Boekvoorlesing: Soesji en Shosholoza

Erns Grundling (Foto: Verskaf)

“Ek dink Japan is vir die meeste Suid-Afrikaners ʼn onbekende,” meen Erns Grundling, skrywer van Soesji en Shosholoza. “Maar dit is ʼn bestemming wat jou lewe kan verander en jou met nuwe oë laat kyk na die mense om jou, na jouself en die lewe.”

Ná die sukses van sy eerste Elders-reeks wat vroeër vanjaar op kykNET uitgesaai is, het Grundling besluit om iets buite sy gemaksone aan te pak. Daarom het hy besluit om na ʼn land te reis waar hy nog nie was nie.

“Ek het nie besef wat my gaan inwag toe ek daar aanland nie,” vertel hy. “Dit was ʼn vreemde, fassinerende, vriendelike, én intense plek.”

Grundling het vroeër aan Maroela Media vertel dat hy graag Japan om verskeie redes wou besoek. Eerstens vir die ryk kultuur, maar ook oor die twee internasionale sportgeleenthede wat daar plaasvind. Die Rugbywêreldbeker het so pas geëindig en volgende jaar word die Olimpiese Spele ook daar aangebied.

“Die boek bevat ʼn hele klomp aspekte wat nie in die reeks gewys is nie,” vertel hy. Grundling voeg by dat hy die gedagte om ʼn boek te skryf vooraf met sy uitgewers bespreek het. Kykers wat die reeks gevolg het, kan dus ʼn hele paar verrassings in die boek te wagte wees.

“In ʼn groot mate is skryf my eerste liefde. Maar dit is iets wat vir my baie moeilik is.” Grundling ervaar egter die skryfproses as ʼn groot uitdaging. Hy beskou Soesji en Shosholoza in baie opsigte as ʼn groter uitdaging om te skryf as Elders, sy eerste boek.

“Ek skryf nie vinnig nie. Ek het ʼn klap van perfeksionisme weg waaraan ek self nog baie moet werk. Dis daaglikse toewyding en ʼn lewenstaak.”

Nietemin was Grundling se Japan-ervaring een met vele hoogtepunte. Hy moedig Suid-Afrikaners aan om dié land te besoek.

“Stel jouself oop vir die wonderlike potensiaal wat die sogenaamde vreemdheid van ʼn ander kultuur in jou kan oopmaak en ontsluit.”

  • Luister hier bo na ʼn voorlesing uit die boek Soesji en Shosholoza deur Erns Grundling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.