Cecilia Steyn lees voor uit ‘Die vinnigste skoene in die hele wêreld’

Het jy geweet Cecilia Steyn se jongste kinderboek, Die vinnigste skoene in die hele wêreld, is geïnspireer deur veters wat op ʼn skulp geverf is?

Cecilia vertal dat haar skoonsus se seuntjie, Dieter, eendag so gesit en verf het toe hy skielik die geverfde skulp bo-oor sy voet sit en verklaar dat dit die vinnigste skoene in die wêreld is.

“Ek het dadelik gedink wat ʼn oulike storie dit sou maak,” sê Cecilia. “ʼn Seun wat werklik die vinnigste skoene in die wêreld in die hande kry, kan mos baie pret hê.”

Maroela Media het by Cecilia aangeklop om meer oor haar jongste boek te wete te kom.

Hoe het sy die karakters se name in Die vinnigste skoene in die hele wêreld gekies?

Cecilia verduidelik dat dit eintlik ʼn eenvoudige proses was. Sy gebruik gewoonlik name wat by haar opkom en wat sy dink by die karakter pas. Cecilia verklap ook dat sy ʼn nuttige naslaanbron byderhand hou.

“Ek het ʼn dik naamboek waarvan ek gebruik maak of ek kyk na name van mense op Facebook,” sê sy.

As die boek in ʼn rolprent verwerk sou word, watter plaaslike akteurs sal daarin speel?

Cecilia meen dié verhaal sal waarskynlik eerder in ʼn animasierolprent verwerk word as in ʼn vollengtefliek. Maar as sy akteurs moet uitsonder, sal Jana Strydom die rol van Wynand se ma speel, Lee-Ann van Rooi as juffrou Hilda, Neels van Jaarsveld in die rol van Nardus Naude en Milan Murray as Nadia Naude.

Cecilia Steyn (Foto: ceciliasteyn.co.za)

Is sy opgewonde oor die voorblad en illustrasies?

Skrywers het nie altyd die geleentheid om illustreerders te kies of insette in die ontwerp en uitleg te lewer nie, maar Cecilia is dolgelukkig met Johann Strauss se illustrasiewerk.

“Ek was so opgewonde toe ek hoor dat Johann ingestem het om die illustrasies te doen,” sê sy. “Sy werk kry behoorlik lewe op die bladsye en die eindproduk lyk fantasties.”

Wat was haar gunstelingboek as kind?

“Ek het eers laat in my lewe ʼn werklike boekwurm geword,” vertel Cecilia. “Maar ek onthou hoe ek my as kind in Die groot sprokie-omnibus, met sy groen materiaalomslag, titel in goud en betowerende illustrasies, kon verlustig.” Sy sê dié boek doen steeds die rondte in hul familie.

Hoeveel kinder- en jeugverhale het sy al geskryf en watter een is haar gunsteling?

Cecilia skryf sedert 2017 voltyds. Sy het tot op hede nege jeugverhale en vier kinderboeke geskryf. In 2017 ontvang Cecilia ʼn ATKV-Kinderboektoekenning vir Tienerharte 2: Hartedief en in 2018 wen sy dieselfde toekenning vir #PresiesAnders: Eksperimente en eerste soene. Haar Lea Lief-reeks, wat deur Lapa Uitgewers uitgegee is, is ook gewild vir jonger lesers veral omdat dit ʼn sterk omgewings- en bewaringsfokus het.

Sy sê Die Vlerke van Naaldekokers is haar gunsteling uit die stories wat sy sover geskryf het.

‘n Illustrasie uit ‘Die vinnigste skoene in die hele wêreld’ wat deur Johann Strauss geïllustreer is (Verskaf deur Human & Rousseau)

Oor die boek

Wynand hou niks van Natalie nie. Sy is die vinnigste meisie in hulle graad, en sy weet dit. Natalie wil hê hulle moet resies hardloop. En sy kom altyd eerste. Wynand wil so graag nuwe tekkies hê. Bloedrooies met wit veters. Die vinnigste tekkies in die hele wêreld! Met sulke skoene sal hy beslis vinniger as Natalie kan hardloop. Maar wat gaan gebeur as hy per ongeluk ʼn paar “superhero-tekkies” aantrek en dan moet help om ʼn spul gewetenlose kunsdiewe vas te trek?

Oor die illustreerder

Johann Strauss het al vier ATKV-veertjies vir sy werk ontvang. Hy is ook in 2014 met die Media24-boekeprys vir In die land van Pamperlang bekroon. Strauss woon in Pretoria.

Die voorlesing word in samewerking met die skrywer en uitgewer moontlik gemaak. Neem kennis dat die voorlesing nie in ʼn klankateljee opgeneem is nie, maar deur die skrywer self.

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing van Die vinnigste skoene in die hele wêreld deur Cecilia Steyn.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R135,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.