Britse uitgewer koop regte vir Afrikaanse kinderboek

Jaco Jacobs se boek Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word se wêreldwye Engelse regte is pas verkoop aan ʼn uitgewery in Engeland.

Die boek sal in Engels bekend staan as Both sides of zero, aldus ʼn verklaring wat deur Lapa Uitgewers uitgereik is. Die vertaling is deur Kobus Geldenhuys gedoen.

Die Britse uitgewery, Oneworld, is dieselfde uitgewery wat vroeër ook die regte vir Jaco se boek ’n Goeie dag vir boomklim gekoop het. Oneworld is ook bekend daarvoor dat twee van hulle boeke reeds die Man Booker Prize gewen het.

Die fliek Nul is nie niks nie, ʼn verwerking van hierdie einste boek van Jacobs, is vroeër vanjaar landswyd in filmteaters uitgereik.

 

Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word

My naam is Martin Retief. Ek is dertien jaar, elf maande en twaalf dae oud. My ma noem my Martin, maar almal by die skool noem my Hoender. Ek hou daarvan om dinge te tel.

Hoender Retief se hele lewe verander een middag toe sy pa op pad huis toe by ’n winkel stilhou om ’n snoek te koop. En terwyl sy gesin probeer om hul verlies te verwerk, versorg hy sy Leghorn-hoenders, verkoop eiers aan die mense op die plotte en doen saans wiskunde as hy sukkel om te slaap.

Maar op ’n dag ontmoet Hoender vir Drikus. Drikus wat aan ’n siekte ly wat na iemand vernoem is. Drikus wat daarvan droom om sy eie zombiefliek te maak.

Wat volg, is ’n avontuur vol skouhoenders, skelms, mooi meisies, wiskunde, kammabloed en zombies.

’n Hartroerende en dikwels humoristiese grootwordverhaal wat ’n ongewone blik bied op gesinne, vriendskap, die hantering van verlies … en langdeelsomme.

Oor die outeur:
Jaco Jacobs is op Carnarvon in die Karoo gebore. Sy eerste boek, Troetelgedrog, het in 2001 by LAPA verskyn, en sedertdien het meer as honderd boeke vir kleuters, kinders en tieners uit sy pen verskyn. Sy boeke is onder meer bekroon met die Alba Bouwerprys, die C.P. Hoogenhoutmedalje en 19 ATKV-Kinderboektoekennings. Talle van sy boeke word met groot sukses by skole voorgeskryf, en in 2014 is ’n rolprentweergawe van sy gewilde tienerboek Suurlemoen! landwyd vrygestel. Hy woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy dogtertjies, Mia en Emma, twee honde, Pippie en Binki, en ’n baie stoute kantoorkat genaamd Lego wat sy bes probeer om Jaco uit die werk te hou. Besoek gerus sy webtuiste.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R140-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.