Deon Meyer verklap meer oor sy skryfproses

Deon Meyer, een van Suid-Afrika se gewildste skrywers, se nuwe boek is beskikbaar op die winkelrakke. Dit is weereens ’n treffende eenwoordtitel: Prooi.

Deon Meyer. Foto: Facebook

Wie het Griesel dié keer in die visier?

Meyer se aanhangers het oor die jare gaande geraak oor een van sy karakters, Bennie Griesel, ’n speurder met ’n drankprobleem. Dié keer ondersoek Griesel die Johnson-Johnson dossier, ’n saak wat reeds gesloer het voor hy die dossier onder oë kon kry. Die slagoffer is ’n afgetrede polisieman wie se lyk net buite Drie Susters op ’n treinspoor gevind is.

Meyer het onlangs meer oor sy skryfproses op die jaarlikse byeenkoms van leeskringe in en om Pretoria, onthul. Dié spoggeleentheid is aangebied deur die Tygerpoort-leeskring en het by die gemeente Moreletapark se gebou plaasgevind. Ettiene Bloemhof van NB Uitgewers, Meyer se uitgewer, het die gesprek gelei. Prooi is Meyer se dertiende misdaadroman. Die gesprek is afgeskop met Meyer wat ’n hoofstuk uit die boek voorlees, voorwaar ’n kosbare oomblik vir sy aanhangers.

Staatskaping

Een van die meer fassinerende aspekte van die bekroonde skrywer se skryfproses is waar hy inspirasie vir sy storielyne vind. Weens die wêreldwye aandag wat sy boeke geniet, plaas hy somtyds eg-Suid-Afrikaanse kwessies in die kollig. In Prooi, byvoorbeeld, speel staatskaping ’n rol.

“Toe Cyril Ramaphosa verkies is as president moes ek groot veranderinge aan die manuskrip aanbring om aan te pas by wat gebeur het. Ek was nog nooit so bly om my storielyn te verander nie!” het Meyer gesê. Alhoewel hy geensins ’n politieke analis is nie, word hy gereeld deur internasionale joernaliste gevra wat hy dink van die land se uitdagings.

“Alhoewel ons nog ver het om te gaan, kan ek darem weer met ’n skoon gewete ons land bemark,” het Meyer gesê.

Bloemhof het uitgebrei oor watter groot aanwins Meyer se internasionale aanhangers vir die land is. “Deon doen moeite om die land, sover moontlik, in ’n positiewe lig te stel wanneer hy sy boeke oorsee bemark.”

Meyer het ’n pluimpie gegee vir Jacques Pauw se boek: The President’s Keeper. Hy meen dié boek het hom baie werk gespaar. “Suid-Afrikaners het reeds ’n begrip van wat die staatskaping behels, en ek het nie nodig gehad te veel uit te brei oor hoe diep staatskaping strek nie. Ek kon by die inligting wat reeds in die openbaar is, aanhaak om my storielyn te versterk.”

Polisiediens

Deon Meyer se nuwe boek Prooi.

’n Ander brandpunt wat Meyer in die boek uitlig, is die stand van die polisiediens en die druk waaronder polisiemanne, en veral spesialis-ondersoekeenhede, hul werk moet doen. In sy boek beskryf hy die gebou in Kaapstad waarin die spesiale taakmag moet werk. Dit is ’n vervalle gebou, wat selfs ’n gevaar vir die polisiemanne inhou, en Meyer noem selfs dat die departement van openbare werke versuim om hul pligte na te kom.

“Dit is inderdaad die omstandighede waarin ons spesialis-ondersoekeenhede hulself bevind.” Hy meen dit is ’n skande. “Die tipe werk wat die manne daar buite verrig, is reeds gevaarlik genoeg.”

Meyer het oor die jare vriende geword met lede van die polisiediens weens die navorsing wat hy vir sy boeke gedoen het. Een van sy vriende, wat jare lank in diens was vir die Valke, het hom genooi om sy afskeidspartytjie ná sy aftrede uit die polisiediens by te woon.

“Wat my opgeval het, was die broederskap wat daar tussen die manne is. Hulle verstaan mekaar se hartseer en soms postraumatiese stres waarmee sommige lede worstel weens hul werk.”

Deel van Meyer se verhaal speel in Frankryk af. Meyer het selfs tyd met polisiemanne in Frankryk spandeer as deel van sy navorsing.

“Die kameraadskap tussen die manne was dieselfde, dit is net opvallend hoe die manne in Frankryk meer ‘behoue’ bly. Hulle is definitief nie so blootgestel aan die gruweldade van misdadigers soos hier in ons land nie.”

Die geleentheid was egter nie net om Meyer se skryfvermoë te bewonder nie. Honderde boekwurms het die gebeurtenis bygewoon om hul liefde vir lees te vier.

Lees om lank en lekker te leef

In ’n era waar tegnologie seëvier, is dit lekker om te weet lees is nog lank nie oudmodies nie. Dié jaar was dit die Tygerpoort-leesking se beurt om die jaarlikse byeenkoms aan te bied. Monica Hammes, ’n entoesiastiese leser en lid van dié leeskring, het die belangrike rol wat leeskringe vandag steeds speel, beklemtoon.

“Ons het leeskringe waarvan selfs drie geslagte van vroue (ouma, ma en dogter) lede is,” het sy gesê. “Daar is tans 78 Afrikaanse leeskringe in Suid-Afrika en ons spog met ons 78ste byeenkoms dié jaar, wat ’n noemenswaardige prestasie vir die leeskultuur is!” het sy verduidelik.

Lede van die verskeie leeskringe kom maandeliks bymekaar en bespreek ’n boek wat al die lede eers gelees het.

Linette van der Merwe, ’n bekroonde operasanger, en haar man, die tenoor Chris Mostert, het die gehoor met ’n keurspel van liedjies vermaak. Die geleentheid is afgesluit met ligte verversings waartydens Meyer sy aanhangers se gunstelingboeke kon teken.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Daan Erasmus ·

Deon se boeke is fantasties. Hy moet meer aandag gee aan die stroom af skrywers, draaiboek skrywers by Getroud met Rugby. Dinge is besig om verkeerd te loop daar. Die storie rafel uit.

Kryger ·

Deon Meyer glo blykbaar Maties moet verengels, tog wil hy sy boeke aan Afrikaners verkoop? Hoe arrogant!

Pieter ·

Wat n wonderlike skrywer. Ons het al sy boeke (gunsteling is 13 uur) maar hoekom ydel praat en vloek? Ons weet dat dit sommige mense swets ,maar dit gee beslis nie trefkrag aan enige storie nie. Ekt 1 van die boeke gevat en die vloekwoorde geskrap en toe weer gelees en het die storielyn toe geesins beinvloed nie. Ek voel elke keer as ek die naam van die Here lees skuldig (verbreking van een van die gebooie) deler is so goed soos die steler. Daar kan aan my gese word moenie die boeke lees nie -nee as n maniese leser van sy fantastiese boeke ,is dit mos makliker dat die geswets uitgelaat word en die Here op die manier geeer word.

du Toit ·

Pieter, natuurlik gaan vloekwoorde nie ‘n storielyn beïnvloed nie, maar dit verleen beslis geloofwaardigheid aan ‘n verhaal. In hierdie geval is Bennie Griesel se taalgebruik verseker as karakteriseringstegniek gebruik – ‘n goeie mens, hardwerkend, met soms ‘n vuil mond. Hy is nie ‘n predikant nie; hy is ‘n poeliesman…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.