Dagstukkieboek die ideale geskenk

Uit die Beek 2022 deur Barend Vos word deur Lux Verbi uitgegee.

Die eerste Uit die Beek-uitgawes is in Nederlands geskryf, maar sedert 1929 verskyn dit ook jaarliks in Afrikaans. Uit die Beek 2022 is deel twee (die eerste deel is Uit die Beek 2021 wat tans nog deur lesers geniet word) van die poging om die Bybel in vier jaar deur te lees. Uit die Beek 2022 beslaan 365 oordenkings oor 392 bladsye.

Hierdie gewilde dagstukkieboek neem ook groot momente in die kerklike jaar in ag, byvoorbeeld Lydenstyd en Paastyd, Pinkster, Koninkrykstyd en Advent. Die 2022-weergawe begin by Eksodus en dan kom Rigters, Job, Spreuke 10-17, Jeremia en Amos aan die beurt. Ons lees ook uit Matteus, 2 Korintiërs, Efesiërs, Filemon, Hebreërs en Jakobus.

Barend Vos, ’n bekroonde skrywer en predikant, skryf in die Voorwoord: “Ek bid dat vanjaar se Uit die Beek jou met jou lewensreis sal help. Ons leef in besonder uitdagende tye en het meer as ooit nodig om die voetspore te sien wat ons Here vir ons trap. Sodat ons dit met vertroue en in groot afhanklikheid kan volg.”

Dit is wel nog nie 2022 nie, maar ek kon nie help om deur Uit die Beek 2022 te blaai en van die dagstukkies vooruit te lees nie. Vos skryf op ’n bedaarde en gesaghebbende maar ook boeiende wyse wat sorg vir ’n leersame, aangename en Skrifgetroue leeservaring. Elke dagstukkie pas mooi op ’n bladsy in. Dit het ’n interessante titel wat gevolg word deur ’n vers uit die Bybel. Daarna bespreek Vos die betrokke Skrifgedeelte en sluit af met gebed. Hy gee ook instruksies vir hoofstukke wat lesers op hulle eie tyd kan verken.

Ek hou van die Uit die Beek-uitgawes omdat dis verrykende leesstof bied aan die leser wat net vyf minute het om soggens voor werk stiltetyd te hou. Maar dit verleen ook aan peinsende lesers geestelike pitkos en moedig hulle aan om ekstra leeswerk in God se Woord te onderneem en die leerproses en ontdekking voort te sit.

Die titel “Om alles te glo” kom voor op bladsy 261. Die Skrifgedeelte is Speuke 14:15-16: Wie ervaring kortkom, glo alles wat gesê word; ’n verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee. Wie wysheid het, is versigtig … wie wysheid kortkom, is roekeloos en selfversekerd.

Vos skryf onder meer hieroor: “Baie mense het die geneigdheid om te veel wat hulle by ander hoor, te glo. Om te veel wat hulle lees, te glo. Om sommer alles wat hulle sien, te glo. Die heel ergste is dat hulle al hierdie dinge wat hulle so maklik glo, net so maklik as die waarheid gaan oorvertel.” Hy maan dan later in die teks: “Om op so ’n manier te glo, is onverantwoordelik. Dit is roekeloos, omdat jy jou en ander blootstel aan mense wie se menings nie noodwendig jul welsyn op die oog het nie. Juis deesdae moet ons skeptieser as ooit wees, selfs wantrouig. Ons moet terugstaan en vra: Here …?”

Skaf gerus nou al jou kopie van Uit die Beek 2022 aan. Dit is ook die perfekte geskenk wat die hele jaar hou en is geskik vir Bybelstudiegroepe, persoonlike Bybelstudie en ook vir saamlees tydens huisgodsdiens. Kry jou Uit die Beek 2022 hier.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.