Bygelowe oor Kersfees

In Griekeland word geglo aan die kallikantzaroi wat tydens die twaalf dae van Kersfees tot Driekoningedag (6 Januarie) in ʼn huis poetse bak of amok maak. Hulle is kwaadaardige aardmannetjies of gnome wat onderaards bly. Daar saag hulle aan die Boom van die Wêreld sodat dit kan omval en die aarde daarmee saam vernietig. Maar net as hulle die Boom wil deursaag, kom Kersoggend en kan hulle na die oppervlak kom. Hulle vergeet heeltemal van hulle kwade bedoelings met die Boom en kom maak liewer moeilikheid by die mensekinders. Op 6 Januarie moet hulle weer ondergronds gaan – net om te merk dat die Boom homself genees het en hulle weer van voor af moet begin saag.

Bronne, streke en mense verskil oor die voorkoms van die kallikantzaroi. Sommige Grieke glo dat hulle gedeeltelik soos diere lyk, met harige lywe, perdebene of slagtande soos dié van ʼn varkbeer. Ander glo weer dat hulle mensies is wat ongelooflik sleg ruik. Hulle is oorwegend manlik. Baie Grieke glo die gnome is lank met ʼn swart pels of vel, gepunte ore en ʼn gesig wat aan dié van ʼn hond herinner.

Die kallikantzaroi is wesens van die nag. Daar is maniere waarop ʼn mens jou teen dié goed tydens hulle dae op aarde kan beskerm. Een daarvan is om snags ʼn vergiettes op die voordeurtrap te los. As die gnoom wil binnesluip om sy kwade dade te verrig, sal hy in plaas daarvan gaan sit en eers die gaatjies in die vergiettes begin tel. Dit sal hom besig hou tot sonsopkoms wanneer hy weer moet gaan wegkruip. Hulle kan ook nie verder as twee tel nie omdat drie ʼn heilige getal is: as hulle dit sou uitspreek, sou hulle sterf. ʼn Ander verdedigingsmeganisme is om die vuur in die kaggel die hele nag te laat brand sodat hulle nie daardeur kan inkom nie. Ander mense weer het geglo dat hulle hul ou skoene in die kaggelvuur moes gooi sodat die slegte reuk die kwaaddoeners sou uithou.

Volgens bygeloof kan enige kind wat gedurende die twaalf dae van Kersfees gebore is, in ʼn kallikantzaros verander wanneer hy volwasse is. Om dit te voorkom, moet die baba in knoffellobbe of strooi toegedraai word, of sy toonnaels geskroei word (die reuk sou weereens die gnome weghou).

Sommige bygelowige Grieke verbrand hulle ou skoene tydens Kersfees om ongelukke in die nuwe jaar te voorkom.

In Noorweë en Swede word geglo dat ʼn mens op Kersdag nie vroeg moet opstaan nie: die trolle (bose geeste) patrolleer die velde tussen hoenderkraai en sonsopkoms.

In Pole voorspel die weer op Kersfees die weer vir die volgende jaar. As dit sneeu, gaan dit ʼn strawwe (maar gelukkige) jaar wees wat voorlê; reën voorspel nog meer wat gaan kom.

In Tsjeggië word visskubbe tydens die Kersfeesmaal onder die borde geplaas omdat dit dan rykdom sal meebring.

In lande soos Switserland, Duitsland, Brasilië en Egipte word skerp voorwerpe nie as geskenke gegee nie: dit is die simbool van die afsny van ʼn vriendskap en ongeluk wat volg.

In koue lande word ʼn vuur in die herd met Kersfees aangesteek. Dit moet die volle twaalf dae van die Kerstyd gestook word, want dit is baie ongelukkig om ʼn nuwe vuur in daardie tyd te maak. Die as moet gehou en saam met die saad van lenteblomme in die grond gespit word – dit sal ʼn reuse-oes oplewer.

Met die Kersete moet daar ʼn gelyke getal mense aan tafel wees; tou moet om die pote van die tafel gebind wees om die huis teen diewe en inbrekers in die nuwe jaar te beskerm. Onder die tafel moet ʼn bak met knoffel en visskubbe direk onder elke bord geplaas word.

ʼn Man mag met Kersfees ʼn meisie meer as een keer soen as sy onder die misteltak staan, maar slegs as hy elke keer ʼn rooi bessie van die tak pluk en vir haar gee. As die bessies opraak, moet hy dadelik stop want dan het hy laakbare gedagtes.

Sommige Swede glo as jy ʼn appel op Oukersaand eet, jy die hele volgende jaar goeie gesondheid sal geniet. Op Kersdag self moet jy ʼn stukkie pruimpoeding eet om te verhoed dat jy ʼn vriend voor die volgende Kersfees verloor.

Op Oukersdag kan alle diere praat, maar jy mag nie met hulle kommunikeer nie: dit bring ongeluk mee. As jy nuwe skoene op Kersdag dra, is dit ook ʼn uitnodiging tot ongeluk.

Volgens die Iere mag jy by die Kersete nie ʼn vrugtepasteitjie weier nie: dit bring die volgende dag ongeluk mee. Jy sal ook soveel goeie en gelukkige maande hê as die aantal huise waar jy dié pasteitjies geëet het. As jy ʼn rou eier voor enigiets anders op Kersdag eet, sal jy sterk genoeg wees om ʼn swaar vrag te dra.

Die eerste persoon wat Kersoggend deur die deur van ʼn huis loop, moet ʼn man wees. In antieke tye het mans met ʼn beeld van Christus deur die huis geloop en dit beskou as die eerste man wat daardeur gaan.

Alle Kersversierings moet teen 6 Januarie verwyder wees, anders bring dit die hele jaar deur ongeluk. Dit is die 12de dag na Kersfees en dan word Driekoningedag gevier, nie meer Kersfees nie.

Uittreksel uit: Bygelowe en war hulle vandaan kom deur Anton F. Prinsloo
Uitgewer: Pharos
Prys: R355-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae