Covid-19: Bekendes deel leesgenot vir die isolasietydperk

Die week het al hoe meer Suid-Afrikaners ook begin om hulself teen die koronavirus (Covid-19) te beskerm deur van die huis af te werk en in afsondering te leef. Dit kan maklik tot wanhoop en depressie lei.

Die goeie nuus is dat ʼn stowwerige boek op jou rak ontvlugting kan bied en in ʼn oogwink jou dag kan ophelder.

Maroela Media het by ʼn paar bekendes in die vermaaklikheidsbedryf uitgevind watter boeke hulle sou lees indien hulle vir ʼn tydperk in isolasie sou wees.

Carina Stander, skrywer van Die Bergengel-trilogie, het ʼn hele rits aanbevelings vir die jongspan gemaak. Sy meen dat reekse ʼn goeie begin is en kinders vir ure sal besig hou.

“Kinders is mal oor boekreekse, want dit gee hulle die kans om onder die vel van karakters in te klim en die verbeeldingswêreld hul eie te maak,” verduidelik Stander. “Hulle kan dit self lees, of ouers kan vir jonger kinders voorlees.” Op die manier kan die hele gesin saam luister en só kan almal van die onsekerheid vergeet wat buite heers, het sy verder gesê.

Stander se aanbevelings vir kinders sluit in die Dagboek van ‘n wimp deur Jeff Kinney, Hoe om jou draak te tem van Cressida Cowell, Die Boomhuis-reeks van Andy Griffiths en Terry Denton, asook die Kuifie– en Asterix-reekse.

Vir volwasse lesers stel sy klassieke werke in Afrikaans voor.

“Oorweeg dit om een van die klassieke werke in Afrikaans te herlees wat jy maklik in ‘n biblioteek sal kan opspoor,” sê sy. Dit sluit onder meer Boendoe deur Chris Barnard, Kringe in ‘n bos deur Dalene Matthee, Toorberg deur Etienne van Heerden en Die swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert, in.

Elsa-Joubert-die-swerfjare-van-poppie

Elsa Joubert se boek Die Swerfjare van Poppie Nongewna. Foto: Verskaf.

Stander en Armand Aucamp het albei Love in the time of cholera deur Gabriel García Márquez by hul leeslys gevoeg.

Pandemies vergaan, maar die liefde bly staan. Om jou te laat moed skep dat die korona-krisis ook sal oorwaai, lees gerus hierdie fenomenale roman,” is Stander se motivering.

Aucamp het óók boekreekse by sy leeslys ingesluit. Die kinderreeks, Winnie the Pooh, asook The Lord of the Rings en Harry Potter is deel van Aucamp se lys.

Erns Grundling, skrywer en aanbieder van die kykNET-reeks Elders: Japan, beskou Johannes de Villiers se boek Blydskap: Mindfulness-wenke vir ‘n vreugdevolle lewe as ʼn “puik en praktiese boek vol deernis”. Hy raai mense aan om ook Eleanor Oliphant is completely fine deur Gail Honeyman te lees.

“Honeyman se boek is pragtig geskryf en gee jou insig in eensaamheid,” vertel hy. “Dit is veral nou relevant omdat afsondering ʼn realiteit is.”

Grundling bespiegel of Deon Meyer in Koors dalk profeties is oor die uitbreking van ’n virus. Hy sluit dié boek ook by sy leeslys in.

Die Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Elmé Churr en bekroonde Grootfm‑aanbieder Su-an Müller-Marais erken dat die Bybel dié belangrikste van alle boeke is.

“Ek en my man het mekaar onlangs uitgedaag om die Bybel van voor tot agter deur te lees,” verklap Müller-Marais. “Nou is die ideale tyd daarvoor.”

Polfyntjies vir die proe, wat in 1963 deur C Louis Leipoldt geskryf is, is ook deel van Müller-Marais se lys.

“Dit bevat al die bestanddele vir ʼn wenleesresep,” meen sy. “Boonop is dié boek geskryf midde in die Tweede Wêreldoorlog en ʼn paar jaar nadat die Spaanse Griep die wêreld getref het. As ʼn bekroonde kookboek die lig in so ʼn onseker tyd kon sien, is ek seker ons sal ook die isolasietydperk deurmaak.”

Voormalige Boer Soek ‘n Vrou-aanbieder en sangeres Leah sonder twee boeke uit.

“As ek in isolasie moes wees, sou ek beslis A Time To Kill deur John Grisham en Michelle Obama se boek Becoming gelees het.”

Heinz Winkler erken dat hy meestal geloof- en leierskapboeke lees. Op die oomblik is hy besig om The Reason for God deur Tim Keller, Never Split The Difference deur Chris Voss, Bear Grylls se Mud, Sweat & Tears, Power in Praise deur Merlin Corothers en Parenting from the Inside Out deur Daniel J Siegel en Mary Harzell, te lees.

Miskien besit jy een van dié boeke of dalk is daar ʼn aanlyn weergawe êrens beskikbaar. Stander moedig lesers aan om veral Afrikaanse boeke en skrywers te ondersteun.

Ondersteun jou gunsteling-Afrikaanse skrywers – wie dit ook al is – deur hulle boeke in hierdie onseker tye te koop. As jy nie in ‘n boekwinkel wil ronddwaal nie, bestel dit oor die internet en laat dit na jou voordeur koerier.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karin ·

Ek stem saam AmY, ‘n lekker love story, om ons weg te voer van al die werklikhede, al is dit vir ‘n uur of twee. Niks soos ‘n lekker Tannie Ena Murray of Sarah du Pisanie van die verre Namibie om ons beter te laat voel nie !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.