Breinvirus laat dogter gestrem, ma vertel

Juliana Coetzer is ʼn psigoterapeut, skrywer en ma van drie. (Foto: jonathanball.bookslive.co.za)

“Maar toe sy my met ʼn besemstok slaan dat die pers-swart merk twee maande op my heup bly sit, bely ek teenoor Fanus dat ek haar nie meer in my lewe wil hê nie. Hoekom gaan sy nie dood nie? (Bl.139, Die kind se naam is Anneke)”

Hoeveel keer het jy as ouer ook gevoel jy wil so teen een van jou kinders optree, maar nie genoeg moed gehad om dit hardop te erken nie? Omdat jy skrikkerig was oor hoe ander mense sou reageer of bloot net nie kans gesien het vir die afkeurende kyk waarmee sommige sou wegstap nie?

Juliana Coetzer, ʼn psigoterapeut, skrywer en ma van drie, het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesels oor die brutale eerlikheid waarmee sy haar en haar gesin se pad saam met hul gestremde dogter vertel. Sy praat ook oor die hordes briewe van lesers en oor groot die Carrol Boyes-verrassing.

Juliana Coetzer se dogter, Anneke. (Foto: Verskaf)

Anneke word siek
In Bloedvreemd (2015) begin Juliana by die gesinsvakansie waar Anneke skielik siek geword en by die dood omgedraai het. Die Coetzer-egpaar se sewejarige dogter het ʼn waterpokkiesvirus opgedoen wat haar brein aangetas het en hoewel sy dit oorleef het, het die nagevolge van die virus haar lewe handomkeer verander.

Anneke, die slimkop met ʼn huppel in haar stap, het as gevolg van die virus aan onbeheerste epilepsie gely, sy het intellektueel gestrem geraak, en psigotiese episodes en woede-uitbarstings gekry.

Die eerste paar jaar nadat Anneke siek geword het, was net so swaar vir die res van die gesin, vertel Juliana.

“Vir ses jaar lank was dit vir my intens treurig. Ek sien nou nog hoe ek in die oggend hartseer opgestaan en in die aande kwaad gaan slaap het.

“Later het ek net besef as ek vir Anneke moet wag om gesond te word voor ek weer gelukkig is, gaan ek vir ewig wag en ek kan nie. Ek wíl gelukkig wees. Ek het ʼn keuse gemaak.”

Juliana verwys na ʼn bekende gesegde “ʼn Gestremde kind maak ʼn gestremde gesin” en sê dan: “Ons het van die begin af besluit daar is nie ʼn manier nie. Ek het gesê ek gaan nie ʼn gestremde gesin hê nie.”

Ja, Anneke se gestremdheid was moontlik een van die grootste uitdagings wat Juliana as ma moes hanteer, en dit is voor haar deur gelê, of sy gereed was daarvoor of nie.

“Ek het gebid en gesê God het ʼn baie groot fout gemaak hierso. Maar wanneer ek nou terugkyk besef ek, ek het waaragtig hierdie ding gedoen. Ek het die pad gestap en álles vir haar gedoen,” vertel Juliana.

ʼn Vars briesie van bevryding
Die gedagte aan ʼn ma wat haar diepste gevoelens so prontuit beskryf kom onverwags, maar vir talle lesers was dit soos ʼn vars briesie van bevryding.

Dit kon eintlik nie anders nie. Juliana het van die begin af besluit dat sy skreiend eerlik gaan wees wanneer sy oor hulle reis saam met Anneke skryf – al was sy tot in haar diepste wese bang.

“Ek het van die begin af geweet dit help nie jy skryf ʼn storie van ʼn kind wat siek word en jy vertel nie watter effek dit op jou en die res van die gesin het,” verduidelik Juliana.

“Dit was senutergend. Ek het letterlik met elke sin van Bloedvreemd gedink die mense gaan my kruisig, dat ek verwerp en geoordeel gaan word.

“Ek was oortuig daarvan, maar tot op hede het ek nog nie een mens gekry wat kritiek daaroor uitgespreek het nie. Trouens, die meeste lesers sê dankie dat ek skryf wat hulle al gedink en gevoel het.”

Oor eerlike gedagtes
Juliana het sedertdien honderde boodskappe van lesers af ontvang. Baie wou net hulle ervaring met siekte of lyding deel, ander het sommer net terugvoer gegee en dan was daar menige leser wat wou weet hoe dit met Anneke gaan. Daarom het Juliana besluit om ʼn opvolg met die titel Die kind se naam is Anneke te skryf.

“Terloops, het jy mooi na die titelblad gekyk?” vra Juliana. “Anneke se naam soos wat dit hier verskyn, is in haar eie handskrif geskryf. Ek wou graag haar naam in die titel gehad het.”

Omdat almal eintlik vir Anneke na Bloedvreemd ken, wou Juliana hê dit moet duidelik wees dat die opvolg meer oor Anneke gaan.

