Borsvoed jou baba

deur Marie-Louise Steyn

Borsvoeding is ongetwyfeld die natuurlikste en gesondste manier om jou baba te voed, maar dis nie noodwendig altyd instinktief of maklik nie. Ma’s het dikwels nie die nodige kennis en ondersteuning om kommerloos te borsvoed nie en daarvoor is hierdie boek die antwoord. Dit is ’n volledige, maar kompakte praktiese gids vir ma’s wat borsvoed. Die jongste navorsing op dié gebied word in die inhoud weerspieël, en omdat die boek op ’n sterk feitebasis berus, sal dit ook van onskatbare waarde wees vir dokters, verpleegpersoneel, voorgeboortelike begeleiers en doulas – enigiemand wat vroue voor, tydens en na die geboorte bystaan.

Die inligting is gesaghebbend en bondig genoeg aangebied dat die boek voor baba se geboorte in een of twee sessies deurgelees kan word, maar met genoeg detail om gedurende die borsvoedproses ma se borsvoedbybel te wees. Elke hoofstuk skop af met tien top-wenke oor die tema, en die inhoud word deurgaans aangevul met praktiese wenke en voorstelle. Uittreksels uit gevallestudies word deurgaans gebruik, en hou die trant prakties terwyl dit ma’s ook gerusstel dat hulle nie alleen is as hulle sukkel nie. Die onderskeie hoofstukke dek die volgende:

• Hoekom borsvoed
• Voorbereiding vir borsvoeding
• Hoe borsvoeding werk
• Die beste begin (suiggreep en genoeg melk)
• Voorkoming en hantering van probleme
• ’n Baba in die huis
• Terug werk toe (borsvoed wanneer jy nie daar is nie: pompe en ander hulpmiddels)
• Die ouer baba
• Wanneer om te speen
• Borsvoeding in spesiale omstandighede

Daar is ook ’n lys name en kontakbesonderhede van laktasiespesialiste en La Leche-groepe regdeur die land sodat ma’s wat borsvoed sal weet waar om hulp te soek as hulle sukkel.

Oor die outeur:
Marie-Louise Steyn het al vyf haar kinders geborsvoed, en werk al langer as ’n dekade as telefoonkonsultant vir La Leche League. Sy is internasionaal as laktasiekonsultant gesertifiseer en het die vereiste kwalifikasies as IBCLC (International Board Certified Lactation Consultant). Marie-Louise werk ook as professionele doula en was die afgelope vyf jaar by honderde geboortes betrokke in dié rol. Deur teenwoordig te wees by die geboorte kan sy die eerste borsvoedingervaring na baba se geboorte waarneem, en aan ma’s leiding gee.
Sy bly ná die geboorte in verbinding met haar kliënte, en bly op hoogte van hulle bekommernisse en uitdagings. Hierdie ondervinding en haar rol as kindergeboorte-opleier by ’n kraamhospitaal rus haar uitstekend toe vir haar seminare aan ma’s, doulas en voornemende laktasiekonsultante.

Uitgewer: METZ PRESS
prys: R160-00*
*prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.