Boer sonder hande skryf boek oor Grensoorlog

Duncan Mattushek ontvang sy eenheid se kentekens, ʼn geskenk van oud-kanonniers in Durban. (Foto: Verskaf)

Deur Jan Bezuidenhout

Dié boek oor die Grensoorlog sal jou ruk: Op 20-jarige leeftyd is Duncan Mattushek se linkerarm en regterhand in ʼn landmynontploffing in Angola só verbrand dat chirurge dit moes amputeer. Weens die brandwonde oor sy lyf het ʼn narkotiseur hom slegs ʼn 2%-kans gegee om te leef.

Duncan het egter vasgebyt en sy kompas ingestel om voluit te leef. In sy boek getiteld, Load, aim… fire! beskryf hy hoe drasties dié landmynontploffing sy lewe verander het. Dit is ʼn intense en ontstellende vertelling, met bydraes van sy Weermag-makkers wat saam op patrollie was en die medici, familie en vriende wat hom bygestaan en versorg het tydens sy hersteltyd van nege maande in 1 Militêre Hospitaal in Pretoria.

Duncan is nou 68 jaar oud en die boek skets sy lewe vóór, tydens en ná die landmyn, tot nou, in sy aftreejare saam met sy vrou Irene op die dorp Darfield, sowat 50 km wes van Christchurch, Nieu-Seeland. Soos talle van ons tik hy met twee vingers, maar dis met twee metaalvingers aan elke hand van sy prosteses. Maar kla? Nooit. Hy het selfs ʼn swart gordel in karate verwerf.

Terug na die landmyn-ontploffing: Hy was ʼn artillerie-instrukteur by 4 Veldregiment in sy tweede dienspligjaar toe ʼn Unimog tydens Operasie Karen 2, wat deel was van Operasie Savannah, in 1975 die landmyn naby Luiana in Suidoos-Angola afgetrap het.

Duncan het reg bokant die Unimog se dieseltenk gesit toe die myn ontplof. Die diesel het oor hom gespat en vlam gevat nadat die ammunisie op die voertuig ontvlam het. Hy was bewusteloos in die brandende wrak toe ʼn makker, Frikkie Bester, deur die vlamme gebeur en hom uitgesleep het.

Frikkie se hande het kwaai verbrand en Duncan het veelvuldige brandwonde opgedoen. Sy vriend en pelotonbevelvoerder, lt. Chris Robin, was erg beseer, sy ledemate verwronge en sy bolyf is erg verbrand.

Net ná die ontploffing het die Weermag-dissipline ingeskop: Lt. André Brand het rondomverdediging beveel en sy bes probeer om lt. Robin se lewe te red. Hy het egter binne 15 minute gesterf.

Die radio was verwoes en lt. Brand het die Hippo-voertuig, wat saam op patrollie was, na die basis teruggestuur om hulp te ontbied. Die 27 oorblywende soldate het net vyf werkende gewere en min ammunisie oorgehad.

Die voorblad van die boek. (Foto: Verskaf)

Die ontploffing was op 13 November 1975 om 16:45. Duncan is onder ʼn boom geplaas totdat twee Alouette-helikopters hom en die ander gewondes eers die volgende oggend om 07:00 uit Angola kon afvoer. Hy was binne 23 uur by 1 Militêre Hospitaal in Pretoria.

Pas nadat die twee helikopters vertrek het, het sowat 40 PLAN-insurgente ʼn aanval op die ongelukstoneel geloods. Lt. Brand het sy troepe beveel om in tweemangroepies suidwaarts te beweeg terwyl hy, Christo Retief en Adam Schonfeldt en dié se spoorsnyhond Rinty, agtergebly het om dekkingsvuur te verskaf.

Na die PLAN-aanval het lt. Brand na Christo en Adam gaan soek. Hy het al twee en Rinty by mekaar gevind, noodlottig gewond. Brand het die dag en daardie nag by die gesneuwelde makkers gewaak om wilde diere weg te keer. Twee Alouette-helikopters het hulle die volgende dag afgevoer.

ʼn Deel van die boek is beskrywings van Duncan se verblyf in 1 Mil. Dit sluit in die narkotiseur se erg ontstellende vertelling van die toestand waarin Duncan na die hospitaal gebring is. Van die teatersusters het aan die huil gegaan toe Duncan die teater ingestoot is.

