Cecilia Steyn gesels oor liefdesverhale en skryfinspirasie

cecilia-steyn-skrywer

Die skrywer Cecilia Steyn is veral bekend vir haar jeugverhaalreekse ‘Tienerharte’ en ‘#PresiesAnders’. Foto: Henk Viljoen/Facebook.

Die skrywer Cecilia Steyn skryf jeugverhale vol spanning, humor en liefde. Sy is ook die suster van die bekende jeugverhaalskrywer Fanie Viljoen, maar het reeds ook ʼn ATKV-woordveertjie in 2017 vir haar eie skryfwerk ontvang.

Volgens haar Twitter-rekening glo sy in die wonder daarvan om ʼn vinnige uiltjie te knip, goeie sjokolade te eet, en as sy nie lees nie, dan skryf sy.

Min mense weet egter dat sy eers op 40 die eerste keer haar hand aan die skryf van ʼn boek gewaag het.

“Dit was seker maar die leënessindroom wat my gedryf het om te skryf. Ek was nog altyd lief vir lees, maar toe my oudste kind die huis verlaat het, het ek besef ek gaan iets anders met my tyd begin doen. Dit het my laat wonder of ek kan skryf en net daar het die gogga my gebyt.”

Haar jeugverhaalreekse Tienerharte en #PresiesAnders is op die tienermark gemik. ʼn Mens mag dalk dink dit is ʼn moeilike mark om voor te skryf, want tieners is mos maar berug vir hul nukke en grille. Gelukkig het Cecilia nog self tieners in haar huis gehad toe sy begin skryf het en daarom het sy hulle darem so ʼn raps beter verstaan. “Ek het self graag fiksie vir jong volwassenes gelees en daarom wou ek in dié genre skryf.”

Dit is dan ook daar waar haar suksesresep lê, want sy skryf deur en deur oor dit wat sy graag self lees. “Ek lees ook liefdesverhale. Vir my is dit lekker goedvoel-literatuur en ek dink die tieners van vandag het juis dié soort verhale nodig om te ontvlug. Ek het gehoor kenners reken liefdesverhale help ons ook om die lewe se uitdagings beter te hanteer.

“Die skryf van liefdesverhale is vir my net so terapeuties as om dit te lees. Dit het my dan gehelp met my leënessindroom.”

Cecilia sê sy het haar tieneraanhangers hierdie jaar so bietjie afgeskeep sodat sy haar aan ʼn twee boeke vir ʼn nuwe mark kon waag. “Lapa Uitgewers het my eerste Romanza vir die ouer dames aanvaar en dit behoort Juliemaand op die rakke te wees,” sê sy met ʼn glimlag.

Sy is ook reeds besig om aan nog ʼn liefdesverhaal vir volwasse lesers te werk waaroor sy nie nou die aap uit die mou wil laat nie, maar die boek sal ook teen Augustus op die rakke verskyn.

Sy het sedert 2014 ʼn paar goed geleer oor skryf en skrywer wees. “Ek het geleer jy skryf beslis vir die liefde van die saak, jy gaan ongelukkig nie ryk word nie.”

Cecilia sê sy hou egter daarvan om mense se stories te vertel. “Ja, ek luister mense graag af en dan maak ek notas en stuur vir myself voice notes oor die idees wat ek kry. Een dag gaan sit ek net, voeg alles bymekaar en trek die storielyne na mekaar toe. Al daardie idees word bymekaar gegooi en gebruik vir my verhale.”

Sy glo vas elke kind het net daardie regte boek nodig om hom/haar aan die lees te kry. “Ek het in ʼn huis grootgeword waar almal lief was vir lees. Ons het elke week biblioteek toe gegaan en my broer skryf self, maar ek het eers op ʼn latere ouderdom my liefde vir lees ontwikkel. Dit was net daardie regte boek wat ek nodig gehad het om te begin lees.”

  • Luister ook na die podsending boaan hierdie berig waar Esté Meyer Jansen met die skrywer Cecilia Steyn gesels oor haar liefdesverhale vir tieners. Cecilia verduidelik dit was leënessindroom wat haar aan die skryf gekry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.