‘Daar was nie sulke boeke toe ons kinders was nie’

Bianca Flanders en Dean Balie (Foto: Kathie Viljoen)

“Ons het die boeke geskryf omdat daar nie sulke stories was toe ons klein was nie.”

Só sê Bianca Flanders, Susan Ongansie en André Trantraal wat onlangs hul kinderboeke vrygestel het.

Op 3 Desember het Lapa Uitgewers en die Otto-Stigting saam met dié skrywers in die Liyabona Biblioteek, Distrik 6, gekuier.

Hulle het elkeen die geleentheid gehad om oor hul boeke te praat.

Prinses Pampoenpit is ’n ongelooflike mooi storie oor ’n meisie wat haar krulle moet leer liefkry,” het Flanders gesê. “Sy kan gewoon nie lyk soos haar maatjies met die gladde hare nie.”

Susan Ongansie and Izak de Vries (Foto: Kathie Viljoen)

Flanders is ’n bekende aktrise en ook ʼn aktivis wat haar beywer om natuurlike haardosse op te hef. Sy het self ’n welige bos krulhare en het reeds in haar tienerjare besluit om dit met trots te dra. Die boek se Engelse weergawe, Pumpkin Pie, is uitverkoop en die herdrukte weergawe is reeds beskikbaar.

“In dié verhaal ontmoet ’n huiskat en twee straatkatte mekaar,” het Ongansie oor Kattekwaad gesê. Haar boek raak klasverskille aan en sy verduidelik dat kinders dit maklik sal begryp. “Kinders kan hulle met die katte vereenselwig en daarom die storie verstaan. Die huiskatte en die straatkatte speel uiteindelik saam,” het sy verduidelik.

André Trantraal en Izak de Vries (Foto: Kathie Viljoen)

Trantraal se boek Keegan en Samier, die sleutelspeurders is die eerste een in ’n reeks boeke oor Keegan en Samier, twee maats wat op die Kaapse vlakte woon. Trantraal is ’n bekende kunstenaar, asook die skrywer en illustreerder van die boek. “Die pragtige volkleurtekeninge beeld tonele uit van die omgewing waarin ek grootgeword het,” het hy vertel.

Om die geleentheid af te sluit, het Nanette van Rooyen haar nuwe boek, Die 17de veer, aan tannies Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker oorhandig. Dié twee kookpotdiva’s maak ’n kameeverskyning in Van Rooyen se teks.

Prinses Pampoenpit, Kattekwaad en Keegan en Samier, die sleutelspeurders is op Lapa se webwerf beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.