Bygelowe en waar hulle vandaan kom

Het jy geweet dat die titel Macbeth van Shakespeare nie in ‘n teater in die Verenigde Koninkryk genoem word nie? Dit sal ongeluk oor die opvoering bring. Daarom staan dié klassieke werk dáár as die Skotse Drama bekend.

Weet jy dat geboue in Oos-Asië glad nie ‘n vierde verdieping het nie, en dat geboue in Hong Kong geen verdieping met ‘n syfer vier daarin het nie? Verdieping 4, 14, 24, 34 en 40 tot 49 ontbreek in dié wolkekrabbers. Baie mense in China, Korea en Japan ly aan tetrafobie en het ‘n vrees vir die syfer vier. Dit bring onheil, glo hulle.

Waarom word groen nie in Franse teaters gebruik nie en violet nie in Italiaanse teaters nie? Want daar bestaan verskeie bygelowe hieroor wat van kultuur tot kultuur verskil. En boonop kan ‘n bygeloof in een kultuur, ‘n volksgeloof in ‘n ander wees.

Net soos in dr. Anton Prinsloo se Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom vertel hy die leser in Bygelowe en waar hulle vandaan kom van ’n duisternis bygelowe wat wêreldwyd bestaan, en werp hy soms ook lig oor die herkoms daarvan.

Dié naslaanbron is die eerste omvattende Afrikaanse woordeboek oor bygelowe wat in Suid-Afrika verskyn.
Die boek bevat meer as 6 000 bygelowe ingedeel in 100 verskillende kategorieë, soos plante, diere, voëls, blomme en lande.

Oor die outeur:
Toe dr. Anton Prinsloo tien jaar oud was, is sy eerste twee verhale in die destydse dagkoerant, Die Transvaler, gepubliseer. Sedertdien is hy in die wetenskap van taal geïnteresseerd, maar veral in die herkoms van Afrikaanse woorde en uitdrukkings. Hy was voorsitter van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Taaladviesraad van die destydse SAUK. Hy het verskeie artikels vir linguistiese tydskrifte geskryf en het nie minder nie as ses boeke gepubliseer. Hy is reeds ‘n dekade lank die skrywer van die rubriek “Taalkruie”, wat in die dagblad, Volksblad, verskyn. Dr. Prinsloo het onder meer pryse van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die ATKV en die FAK vir sy skryfwerk ontvang.

Uitgewer: Pharos
Prys: R355*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.