Die Anglo-Boereoorlog: ‘n Chronologie en die kaarte

Pieter Cloete

Pieter Cloete se boek Die Anglo-Boereoorlog: ‘n Chronologie en die Kaarte is die Afrikaanse weergawe van sy unieke The Anglo-Boer War: A Chronology wat in 2000 verskyn het. Dit is op aandrang uit verskeie oorde totaal hersien, bygewerk, in ‘n ander formaat gegiet en deur die skrywer self in 2012 uitgegee.

Die kaarte – nou in kleur en in ‘n aparte omslag – is uitgebrei en talle bronne wat gedurende die herdenkingstydperk verskyn het, is geraadpleeg om die chronologie een van die volledigste enkelvolume werke oor die Anglo-Boereoorlog te maak.

Hierdie is nie ‘n wetenskaplik-historiese ontleding nie, dit is ‘n chronologie: ‘n poging om ‘n beknopte, dag vir dag, slag vir slag opgawe van die elf maande wat die ultimatum voorafgegaan het en die 963 dae van die begin van vyandighede tot die finale vredesverdrag weer te gee.

Die boek verhaal kortliks die politieke en militêre verloop van die Anglo-Boereoorlog in streng chronologiese orde met dagboektipe inskrywings. Dit is gerangskik in streeks-, veldtog- en ander indelings wat die leser in staat stel om bepaalde gebeure, veldtogte en ander aspekte van die oorlog te kan volg soos dit gebeur het.

Waar moontlik, is direkte aanhalings uit toesprake, briewe, telegramme, ens. gebruik om die gebeure “lewendig” – uit die oogpunte van die betrokkenes – weer te gee.

“Trivia”-brokkies vermeld ander gebeure gedurende die periode, gee ‘n wyer geskiedkundige perspektief en plaas die oorlog teen ‘n wêreldwye agtergrond.

Prof. Fransjohan Pretorius van die departement historiese en erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria beskryf die boek as ‘n aanwins: “Dit moet eenvoudig op die rak van elke belangstellende staan – en sommer binne reikwydte.”
Pieter Cloete is ‘n argitek van Klerksdorp. Hierdie boek is die produk van ‘n lewenslange belangstelling in militêre geskiedenis en veral die Anglo-Boereoorlog.

Die boek (396 bladsye in stewige A4 glans-sagteband) saam met die kaarte (41 kaarte, diagramme en tabelle) beloop R450 (posgeld uitgesluit). Om ‘n bestelling te plaas, stuur ‘n e-pos aan [email protected].

Besoek  die boek se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Canondice Mout ·

Goeie dag. Is daar dalk ‘n ander (makliker) manier wat ek die boek kan kry vir my dogter se home schooling, asb

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.