Boekvoorlesing: Sidestep tussen duine

Sowaar as wat kameeldinges net dour staat en briek aanslaan. Toe ek omkyk, sien ek lat die haaie besig is om nader te kom.

Hiermee ʼn uittreksel uit die kortverhaal “Sidestep tussen duine” deur Thomas Deacon wat in Spekskiet verskyn.

Staan ek en Boetieman Boudjies na skouperde en kyk toe oom Kassie Lekkerlieg daar aankom.

“Môre, Oom,” groet ons.

“Môre,” sê hy en lig hoed. “Mooi diere, nè.”

“Móói, oom Kassie.”

“Nie so mooi soos myne nie,” sê hy en lig weer hoed.

Boetieman kyk na my en ek lees die boodskap in sy oë: ons moet skededdel. Ek kry die boodskap. En ons maak aanstaltes om te loop.

“Nie so haastig nie, mannetjies,” sê oom Kassie. “Hoor eers gou hierdie storie…”

“Hier kom dit,” fluister ek vir Boetieman.

“Dieselfde liegstorie van laasweek,” fluister hy terug.

“Ek het mos gesê: nie so haastig nie,” en hy beduie met die kierie in ons rigting. “Hierdie diere is niks in vergelyking met my perdekameel van destyds nie.”

“Perdekameel, Oom?” vra Boetieman kamtag verbaas. Want ons wéét mos: hier kom dit wéér…

“Net wat ek sê. ʼn Ratse ryding was daai dier van my; sekuur gekruis tussen ʼn renperd en ʼn uithaler kameel. Een van daai kamele wat vroejare deur die poelieste in die kelehêrie gery is. So ʼn effense duiking op sy rug, net solat ʼn saal gans en al onnodig was. Want sien, daai duiking was so sag soos dons, sagter en gemakliker as die lekkerste lêding. En rats op sy voete, daai kameeldinges van my. As hy eers aan’t hol was, kon niks of niemand hom keer nie. Glads ʼn diploma van anderkant die waters gekry, net oorlat ek so ʼn goeie inteler was. Nogal geteken deur die president van daai land self. Veilig in die bank weggebêre, omrede dit miskien gesteel mag worre. Waardevol, seg ek vir julle, wáárdevol….”

***

Meer oor die verteller

Johny Klein is ʼn gewilde verhoog- en radio-akteur in die Afrikaanse vermaakbedryf. Hy is veral bekend vir sy voorlesing van Ferdinand Deist se Sandveldstories op RSG en sy rol as Ricky October in die radiovervolgverhaal Plattelanders. Klein was ook in 2019 die aanbieder van Maroela Media se Aardklop-produksie Kontreistories.

Meer oor die skrywer

Thomas Deacon is ʼn bekende Afrikaanse digter en skrywer. Heelwat van sy skryfwerk handel oor, of is in Griekwa-Afrikaans geskryf. Deacon is op Upington in die Noord-Kaap gebore. Sy verhale word in versamelbundels opgeneem, waaronder Uit die kontreie vandaan, onder redaksie van Abraham H de Vries en Die ding in die riete wat deur Jean Lombard saamgestel is. Van Deacon se verhale het ook in Rapport-tydskrif verskyn.

Spekskiet is deur Dineke Volschenk saamgestel en in 2008 deur Lapa Uitgewers uitgegee. Die verhaal het voorheen in Rapport-tydskrif verskyn.

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing van Thomas Deacon se “Sidestep tussen duine” deur Johny Klein. Die voorlesing is in samewerking met Lapa Uitgewers moontlik gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae