Die ander vrou

deur Kristel Loots

Linda is die ander vrou. Oor haar word gesê sy’s ‘n tert in die bed, ‘n feeks, iemand wat gestenig sou word in die ou dae.

Maar ons woon nie meer in die ou dae nie. In die ou dae het die held en die heldin dalk gesoen op die laaste bladsy. Kristel Loots open die teks binne-in die bed op die huweliksnag. Hier sit Linda, sy is pas getroud en haar splinternuwe man (oukei hy is baie ouer as sy) verlang terug na sy eksvrou se skaapboud.

Fanus se eks is boonop ‘n frieken engel, eintlik te goed om waar te wees. Geen wonder daar is gate in Linda se huweliksbootjie nie.

Dis boonop nie maklik om jou man met sy vorige gesin te deel nie. Hierdie moderne-familie-konsep-ding raak soms net té bisar vir Linda. Dit sal soveel eenvoudiger wees om jou man se eks met ‘n passie te haat en klaar. Beskaafde egskeidings raak net te ingewikkeld.

Toe gryp Makarios in. Hy is ‘n gekwalifiseerde seksuoloog.

Die probleem is: Makarios is die man wat Linda graag wil hê. Fanus, wat al hoe meer twyfel in sy nuwe vrou, kan eenvoudig nie meeding nie. Linda weier egter om Fanus seer te maak. Die samelewing het verander, kan dieselfde gesê word oor die romantiese komedie? Lees maar self. Selfs die doodsengel verstaan nie mooi wat aangaan toe hy by Linda moes kom aanklop nie.

Om die ander vrou te wees is sowaar nie vir sissies nie, maar om Die ander vrou te lees, dit is ‘n prettig, pittige ervaring, want daar is meer kinkels in hierdie storie as in ‘n fyngeweefde kousband.

Die ander vrou vorm ‘n tweeluik met Eendagmooi wat in 2012 verskyn het.

Oor die outeur:
Kristel Loots woon in Kaapstad. Meer as dertig romans van haar het al onderskeidelik by LAPA, Tafelberg en Carpe Diem verskyn. Sy skryf ook boonop verhale en artikels vir verskeie vrouetydskrifte.

Uitgewer: LAPA uitgewers
Prys: R195-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.