Byleveld: Dossier van ‘n baasspeurder

Hanlie Retief

Min mense sal stry dat Piet Byleveld die beroemdste speurder van ons tyd, en moontlik in die geskiedenis van Suid-Afrika is. In ’n land waar moord soos ’n vloedgolf voel, het die naam Byleveld tot sy onlangse aftrede in die rang van brigadier vry dikwels in die mediaberigte oor moordsake voorgekom, soos ’n bewaker teen die oormag.

Toe Byleveld in 2004 die Leigh Matthews-saak saam met twee assistente oplos nadat ’n hele span oor maande nie kon vorder nie, het hy ’n huishoudelike naam geword. Sy reputasie is egter in werklikheid gebou op sy 100%-suksessyfer met reeksmoorde, iets waarvoor hy in die swart gemeenskap as held gevier word omdat die meeste van die slagoffers swart mense is.

Sy unieke werkswyse, deeglike speurwerk en buitengewone sukses word op dramatiese wyse in die praktyk verbeeld in Hanlie Retief se boek waar die grusame en die menslike sy aan sy gaan. Die bekroonde Retief het haar as joernalis onderskei met haar weeklikse onderhoude in Rapport en die boek is met dieselfde aandag op gelade detail geskryf. Die leser kry nie net insig in talle moordsake en hoe hulle opgelos is nie, maar ook in die mens Byleveld in sy swakhede en beproewings, sy groei in die keiharde Brixtonse Moord- en Roofafdeling, en sy landelike agtergrond van waar hy waardes saamgebring het wat hom so ’n uitsonderlike sukses in die brutale beroep van speurder gemaak het.

Daar is selde soveel afwagting vir ’n nuwe boek en ’n buitengewoon groot eerste oplaag is gedruk. Gedurende September tree Hanlie Retief en Piet Byleveld by talle geleenthede in Gauteng en die Kaap op, en die mediabelangstelling vooraf dui op ’n hoë profiel vir beide.

Oor die outeur
Hanlie Retief is reeds drie keer as kreatiewe joernalis van die jaar aangewys, het twee ATKV-veertjies in haar hoed en was twee keer finalis vir die Mondi-toekenning. In 2011 verskyn ’n keur uit die onderhoude in haar boek Hanlie Retief gesels met. Sy woon en werk in Kaapstad.

Uitgewer: Umuzi
Prys: R220,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Phillip ·

Ek sal nie ‘n boek koop van iemand wat valslik ‘n 20 jarige seun laat toesluit vir 3 maande op ‘n aanklag van MOORD en hom dan skuld laat erken op die besit van marijuana om uit die tronk te kom nie.

Hy was nie eens bereid om te erken dat hy ‘n fout begaan het of om verskoning te vra vir die skade wat hy aan die jong seun se lewe gerig het nie.

Seker sy 100% rekord geknak!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.