Dié Afrikaanse boeke is amptelik 2021 se gewildste

Deon Meyer (Foto: Woordeboek van die Afrikaanse Taal)

Deur Christiaan Boonzaier

Die krimi-koning Deon Meyer sê hy was salig onbewus van sy jongste treffer, Donkerdrif, wat vir die tweede opeenvolgende jaar ’n uitsonderlike boeke-mylpaal aangeteken het.

Volgens Nielsen BookScan SA het 11 226 eksemplare van dié roman tussen 1 Januarie en 31 Desember verlede jaar in boekvrate se winkelmandjies beland – loshande 2021 se topverkoper onder Afrikaanse boeke.

Dit is dieselfde mylpaal wat die boek die jaar tevore in 2020 behaal het – en toe ook in rekordtyd: Nadat dit in November 2020 uitgereik is, is 29 813 eksemplare in minder as ses weke verkoop. Dit het daarmee nie net die gewildste Afrikaanse boek van 2020 geword nie, maar ook die gewildste boek onder alle tale in die land.

Meyer sê hy is verbaas oor die boek se dubbele topverkoper-status, veral omdat dit in die Covid-19-pandemie uitgereik is, wat die boekbedryf én lesers se geldsakke ordentlik gestoomroller het. Hy is juis daarom diep dankbaar “teenoor die ongelooflike ondersteuning van Suid-Afrikaanse en veral Afrikaanse lesers”.

“Ek het maar soos die hele boekbedryf gedink dat die inperking sy tol sou eis,” sê hy.

“Dit [Donkerdrif se wegholsukses] wys ook darem dat so baie boekwinkels ingespring het en met posbestellings en sosiale media gewoeker het. Na my mening is hulle die groot helde van dié storie.”

Meyer sê yslike boekverkope sou hom “in gewone omstandighede” toelaat om ’n ordentlike blaaskans te neem, maar dít is om goeie redes nie nou die geval nie.

“Ek is dankbaar om te kan sê dat die belangstelling wêreldwyd om boeke in films en TV-reekse te omskep, my die afgelope jaar baie besig gehou het.

“Ons hoop om ’n paar lekker aankondigings in die komende maande te doen.”

Benewens Meyer het ander geliefde skrywers ook rede om te glimlag. Op die kop 7 202 eksemplare van Irma Joubert se historiese roman Na ’n plaas in Afrika is verlede jaar opgeraap – amptelik die naasgewildste Afrikaanse boek van die jaar – terwyl Ebbe Dommisse met Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate die derde plek op die ranglys (hieronder) beklee. Dié boek is ook met verkope van 4 160 eksemplare die gewildste Afrikaanse niefiksie-boek van die jaar.

Die gewildste Afrikaanse kookboek is Vleis deur Annelien Pienaar (3 483 eksemplare) en die gewildste Afrikaanse kinderboek Hallo, Tippie! deur die ma-en-dogter-skrywersduo José Palmer en Reinette Lombard.

Rudie van Rensburg, asook Palmer en Lombard is die enigste skrywers met meer as een boek in die top-20 – Van Rensburg met Hartedief en Hans bars die bioborrel, en Palmer en Lombard met vier boeke uit hul Tippie-reeks.

Die volledige ranglys van Afrikaanse topverkopers in 2021 is soos volg:

  1. Donkerdrif deur Deon Meyer (11 226 eksemplare)
  2. Na ’n plaas in Afrika deur Irma Joubert (7 202)
  3. Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate deur Ebbe Dommisse (4 160)
  4. Hartedief deur Rudie van Rensburg (3 943)
  5. ’n Baie lang brief aan my dogter deur Marita van der Vyver (3 783)
  6. Vleis deur Annelien Pienaar (3 483)
  7. Hallo, Tippie! deur José Palmer en Reinette Lombard (3 437)
  8. Die Bybel (3 412)
  9. Asem deur Jan Vermeulen (3 392)
  10. Huiskos: Nostalgie is die beste geurmiddel deur Herman Lensing (3 385)
  11. Marinda se koskas deur Marinda Engelbrecht (3 382)
  12. Dink soos ’n miljardêr: Geheime van ’n suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneur deur Daniel Strauss (3 346)
  13. Minder as niks deur Irma Venter (3 305)
  14. Tippie en die hen deur José Palmer en Reinette Lombard (3 265)
  15. In die tyd van die gif: ’n Jaar en ’n half in stories deur Dana Snyman (3 093)
  16. Tippie se jas deur José Palmer en Reinette Lombard (3 006)
  17. Uit die beek 2022 deur Barend Vos (2 755)
  18. Tippie en die kat deur José Palmer en Reinette Lombard (2 742)
  19. Hans bars die bioborrel deur Rudie van Rensburg (2 737)
  20. Marilyn deur Chanette Paul (2 617)

Nielsen BookScan SA hou reeds sedert 2003 ’n oog op boekverkope by algemene en aanlyn boekhandelaars in Suid-Afrika, en reik weekliks syfers oor boekverkope uit. Dié syfers, asook die ranglys hierbo, sluit verkope by akademiese boekhandelaars en e-boek-verkope uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.