Boervroue, plaasaanvalle in dié verhaal bekyk

plaashek-pexels

(Argieffoto: Pexels)

Vir die soveelste keer trek ʼn opskrif van nóg ʼn boer en sy gesin wat op hul plaas oorval, aangerand of vermoor is haar aandag.

“Al wéér ʼn plaasaanval!” het Louise Viljoen kopskuddend gedink en omgeblaai.

ʼn Kettingwinkelgroep se advertensie het kleurvol op die volgende bladsy met allerlei winskopies en spesiale aanbiedinge gepronk. Dié keer het Louise nie vinnig verder geblaai nie.

‘Brood van die lewe’

“Hoe kon ek net aanhou lees? Die gedagte daaraan dat ʼn boer sy lewe op ʼn ondenkbare wyse verloor het en sy gesin wreed in hul plaashuis aangeval is waar hulle veronderstel was om veilig te wees, het my in daardie oomblik totaal onthuts,” vertel Viljoen in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Hierdie oomblik – en spesifiek die nuusberig – het lank daarna nog in Viljoen se agterkop bly talm. Dit het later ook gelei tot haar kortverhaal, getiteld “Brood van die lewe”, wat onlangs op LitNet verskyn het en deur Johan Allers vir AllesAfrikaans voorgelees is.

Die verhaal word aan elke boer, sy vrou en gesin, asook die plaaswerkers opgedra wat al ʼn plaasaanval oorleef het of heeltyd een te wagte is, verduidelik Viljoen.

Sy voeg by: “Dit is spesifiek vir die dapper boervroue van ons land.”

Argieffoto (Foto: Skyler Ewing/Pexels)

Hulle is brawe vroue wat soos brooddeeg tydens die knieproses onder gebalde vuiste deurgeloop en deur vuur gegaan het om eindelik lewegewende brood te word.

Vroue wat deur hul trauma werk, wat weier om op te gee, en wat aanhou om hul mans, wat voedsel aan duisende mense voorsien, te ondersteun.

“Dit is nou te sê ás haar man die aanval oorleef het,” sê Viljoen. “Maar selfs al het hy nie oorleef nie, staan die vroue tóg op. Ons vroue is mos van sterk stoffasie gemaak en daar is altyd dinge wat gedoen moet word.”

Viljoen vertel dat sy eenkeer ʼn boodskap op Facebook gekry het van ʼn Suid-Afrikaanse vrou wat in Duitsland woon. Sy het Viljoen bedank vir haar gereelde skryfwerk oor seksuele geweld teenoor vroue. “Die verhaal vind dus nie net aanklank by boervroue wat slagoffers van geweld tydens plaasaanvalle was nie, maar by vroue in die algemeen.”

Vantevore kon Viljoen oudergewoonte omblaai en verder lees, en op enige ander dag sou hierdie berig haar nie soveel ontstel het nie. Mense wat plaasaanvalle oorleef, se nagmerrie is egter nie so vlietend soos om deur ʼn koerant of tydskrif te blaai nie.

“Hul storie is soveel meer as net dít wat in ʼn koerantberig genoem word. Ek het geskok besef hoe maklik ons as samelewing afgestomp raak. ʼn Plaasaanval is nooit maar net nóg ʼn plaasaanval nie,” meen sy.

Viljoen, ʼn vryskutresensent van Jeffreysbaai, staan gereeld ander skrywers met manuskripontwikkeling en teksversorging by. Dit neem die meeste van haar tyd in beslag en beteken dat daar nie veel ruimte vir haar eie skryfwerk is nie.

“Ek het ʼn paar jaar gelede met die gedagte begin speel om ʼn spanningsroman te skryf, maar ek was – en is – so besig om skrywers vryskut by te staan,” vertel sy.

Uiteindelik het Viljoen ʼn kortverhaal geskryf en aan ʼn uitgewer voorgelê om saam met ander skrywers se werk in ʼn bundel opgeneem te word. Die verhaal is egter afgekeur en daarom het sy dit aan LitNet vir publikasie voorgelê.

Boeke, stories by dosyne

Viljoen skryf jaarliks honderde boekresensies vir verskeie platforms, wat Maroela Media insluit. Sy is boonop besig met ʼn nagraadse studie in teologie en doen tuisversorging vir haar ma wat aan demensie ly.

Dit is hier waar die vryskutresensent Louise Viljoen ure agter haar rekenaar deurbring. (Foto: Verskaf)

Haar werk as vryskutresensent, en so ook die hordes boeke wat sy verslind, is allermins vervelig. Trouens, dit verbreed haar kennis en stel haar bloot aan verskillende genres en ʼn magdom skrywers se tekste.

“Ek lees alles waarop ek my hande kan lê – van kookboeke tot biografieë en selfs prenteboeke. Daar is min vervelige oomblikke, want hierdie week werk ek saam met ʼn skrywer aan ’n reisjoernaal se manuskrip en volgende week kom ’n spanningsroman aan die beurt.”

Dit kom egter nie sonder ʼn goeie dosis selfdissipline nie. Sy moet lang ure agter haar rekenaar deurbring, maar dit bly deurgaans vervullend en sy kry die geleentheid om haar eie skryfwerk op te knap en te vernuwe.

“Ander skrywers se skryfstyle val my telkens op en ek verwonder my aan hul idees en kreatiwiteit, asook hoe hulle die skryfproses aanpak en deurvoer.”

Sy het onlangs doelbewus begin om tyd aan haar eie skryfwerk te bestee. Haar geestelike niefiksieboek, getiteld Gesinstyd met God, verskyn binnekort by Luca, ʼn druknaam van Lapa Uitgewers. Dit handel oor hoe eietydse gesinne saam tyd met God kan deurbring en is propvol praktiese raad, wenke en oordenkings.

Nog ʼn kortverhaal uit haar pen, “Die buurman se tuinier”, is intussen in ʼn bundel liefdesverhale opgeneem en dit verskyn later vanjaar by Protea Boekhuis.

  • Lees Louise Viljoen se boekresensies op Maroela Media deur hier te klik.
  • Jy kan ook hier na Johan Allers se voorlesing van “Brood van die lewe” luister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Harley Davidson

Dit is wat dit is wees net paraat en verdedig jouself en jou gesin sou die teroriste toeslaan en hoop dat die polisie soveel tyd en hulpbronne aan plaasaanvalle sal gee soos wat hulle doen met “”””perlemoen stropers””””.