CUM Boeke vier Bybelmaand

Argieffoto (Foto; StockSnap, Pixabay)

“God het vir ons ’n boek geskryf. Wat ’n ongelooflike konsep!” – John Piper

CUM Boeke is ’n span passievolle Christene wat elke dag daarna streef om die Bybel vir soveel mense as moontlik beskikbaar te stel. Hierdie wonderbaarlike boek wat vir elkeen van ons geskryf is, is ’n “biblioteek” van God se woorde – 66 boeke wat as ’n eenheid ’n boodskap van liefde, hoop en verlossing op ’n besondere wyse oorvertel.

Hoewel Bybelverspreiding ’n deurlopende fokus is, laat val CUM Boeke die kollig spesifiek daarop tussen 30 September tot 31 Oktober 2017 met die CUM Boeke Bybelmaand.

Ten spyte daarvan dat die Bybel in soveel tale beskikbaar is, is daar vandag steeds mense wat nog nie die Bybel gelees het nie, wat nie hulle eie Bybel besit nie of wat die begeerte na ’n Bybel het, maar dit nie kan bekostig nie. Om hierdie rede gaan CUM Boeke tydens Bybelmaand aan mense die geleentheid bied om uitgesoekte Bybels vir slegs R30 aan te koop.

Ons is opgewonde om aan te kondig dat daar by elke CUM Boeke-winkel landswyd ’n houer beskikbaar sal wees waarin mense aangekoopte Bybels kan plaas om dan versprei te word na verdienstelike organisasies naby die spesifieke winkel. Dit volg na die groot reaksie op ons 2016 Bybelmaand met versoeke van kliënte om Bybels te kan skenk en ’n wonderlike inisiatief van Pretoria-kliënt, Karin Wilkins, wat in 2016 haar Facebook-vriende uitgedaag het om ook Bybels aan te koop en dan by een van ons CUM Boeke winkels te los vir haar om op te laai vir verdere verspreiding. Tydens Bybelmaand 2016 is meer as 126 000 Bybels verkoop, geskenk en versprei.

CUM Boeke Bybelmaand sluit op ’n hoë noot af met die 500 jaar herdenking van die Reformasie op 31 Oktober.

500 jaar gelede het ’n Katolieke priester en monnik, Martin Luther, sy 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg, Duitsland, vasgespyker. Daarmee het hy openlik die Rooms-Katolieke geestelikes tot ’n openbare debat uitgedaag. So het hy die grondslag gelê vir ’n terugbeweeg na die oorspronklike leerstellings van die Christendom – dat die Bybel ons hoogste gesag is en dat ons alleen deur geloof in Christus gered word.

Besoek jou naaste CUM Boeke-winkel van 30 September tot 31 Oktober, koester die impak van die Woord van God op jou lewe en deel dit met mense om jou. Koop ’n spesiale Bybel vir jouself, iemand naby jou of een om te skenk.

Besoek gerus CUM Boeke se webwerf vir meer inligting oor die Bybelmaand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.