Boekwurm-app: Verslind treffers in 15 minute

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Sou jy ʼn verkorte weergawe van jou gunstelingboek wil lees? Wat van ʼn verkorte weergawe van iets soos die selfhelp-topverkoper The Miracle Morning van Hal Elrod of ʼn wetenskaplike boek soos A Brief History of Time?

‘n Nuwe app wat in die Verenigde Koninkryk bekendgestel is, Joosr, gee vir gebruikers toegang tot boeke wat in net 20 minute gelees kan word. Hierdie app het meer as 100 niefiksieboeke in ʼn drasties verkorte formaat beskikbaar gestel vir inskrywers. Joosr is slegs beskikbaar vir toestelle wat met iOS werk, maar daar is ʼn Android-vriendelike weergawe, Blinkist (meer as 1 000 boeke wat in 15 minute gelees kan word).

Volgens The Guardian was die beknopte weergawe van Stephen Hawking se boek beslis eenvoudiger, met geen sprake van string theory of die filosofiese agtergrond van wetenskaplike ontdekkings, soos in die oorspronklike weergawe nie. Dit is egter nie oorvereenvoudig nie en is steeds vol fisika en interessante feite. Uit ʼn wetenskaplike oogpunt is die 15-minute-opsomming byvoorbeeld meer insiggewend as die 123-minute-film oor Hawking, The Theory of Everything.

Om fiksieboeke so op te som sal waarskynlik nie werk nie, omdat soveel van die skrywer se “stem” verlore gaan; verbeel jou iets soos Kringe in ʼn Bos in slegs 20 minute! Reader’s Digest publiseer sedert 1950 verkorte weergawes van gewilde boeke en het verlede jaar ʼn ooreenkoms onderteken om dit beskikbaar te stel as e-boeke en slapbandboeke, saam met hulle gewone hardeband-weergawes.

Maar tel dit nog as léés?

Dit is maklik om te vergeet dat die keuse vir baie mense nie tussen dié outeur of dáái outeur is nie, maar tussen om te lees of om nie te lees nie. Die lewe is besig en deurmekaar, jongmense kyk dalk eerder die jongste episode van Game of Thrones en volgens Joosr se navorsing kla ses uit tien mense dat hulle nie meer so baie lees soos wat hulle sou wou nie. Boonop is dit nie vir almal bekostigbaar om elke week die splinternuwe topverkoper in die boekwinkel te gaan koop nie.

Faktore soos geletterdheid moet ook in ag geneem word. Volgens ʼn studie wat in Mei bekendgemaak is, het navorsers aan die Universiteit Stellenbosch bevind dat 58% deelnemers aan ʼn nasionale graad 4-steekproef nie met begrip kan lees nie, terwyl 29% heeltemal ongeletterd is. Kan ons bekostig om neer te sien op mense wat nie die “regte tipe” boek lees nie?

Dalk moet ons dit oorweeg dat daar ander maniere is om inligting in te neem as om ure lank fronsend na ʼn leergebonde volume te staar. En kom ons wees eerlik: daar is dalk ʼn paar skrywers (en boeke) wat net kan baat by ʼn verkorte weergawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sann ·

Dis soos om ‘n swart en wit fotostaat van ‘n oorspronklike skildery te maak, en dit dan teen jou muur te hang…! Ek lees beslis nie net ‘n boek om te “weet” nie, ek hou van die hele ervaring. Ek hoop ons skrywers verloor nie heeltemal moed met hierdie mikrogolfoond – generasie nie.

keuses ·

Eboek dit nie wonderlik gewerk MAAR DIÉ glo dit sal geld en tyd spaar so dit sal vir die wat tot met kos geen ander opsie het.. Daardie mikrogolf werk BOEKbeskuit is aanpasbaar getransformeer tog smaaklik vinnig en kragbesparend.

M A ·

Ag ekskuus tog, maar as n mens n boekwurm is, wil jy beslis nie n boek in 20 minute lees nie. Dis miskien nuttig vir mense wat nie van lees hou nie maar wat ook nou nie heeltemal oningelig wil voorkom nie.

Nico K ·

Die artikel het juis nie van storieboeke gepraat nie, maar ek self hou nie van lang uitgerekte stories nie en is lief vir kortverhale. Ja, baie skrywers se boeke kan verkort word. Veral ou klassieke skrywers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.