David Kramer: ‘n biografie

Dawid de Villiers en Mathilda Slabbert

David Kramer se bekendheid strek wyer as die Karoovlaktes. Sy weghol-treffers en oorrompelende glimlag in die Volkswagen-advertensies het in die 1980’s ’n huishoudelike naam van hom gemaak. Net meer as ’n dekade later het sy musiekblyspele saam met Taliep Petersen internasionale roem gebring met vertonings op die West End en Broadway.

Maar wie is die man agter die kitaar en die rooi velskoene?

Dié biografie onthul ’n woordkunstenaar wat kan toor met Afrikaans, ’n slim sakeman en iemand met sterk beginsels wat opstaan teen ongeregtigheid. Die boek vertel van sy grootwordjare in Worcester en hoe hy sy stem as kunstenaar gevind het. Dit vertel ook van die uiters private mens agter die “almal se pêl”-persona en van die skadukant van skielike roem.

Kramer se lewenslange droom om ’n stem te gee aan die randfigure binne die Afrikaanse leefwêreld het die afgelope dekade ’n werklikheid geword namate hy die werk van bruin folk musikante van die Karoo begin opteken het. As musikale antropoloog het hy ’n groot bydrae gelewer om ons verstaan van Suid-Afrikaanse musiek verder uit te brei.

Dié onthullende boek bied ’n rare blik op wat agter die skerms gebeur het in die loopbaan en die lewe van een van ons gewildste musikante.

Oor die outeurs:
Vir meer as vier jaar het Matilda Slabbert en Dawid de Villiers intiem saam met die Kramers self gewerk om hierdie openhartige boek te skryf.

Albei die skrywers doseer Engelse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch en is passievol oor kreatiwiteit en woorde – en oor die werk van David Kramer, wat hul reeds jare bestudeer.

Tilla Slabbert het verskeie artikels oor Kramer gepubliseer in sowel akademiese joernale as in meer alternatiewe publikasies soos die tydskrif Pomp. Sy het ook ’n hoofstuk oor dié Suid-Afrikaanse ikoon geskryf vir ’n onlangse bundel. Tilla het grootgeword in Aliwal-Noord en woon op Bettysbaai.

Dawid de Villiers het saam met Tom Dreyer ’n reeks artikels vir By geskryf. Hy woon in Wellington en is self ook ’n musikant en kitaarspeler.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R195-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.