Dek jou tafel dié Paasfees met liefde en dankbaarheid

(Foto: Verskaf)

Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het hom herken.… – Lukas 24: 30-31a

Te midde van ʼn wêreldwye Covid-19-pandemie is Rudi Swanepoel, skrywer van Kom sit aan, se Paasfeesboodskap aan mense eenvoudig: Sit dié Paasfees by God se tafel aan.

In Kom sit aan ondersoek Swanepoel die mens se verhouding met kos. Hy kyk na vrae soos wat dit beteken om te eet, of dit bloot die bevrediging van ’n drang is en of dit die inneem van ’n hervulling is, soos om na ʼn vulstasie toe te gaan en petrol vir jou motor te kry.

Dié boek simboliseer ʼn dieperliggende verhouding tussen aardse en geestelike voedsel. Met die oog op Paasfees word dit toepaslik gemaak op die nagmaalstafel, waar Christene deel in die liggaam en bloed van Christus.

(Foto: Verskaf)

“Juis nou [tydens Paasnaweek] moet ons die verhaal van die Emmausgangers gaan lees en raaksien hoe God aan die etenstafel openbaar word.”

Swanepoel verwys na die teksgedeelte in Lukas 24 waar Jesus deur die breek van die brood herken word. Kort na die opstanding was twee van sy volgelinge op pad na Emmaus, ʼn plattelandse dorp ongeveer 12 km van Jerusalem. Die mans het padlangs vir Jesus raakgeloop, maar Hom nie herken nie. Toe hulle in Emmaus aankom het die mans Jesus genooi om by hulle tuis te gaan. Later die aand het hulle Hom eers herken toe Hy die brood aan tafel gebreek het.

Paasfees word dié jaar op ongewone wyse gevier. Eredienste vind aanlyn plaas en geliefdes is nie in die liggaam bymekaar nie. Dit is ook ʼn besondere komplekse tyd vir mense as gevolg van verskriklike ekonomiese onsekerheid, sosiale distansiëring en onsekerheid oor die toekoms.

Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uiting aan die wet van Christus. – Galasiërs 6: 2

Die luuksheid van ʼn aardse feesmaal en samesyn is dalk nie gewaarborg nie, maar aan God se tafel kan elkeen na hartelus aan sy geestelike voedsel smul. Daarom moedig Swanepoel mense aan om in dié tyd letterlik en figuurlik saam te eet en na mekaar om te sien. Hiermee beklemtoon hy dat aardse en geestelike kos ʼn eenheid vorm.

Swanepoel sê Christene maak dikwels die fout om hul geestelike en aardse voedsel te skei. Die samebindende waarde van kos lê juis daarin dat dit gedeel word met ander en dat God ook by die etenstafel “aansit”, sê hy.

“Omdat ons dié jaar nie in vlees bymekaar kan wees nie, moet ons juis moeite daarmee doen om uit te reik na mekaar,” sê hy. “Weens die wonder van tegnologie kan ons gelukkig steeds op ander maniere kontak hê.”

Die spiritualiteit van die tafel sê: Ek hoef nie te smag na die buitengewone, my lewe te slyt terwyl ek wag vir ’n wonderwerk (’n ridder op ’n wit perd, ’n skatryk weduwee, ’n bekeerde kind) of te hoop vir beter dae nie. – Kom sit aan, bl. 216

Swanepoel moedig Christene aan om in die tyd opnuut dankbaar te wees vir die kleiner dinge in die lewe, al kan ʼn mens nie by ʼn feesmaal aansit nie. Hy herinner mense ook om uit te reik na ander mense wat in nood verkeer en hulle na God se feestafel te nooi.

“Daar is baie mense wat nie sonder hulp deur hierdie tyd gaan kom nie. Dit bevestig dat ons mekaar nodig het,” sê hy. “Ek dink God se tafel is juis een waar ons genooi word nie net om uit te deel nie, maar ook om saam te sit.”

Meer oor die skrywer

Rudi Swanepoel is ʼn predikant by NG Gemeente Andrew Murray in Johannesburg. Hy is passievol oor kosmaak en gasvryheid. Ná matriek begin Rudi teologie aan die Universiteit van Pretoria studeer, maar sy studies vir drie jaar onderbreek om as kopieskrywer in die advertensiebedryf te werk. Hy het sy teologiese opleiding later aan die Stellenbosch Universiteit voltooi en predikant geword in die NG Kerk. Die afgelope tien jaar is Johannesburg sy tuiste waar hy sy lewe deel met Carina (ʼn fisioterapeut) en hul vier kinders.

Volg vir Rudi se geestelike reis op Instagram by @rudeswan. Kyk ook hier na sy lasagneresep. Dit neem lesers op ʼn intieme kookervaring. Die resep het in sy boek “Kom sit aan” verskyn en is geskik vir lesers wat die kuns van kosmaak waardeer.

Uitgewer: Lux Verbi
Prys: R170,00 (e-boek) en R205,00*

*Pryse onderworpe aan verandering
Koop die boek en e-boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat ons tot stilstand gedwing is….dat ons kan ervaar dat U altyd en ewig by ons is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.