Die eerste drup is in sy voet geplaas, bloed is oorgetap en toe is narkose deur ʼn slagaar onder die sleutelbeen toegedien. Hy was só erg verbrand dat hy daarna in ʼn bad geplaas en met warm water afgespuit is om van die gebrande vel af te skuur. Die narkotiseur se vertelling van die amputasies skok.In daardie stadium was inligting oor Operasie Savannah dig gehou. Gewonde en verminkte soldate is in ʼn afgesonderde deel van die hospitaal opgeneem. Duncan skryf dat die lyding van nuut-gewonde soldate daar soms só erg was dat hy hul pynkrete nie kon verduur nie, maar dat hy nie eers vingers gehad het om in sy ore te druk nie.

Miskien wonder jy ook: Hoe de hel krap jy die gejeuk oor jou hele lyf waar talle veloorplantings op brandwonde uitgevoer is, hoe borsel jy jou tande en gaan toilet toe as jy nie hande het nie?

Dan, met ʼn wrang grynslag lees jy hoe Duncan se ma vir PW Botha trompop geloop het toe hy, as minister van verdediging, gewonde soldate in 1 Militêre Hospitaal besoek het.

Ná die hospitaal het Duncan in 1979 ʼn tweejaar-landboudiploma aan die Landboukollege Cedara verwerf. Hy en Irene, ʼn skoolvriendin, is in 1980 getroud en het ʼn seun en ʼn dogter. Duncan het op verskeie plase in Suid-Afrika gewerk voordat die gesin in 1991 Nieu-Seeland toe geëmigreer het waar hy ʼn pos as ʼn bestuurder in ʼn melkbeesboerdery beklee het.

Duncan in sy werksklere, saam met Tip, sy skaaphond. (Foto: Verskaf)

In die voorwoord skryf Irene: “All Duncan has ever wanted is to lead a normal life. To be a good husband, father, son, brother, farmer and friend. To be a good man. He climbs his own Everest every single day with purpose and tenacity. He never complains, and is seldom down and is endlessly optimistic about the adventure that is his life.

ʼn Mens se gedagtes gaan uit na die talle oud-weermaglede, ook met geskende of afwesige liggaamsdele, geestelike letsels en kop-verwarrings wat hul wil pootjie, verlam of laat moed opgee as hulle hul eie bergpieke uitstrompel. Tóg bly hulle vasbyt, soos van ouds. Niemand van die SAW het Duncan ooit ná sy ontslag gekontak om na sy welstand te verneem nie.

Deesdae gaan dit goed met die Mattusheks in Nieu-Seeland. Met veel humor skryf hy hoe mense hom soms aanstaar. Op toer in China het ʼn man hom letterlik disnis teen ʼn paal vasgeloop soos wat hy hom aan Duncan vergaap het. Hy was so uit soos ʼn kers!

Eendag het ʼn brander sy swembroek afgeruk en Irene moes kom red, want sy hande was op die strand. Op ʼn keer het Irene met ʼn nuwe stel prostese uit Suid-Afrika na Nieu-Seeland gevlieg, en op ʼn lughawe het die arms op die sekuriteitbeampte se skandeerder vertoon. Hy het ewe gevra wat dit is. Sy het geantwoord dat dit haar man se arms is. Waarop die beampte toe vra: “En waar is die res van jou man?”.

Aan die einde van die boek besef jy dat hierdie besonderse mens nie verwyte toon oor wat met hom gebeur het nie, maar hy wonder hoekom dapper soldate wat in doodsgevaarlike situasies opgetree het, sonder om aan hul eie veiligheid te dink, nooit erkenning ontvang het nie.

Duncan is tans die voorsitter van die Canterbury-tak van die Suid-Afrikaanse Militêre Veterane-organisasie in Nieu-Seeland en Australië.

Bestel die boek van 144 bladsye, met kleurfoto’s, by [email protected]. Dit kos R250 plus R100 vir aflewering via PostNet. Die opbrengs van die boek gaan aan die Vereniging vir Kanonniers.

Duncan is voorsitter van die Canterbury-tak van die Suid-Afrikaanse Militêre Veterane-organisasie in Nieu-Seeland en Australië. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Ja, was alles werklik nodig? Ons het later ons vryheid verloor. Maak mens bitter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.