Juliana onthou dat talle lesers ook vir haar gesê het dat hulle geskrik het en half geskok was oor die tonele waar sy byvoorbeeld vir Anneke dood wens.

“Dit is ook oukei, natuurlik sal dit mense skok,” meen Juliana.

Sy het self in daardie oomblik vir haar gedagtes geskrik, maar sy het altyd geweet sy kan kies hoe om te reageer.

“Ek het rêrig gedink: ‘Sjoe, daar is iets verkeerd met my dat ek dit dink.’ Maar weet jy wat? Ek het ontsettend aanvaardend geword ten opsigte van my eie emosies en van my situasie waarin ek is,” sê Juliana.

“As jy vir my sou vra wat is die een ding wat tot die meeste mense spreek, is dit dat almal sê hoe dankbaar hulle is oor my eerlikheid. Want alle mense het al gevoel hulle kan nie aangaan nie, hulle wil nie so kind hê nie of in so situasie wees nie, maar nie almal het die moed om dit te sê nie.”

Die een keer wat Juliana wel uit ʼn plek van emosie opgetree het, was in ʼn toneel uit Die kind se naam is Anneke waar sy vir Anneke ʼn oordosis pille gegee het.

“Ja, dit is nogal scary om te weet tot waar ʼn mens kan gaan. Maar daar is ʼn deel van my wat dan besef niemand is anders as die ander een nie. Party ma’s ly weer aan postnatale of postpartum-depressie na geboorte en wens hulle kan die kind teen ʼn muur vasgooi.”

Tussendeur was daar ook briewe van lesers wat nie noodwendig as ouer met die verhaal identifiseer nie, maar wat dit op ʼn manier hul eie gemaak het en steeds hierby aanklank gevind het.

“Ek dink juis omdat dit nie net gaan oor ʼn siek kind nie. Mense het dit baie universeel gemaak, waaroor ek nogal baie verras was,” sê Juliana. Mense wat siek is en een of ander terugslag in hul lewe gehad het of wat met siekte te doen het, het ook boodskappe gestuur.

“Ek dink dit gaan oor ʼn mate van lyding waarmee alle mense kan identifiseer, alhoewel dit eintlik glad nie die doel of sentrale tema van my boeke was nie,” sê Juliana.

Oor haar Carrol Boyes-bekers

“Ek staan versteen terwyl sy die Carrol Boyes-bekers met die gesigte op, wat my seun se meisie vir my vir Kersfees gegee het, een ná die ander op die teëlvloer stukkend gooi. (Bl.226, Die kind se naam is Anneke)”

In dié toneel uit Die kind se naam is Anneke vertel Juliana hoedat haar dogter een aand tydens ʼn woedebuie al haar Carrol Boyes-bekers stukkend gegooi het. Nadat ʼn joernalis dit toe onlangs ook in ʼn artikel genoem het, het die span by Carrol Boyes hiervan gehoor en vir Juliana gekontak.

Juliana Coetzer se nuwe stel Carrol Boyes-bekers wat sy present gekry het. (Foto: Verskaf)

“Dit is ʼn ongelooflike storie: Ek het een dag uit die bloute ʼn oproep van hulle af gekry wat aanbied om die bekers te vervang,” vertel Juliana. Die span by Carrol Boyes het toe ʼn oggendtee gereël en vir Juliana ʼn hele stel bekers gegee, asook ʼn paar klein bakkies en ʼn slaaibak. Haar skoondogter Charli, wat saam met haar die geleentheid bygewoon het, het ook ʼn slaaibak persent gekry.

Juliana het tydens die geleentheid vir Michelé Stuurman, hoofskakelbeampte, en Janine George, wat in beheer is van produkvervaardiging en bemarking, asook ander lede van die Carrol Boyes-bemarkingspan ontmoet.

Hoe gaan dit met Anneke?
­“Dit gaan goed met ons dogter,” sê Juliana tevrede. Anneke, nou in haar dertigs, woon tans in ʼn huis vir gestremdes in Somerset-Wes. Juliana-hulle het vir 23 jaar na haar gekyk voor hulle besef het dit is tyd om die voltydse versorging aan iemand oor te gee. In die week bly Anneke daar, maar naweke is sy gewoonlik by die huis.

“Anneke is vreeslik lief vir haar familie en wil eintlik net altyd by ons wees,” vertel Juliana. “As die seuns by is, is dit ʼn groot jolly geleentheid. Die Coetzers is nogal nie ʼn mistroostige klomp nie hoor! Ons lag baie vir Anneke – en as sy lag, lag ons ook sommer net omdat sy lag.”

ʼn Lewe van op jou knieë staan, vrywaar jou nie teen die swaar in die lewe nie, meen Juliana, en dit word ook nie van jou af weggehou omdat jy in ʼn goeie verhouding met God is nie. “Jy moet opstaan en self daardie pad stap.”

  • Die kind se naam is Anneke het in 2021 by NB-Uitgewers verskyn. Klik hier om die boek aanlyn te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.