Deelstad: ’n Boek oor Berlyn

deur Karel Schoeman 

In hierdie boek doen Karel Schoeman verslag van ’n lang besoek aan Berlyn gedurende 2008 wat in 2010 en 2011 met korter besoeke opgevolg is. Afgesien van inligting oor die nuwe, herboude en verenigde Berlyn ná die val van die Muur in 1989, verskaf die boek ook waardevolle kennis oor die geskiedenis van Berlyn. Dié geskiedenis loop baie nou saam met die ontwikkeling van die staat Pruise, die Eerste Wêreldoorlog, die opkoms van Nazisme, die konsentrasiekampe naby die stad en die gruwels van die Tweede Wêreldoorlog. Daar word ook uitgewei oor die bloeityd van die kabaret en film in die tyd tussen die oorloë en na die verdeling van die stad in Oos- en Wes-Berlyn ná die Tweede Wêreldoorlog. 

In Schoeman se eie woorde: ‘’n Verdeelde en gefragmenteerde stad, nog altyd, en nie slegs as gevolg van die ongelukkige Duitse en Europese verlede nie, maar op ’n meer wesenlike wyse, omdat dit sy besondere aard is om fragmentaries te wees: ’n stad van los dele─’n deelstad, sou ek dit gerieflikheidshalwe wil noem, alhoewel dit natuurlik korrekter sou wees om van deelstéde te praat, losstaande onderdele van ’n groter geheel.

‘Dog dit is juis deurdat dit so gefragmenteerd is, dat Berlyn terselfdertyd ook so veelvlakkig en ryk geskakeerd kan wees. En waarskynlik is dit juis wat Berlyn so interessant, so opwindend en so stimulerend maak.’ 

Oor die outeur:
Karel Schoeman, een van Suid-Afrika se produktiefste skrywers, het talle romans, novelles, dramatekste en historiese werke geskryf. Sy werk is reeds talle male bekroon, o.a. met die Hertzogprys en die Recht Malan-prys. Hy is nie vir onderhoude beskikbaar nie.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R280-00*
*prys onderhewig aan verandering

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.