Vir Daniel Strauss, plat op die aarde as sakeman en met die bloed van ʼn plaaskind wat deur sy are bruis, is dit nog altyd belangrik om die mens te wees wat ander kan help om ook hulle volle potensiaal te bereik.
Verbeel jou jy het dit gemáák, maar dan, op die een of ander manier verloor jy álles. Hoe erg sal dit nie wees om oor te begin, maar nie te weet hoe en nie die gereedskap te hê om weer bo uit te kom nie? As jy nie weet hoe om rykdom te skep nie, behoort jy bang te wees om ryk te word (bl. 62).
Sy splinternuwe boek, Dink soos ʼn miljardêr, is juis om dié rede geskryf: Om die entrepreneurskennis wat hy in sy loopbaan opgedoen het te deel en ʼn sogenaamde miljardêringesteldheid oor sake onder gewone mense soos hy te kweek.
As entrepreneur en waagkapitalis, pa van twee seuntjies en eggenoot van die voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld, Rolene Strauss, is Daniel se dagboek stampvol. Boonop bied hy ook ʼn entrepreneursvak vir universiteitstudente aan én tussendeur lui sy foon onophoudelik soos wat vriende en familie sy filosofiese finansiële raad wil inwin.
Hy lewer ook insette in Rolene en haar sakevennoot en skoonsuster, dr. Ledivia Strauss, se onderneming, die RevitaHealth-gesondheidsentrum in die Paarl.
Daniel verduidelik dat hy en Wayne Stocks, sy sakevennoot van die maatskappy Stocks & Strauss, onder meer in verskillende sakeondernemings belê. Hy vergelyk sy dagtaak met dié van die televisieprogram Shark Tank, waarin aspirerende entrepreneurs hulle sakemodelle aan ʼn paneel van beleggers voorlê in ʼn poging om hulle te oorreed om geld in hulle idee te belê.
“Ons probeer darem gaaf wees met die mense. Ons is meer van ʼn ‘dolphin pool’ as ʼn ‘shark tank’,” skerts Daniel in sy sterk Noord-Kaapse aksent.
Hy het grootgeword op die dorp Keimoes, sowat 40 km van Upington, en het matriek aan die Hoërskool Keimoes voltooi. Hy het as leerder en atleet uitgeblink en ook gereeld velditems soos die 100 m- en 110 m-hekkies en verspring gewen.
“My pa was die jongste van nege kinders en het nooit die geleentheid gehad om te gaan studeer nie. Ek wou altyd geleenthede hê. Ek het op skool altyd gelees van die kinders in die groot stadskole wat op buitelandse toere gaan en op tartanbane tennis speel, goed wat ons nie gehad het nie.
“As ek so vreeslik ambisieus voorkom, is dit nie asof iets my jaag nie. Ek voel net ek moet my volle potensiaal bereik, want ek moet dankbaarheid betoon vir die geleenthede wat ek uiteindelik gekry het,” verduidelik Daniel.
Daarom probeer hy nou, in die produktiewe fase van sy lewe, soveel moontlik woeker, sê hy. Hy het dwarsoor die wêreld gereis om ʼn studie te maak van verskillende lande se sake- en beleggingstrategieë. Hy het bevind dat Suid-Afrika sowat 30 jaar agter die res van die wêreld is wat entrepreneurskap betref.
Dink soos ʼn miljardêr fokus op ʼn reis van groei en hoe om ʼn kleinsakeonderneming blitsig te laat groei sonder om ʼn bank te raadpleeg.
“Dit gaan alles oor die denkrigting, eerder as oor die fisieke goed wat jy doen. Vir my is denkrigting die groot verskil tussen entrepreneurs wat baie suksesvol is en diegene wat nie is nie.”
Sy grootste motivering om die boek te skryf, spruit uit die dankbaarheid teenoor sy mentors wat hulle bedryfsgeheime met hom gedeel het.
Die regte mentors het ‘n uiters belangrike rol in my ontdekkingstog gespeel om te verstaan hoe mense op ‘n eerlike manier skatryk word (bl. 64).
“Baie mense wat goed uitvind, wil dit vir hulleself hou, maar die ekonomie werk anders. As ons iets uitvind wat werk, moet ons dit met soveel moontlik mense deel, want as die ekonomie groei, help dit almal om suksesvol te wees. Een ou kan nie op sy eie suksesvol wees nie, want hy sal ook op die ou einde misluk.”
Daniel glo dat as ʼn groot aantal mense toepas wat hy in die boek geskryf het, kan die land se ekonomie verdubbel word binne die volgende tien jaar. “Ek weet dit klink groot en ambisieus, maar volgens my is dit beslis moontlik.”
Die Strausse woon op die Val de Vie-landgoed in die Paarl, waar hulle in die natuurskoon gaan stap of met fietse ry om te ontspan.
“Ons geniet dit ook om op Saterdagmiddae te braai en rustige familietyd saam deur te bring. Ons is rustig, maar ons is nie ledig nie.”
Hy lag wanneer hy vertel dat mense wat by hom en Rolene, afkomstig van Volksrust in Mpumalanga, aan huis kom kuier hoë verwagtinge het. “Mense verwag van ons om anders te wees as wat ons is, soos koninklikes met ʼn butler en elke ding, en dan verras ons hulle deur vir hulle te braai.”
Daniel is uiters beskeie oor die feit dat hy sy lewe met een van die mooiste vroue ter wêreld deel. Die egpaar is in Februarie 2016, sowat twee jaar nadat Rolene as Mej. Wêreld gekroon is, by die skilderagtige Laurent-trouvenue op die Lourensford-wynlandgoed in Somerset-Wes getroud.
“Ek en Rolene het drie jaar voordat sy aan enige kompetisies deelgeneem het al begin uitgaan. Vir my is sy nog steeds net die student van Bloemfontein op wie ek oorspronklik verlief geraak het,” sê Daniel.
Enige groot name met wie hy al skouers geskuur of sake gedoen het? “In my bedryf is dit nie goeie praktyk om met name te smous nie. My gunstelingbekende met wie ek al skouers geskuur het, is Rolene Strauss,” lag hy.
- Dink soos ʼn miljarder kos R290 (Prys onderworpe aan verandering) en is aanlyn by NB-Uitgewers te koop.
- Daniel Strauss, skrywer van Dink soos ʼn miljardêr, het in die Maroela-ateljee gekuier om meer oor waagkapitaal te gesels. Hy verduidelik ook hoe om potensiële mentors te nader en oor sy strategiese besluit om ʼn Instagram-profiel te skep. Luister bo-aan die berig na die volledige onderhoud.
Twee prágtige mense!
So bly vir sy part ook bly hy bly plat op die aarde ekt so baie saam hoogmoedige mense in my loopbaan gewerk dis ni snaaks nie as sommige persone iets agter hul name het dan meng hul mos nie maar sterkte in dit wat jy doen en hou aan met goeie werk
Puik. Ons kultuurgroep sal by uitstek entrepeneurs moet word om te kan oorleef.
Het onderhoud met hom deur Hannes van Wyk op Kwêla gesien – baie inspirerende en interessant hoe hy dink en te werk gaan