies, sal sommer gou weer kinders se harte in 2018 steel.
Die boekvoorlesing is moontlik gemaak deur NB-uitgewers.
Uitgewers: Tafelberg
Prys: R245*
*Prys onderworpe aan verandering