Boekvoorlesing: Storie met ’n angel

Maar soos wat ek dour lê en winde sluk van benoudigheid, merk ek lat daai muskiete besig is om ʼn aanval te loods. Steek dwarsdeur daai sementpyp. Sien net angelpunte orals oor.

Meer oor die verteller

Johny Klein is ʼn gewilde verhoog-en-radio-akteur in die Afrikaanse vermaakbedryf. Hy is veral bekend vir sy voorlesing van Ferdinand Deist se Sandveldstories op RSG en sy rol as Ricky October in die radiovervolgverhaal Plattelanders. Klein was ook in 2019 die aanbieder van Maroela Media se Aardklop-produksie, Kontreistories.

***

Hiermee ʼn uittreksel uit die kortverhaal “Storie met ʼn angel” deur Thomas Deacon wat in Spekskiet verskyn.

Willempie Donskop klap in die rigting van ʼn spul lastige muskiete wat tot vervelens toe om sy kop bly draai. “Hiert, sulke swerkaters! Die goete is rêrig ʼn verpesting hierdie tyd van die jaar. Seker aangehelp deur die onverwagte reëntjie wat pasede week in die Kamies geval het.”

“Geval het, ja,” beaam oompie Hoepel Petoors.

Willempie gaan voort: “Die goete het laasnag net so gepla. Vroeg vanmôre toe ek wakker word, sit twee van die menere mos netjies op my aaidieboek en baklei oor my bloedgroep.”

“Bloegroep, ja”, beaam Oompie. “Maar hierdie einste plaag laat my dink aan die jare dertig toe ek nog transport gery het dour in Upington se wêreld. Daai jaar het die reëns gevál, neef. En so sukkel ek en Jacob, donkietjie, een so ʼn reëndag met die modderpad langes dour die Groblershoop verby op pad Prieska toe. Maar die reën vál, neef; handvêr is die naaste wat jy kon sien.”

Willempie grinnik. “Maar Oompie en Jacob kruie aan? Ek meen te sê, modder of te nôt.”

“Te nôt, ja. Maar laters van tyd beginne dinge te veel word vir jou oompie. Kon nie veel langer so sonder rigting voortploeter nie. En so loop Jacob hom amper te pletter teen een van dourie groot sementpype wat onder deur die pad gelê word. Seker deur padwerkers dour neergesit om laters gebruik te worre. En ek dink: aha! Hier’s nou vir jou ʼn eersteklas rusplek! Daar en dan gespe ek my bondeltjie van Jacob se rug af en los en sukkel-kruip tot in die diepte van daai pyp. En so lê ek en luister na die gedruis van die reën, totlat die vaak my beginne bekruip en ek al dieper in droomland wegdommel.”

***

Spekskiet is deur Dineke Volschenk saamgestel en in 2008 deur Lapa Uitgewers uitgegee. Die verhaal het voorheen in Rapport-tydskrif verskyn.

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing van “Storie met ʼn angel” deur Johny Klein. Die voorlesing is in samewerking met Lapa Uitgewers moontlik gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.