Boerekinders en Mausers op die voorgrond in ‘500 Myl’

Phillip C Henn, skrywer van ‘500 Myl’ (Foto: Verskaf)

Die aantreklike sepiehartebreker Phillip C Henn, wat destyds die rol van Johann Vorster in Egoli gespeel het, het onlangs self sy debuutroman, 500 Myl, uitgegee.

Kykers sal ook vir Henn as die plastiese chirurg dr. Chris van Deventer onthou, wat van 2005 tot 2009 in Binnelanders op kykNet te sien was, en wat in 2018 die rol van Eben Swanepoel, Bianca se pa, in Suidooster gespeel het.

Henn het tydens ʼn Zoom-onderhoud met Maroela Media vertel hoe sy dienspligervaring hom gehelp het om 500 Myl te skryf. Hy verklap meer oor sy karakters en verduidelik waarom dié verhaal by oud en jonk sal aanklank vind.

500 Myl is die aangrypende verhaal van sewe taai boerekinders tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Dit begin een wintersnag skuins anderkant Brandfort met ʼn handjievol Penkoppe wat besluit om te vlug: Lukas Malan, Wit Willem Marx, Neef, die wille wragtags Piet Ver Skiet Visagie en Kleinjan Tromp, en die twee jongetjies, Sybrandt Geldenhuys en sy tienjarige maatjie, Louwtjie Wessels.

Nie een van hulle sou daardie bittere koue nag in 1901 ooit kon dink watter invloed ʼn brawe jong plaasmeisie, Sanna de Jager, later op hul lewe sou hê nie.

Dié verhaal, wat eers ʼn kortfliekprojek sou wees, is nou in ʼn boek vrygestel en word binnekort ook as ʼn rolprent op die silwerdoek aangebied. Dit het ongeveer 10 jaar gelede ontstaan en is een van Henn se belangrikste projekte nóg.

‘n Voorstelling van die karakter ‘Wit Willem’ in ‘500 Myl’ (Foto: Phillip C Henn)

“Omdat ek die boek self uitgegee het, word al my tyd daarin geploeg,” vertel hy. Elke boek word in borrelplastiek verpak en dan versend. Vir Henn is dit van sleutelbelang om deurgaans na sy handelsmerk om te sien en dit te vestig sodat hy later dele van die projek aan ander partye kan toevertrou.

“Ek wil die gehalte van 500 Myl se handelsmerk deurtrek totdat die fliek volgende jaar geskiet word. Daar moet ʼn konstante vlak van vaardigheid, toewyding en liefde in die projek gehandhaaf word.” Hy is reeds besig om kinderakteurs te werf en moontlike liggings in die Karoo te identifiseer waar die rolprent later verfilm sal word.

Henn onthou dat foto’s van jong seuns met Mausers tydens die oorlog telkens ʼn invloed op hom gehad het. Dit het hom laat wonder oor die onvertelde stories van vegters. Boonop het mense se wanindruk van die oorlog, dat dit grootliks oor vroue en kinders in konsentrasiekampe gaan, hom gehinder.

“Die oomblik wanneer mense so gereageer het, het daar vir my ʼn waarskuwingslig geflikker,” sê hy. “Ek het besef daar is ʼn leemte oor die stories van mans, die vegters en meer spesifiek die Penkoppe.”

Henn het self in die vroeë 1980’s diensplig gedoen. Hy erken dat sy storie ongetwyfeld bygedra het tot die verhaal wat in 500 Myl vertel word.

‘n Voorstelling van die karakter ‘Wit Willem’ in ‘500 Myl’ (Foto: Phillip C Henn)

“Baie van dit wat ek tydens diensplig en op die grens geleer het, het ek in die boek toegepas. Ek het ook ʼn hele paar generaals en mense in die nasionale intelligensie geraadpleeg.” Henn het ure aan gesprekke met mense gewy wat op verskillende maniere by die oorlog betrokke was. Sy doel was om ʼn storie te skep wat eg en waar is.

Die karakters is universeel en ʼn wye gehoor sal hom met hulle kan identifiseer, vertel Henn. Hy meen ouer generasies sal hulle met gebeure kan vereenselwig, terwyl jonger lesers dit op ʼn heel ander manier sal interpreteer.

Henn spreek sy kommer oor jong mense uit. Dit is veral hul afhanklikheid van slimfone en die feit dat daar te min gelees word, wat hom bekommer.

“Ek wil jong lesers aanmoedig om die boek te lees,” sê hy. “Sit jou slimfoon vir 10 minute weg en vergeet vir ʼn oomblik van dit wat ander mense van jou op sosiale media sê of dink.

“Vra jouself af waar jy vandaan kom, waarheen jy op pad is en moenie dat ander mense jou onderskat nie.”

Maroela Media het vroeër berig dat Henn se debuutroman, 500 Myl, in Desember privaat uitgereik is. Die boek kan by www.500myl.com bestel word. R30 van elke boek word aan Helpende Hand geskenk.

  • Phillip C Henn het tydens ʼn Zoom-onderhoud met Maroela Media vertel hoe sy dienspligervaring hom gehelp het om sy debuutroman, 500 Myl, te skryf. Hy verklap meer oor sy karakters en verduidelik waarom dié verhaal by oud en jonk sal aanklank vind. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.
  • Henn het sowat agt jaar gelede die foto’s in die Moordenaarskaroo, naby Laingsburg in die Wes-Kaap, geneem om ‘n fotografiese gevoel van die storie, landskap en die karakters te skep. Henn gebruik dié foto’s ter voorbereiding van die rolprent wat binnekort geskiet word.

‘n Voorstelling van die karakter ‘Sanna de Jager’ in ‘500 Myl’ (Foto: Phillip C Henn)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.