Chanette Paul: ‘Ek skryf agter my eie nuuskierigheid aan’


Chanette-Paul

Chanette Paul het by Maroela Media kom kuier. Foto: Maroela Media

deur Adéle Changuion

Dit is altyd ʼn voorreg om ʼn skrywer te ontmoet, want dit verg ʼn besonderse persoon om die dissipline wat skryf meebring toe te pas. Met haar besoek aan Maroela Media het ek besef waarom Chanette Paul ʼn skrywer is – en boonop een in murg en been.

“Spanningsverhale was nog altyd my leesvoorkeur. My lekkerste lees is wanneer ek vergeet van die heelal om my. As ek vergeet van die aartappels op die stoof of as die rys aanbrand – dit is die soort boeke wat ek nog altyd wou skryf.”

En dit is beslis die soort boeke wat sy skryf. Chanette sê met haar boeke probeer sy orde uit die chaos skep. “Met die misdaadsituasie in die land, skep ʼn mens half ʼn wêreld waar daar troos is. Deur ʼn boek te skryf, waar ʼn slagoffer nie ʼn slagoffer bly nie en waar die misdaad opgelos word, skep jy ʼn geordende wêreld.”

Chanette beskryf haarself as ʼn organiese skrywer wat agter haar eie nuuskierigheid aan skryf.

“Ek weet min of meer waarheen ek gaan en ek beplan so twee hoofstukke vooruit. Ek weet darem wat ek aan die einde wil sê, maar dit het al gebeur dat die karakter wie ek dink die moordenaar is, dan nié die moordenaar is nie. Ek ontdek my storie terwyl ek skryf, maar ek ken my karakters baie goed voordat ek begin.”

Hoewel sy voltyds skryf, is sy ook ʼn manuskripontwikkelaar by Lapa-uitgewers. Chanette meen dié werk bied haar die geleentheid om ander te help om hul eie stories te ontwikkel vir publikasie. Wanneer sy nie lees nie, is sy besig met skryf – hárd skryf. So lyk ʼn tipiese skryfdag:

“Ek skryf 12 ure per dag – dit sluit natuurlik navorsing in. Ek gaan gewoonlik na my skryfplekkie by die see. Ek staan so 5:00 op en begin dadelik skryf saam met my eerste koppie koffie. Dan druk ek deur tot so 18:00. Dan gooi ek ʼn glas wyn in en kyk ʼn bietjie na die see en maak dan aantekeninge oor die dag se werk.”

Ons het darem nie net oor boeke en skryf gepraat nie. As die geleentheid daar is, dan vra jy mos oor ander dinge ook.

In watter musiekgroep sal jy wil wees?

Ek dink nie ek wil in ʼn groep wees nie. Ek sal in ʼn rokerige kroeg wil sit en musiek maak – miskien met ʼn kitaar of tjello en dan in my eie wêreld verdwyn. Soos die sangeres Cesaria Evora.

Wie is jou gunsteling-skrywer?

Sue Monk Kidd, omdat haar boek The Secret Life of Bees die diepte en simboliek van vroulikheid ontsettend goed uitbeeld. As manuskripontwikkelaar kon ek net nie fout vind nie.

Wat doen jy tydens beurtkrag?

Ek steek baie kerse aan sodat ek kan lees, skink ʼn glas wyn en as dit winter is, sit ek voor die kaggel.

As jy saam met enige drie mense kon aandete eet, wie sal dit wees?

Ek gaan ʼn ekstra gas nooi: Nelson Mandela, die Dalai Lama, aartsbiskop Desmond Tutu en Mahatma Gandhi.

  • Luister na die podsending om te hoor wat is Chanette se raad vir voornemende skrywers.
  • Chanette se jongste boek, Offerande, is by toonaangewende handelaars en direk by Lapa-uitgewers beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.