‘Die Christen en sy werk’: Arbeidsverhoudinge as vrug van die Gees

Wikus Buys, uitvoerende direkteur van Begrond. (Foto: Verskaf)

Hiermee die hoofstuk “Arbeidsverhoudinge as vrug van die Gees” deur Gideon du
Plessis en Wikus Buys wat in
Die Christen en sy werk verskyn.

Die werkgewer-werknemer-verhouding is oor die algemeen uitdagend en kompleks by die meeste werkplekke in Suid-Afrika. In sy boek God is my CEO: Following God’s principles in a bottom-line world takel die leierskapskenner Larry Julian ʼn probleem waarmee talle Christene in bestuursposisies gekonfronteer word. Hy beskryf hierdie probleem as ʼn botsing tussen twee wêrelde: Aan die een kant staan die besigheidswêreld met sy konstante klem op produksie en wins, en aan die ander kant die Christen se privaat lewe en geloof. Die vraag is hoe bring ʼn mens jou geloof in God in direkte verband met jou besigheid en die bestuur van arbeid. Dié vraag en die antwoord daarop vorm die kern van Julian se boek. Hy spreek hom sterk uit teen die algehele skeiding tussen dié twee wêrelde wat bykans niks met mekaar te doen het nie, en skryf:

This paradigm has demanded that we operate in two separate worlds: a deeply personal, private, spiritual world and a very public, demanding, competitive business world. For the most part, these two worlds clash in their values, beliefs and principles, and we are caught in the middle.

Julian maak dan ʼn lys van kontraste tussen die wêreldse besigheidsreëls en die beginsels wat God daarstel. Enkele van die sake wat van belang is, word dan teenoor mekaar uitgelig.

Wêreldse waardesBybelse beginsels
Resultaat gedreweBedoeling gedrewe
Wat kan ek kry?Wat kan ek gee?
Sukses = geldSukses = mense
Werk om mense tevrede te  stelWerk om God tevrede te stel
Vrees vir die onbekendeLewe in hoop
Leierskap   is   om   die meeste te weesLeierskap is om dienend die minste te wees
Beheer allesLaat dinge oor in God se hand
Die doel heilig die middeleDoen altyd die regte ding
KorttermynvoordeelLangtermynnalatenskap
Slaaf van die dringendste dingeVryheid van keuse
Nooit genoeg geproduseer nieOnvoorwaardelike liefde

 

Die kernprobleem waarmee Christene in arbeidsverhoudinge en bestuur dikwels worstel, is of die mens tegelyk eties korrek kan optree én winsgewend kan bly? ʼn Maatskappy wat byvoorbeeld nie op die aandelebeurs gelys is nie, sal eerder nie hul winste wil openbaar nie, want andersins kan dit teen hulle gebruik word gedurende salarisonderhandelinge met vakbonde. In ʼn ander voorbeeld is omkoopgeld en onetiese gunste só aan die orde van die dag om toegang tot winsgewende kontrakte te kry, dat ʼn keuse uitgeoefen moet word oor eerlikheid teenoor volhoubaarheid.

Julian gee dan ʼn paar goeie wenke oor hoe iemand wat ʼn Christen is, wel sy geloofswaardes in die werkplek kan behou en selfs herwin. Hy maak dan ʼn goeie saak uit daarvoor om vanuit jou roeping die doel en betekenis van jou werk vas te stel. Die basis hiervan is dat God wel roeping gee en dat die waarde van jou werk juis daarin lê. Dit beteken nie dat roeping nie soms herhaling en sleurwerk kan insluit nie, maar die wete dat jou werk ʼn dieper Goddelike doel het, gee die krag om daarmee voort te gaan. Julian meen dat daar ʼn goeie balans tussen die dryf na sukses en die ervaring van betekenis moet wees. Hy stel dit so: “Success drives us by a desire for tangible things; significance guides us by a desire for something greater than what is tangible.” ʼn Mens moet uit die aard van die saak leer hoe om hierdie balans te bereik.

Daarvoor is moed nodig. ʼn Christen moet in sy werkplek geloofsmoed aan die dag lê deur op God se beloftes te bou. Die eties korrekte optrede is nie altyd die mees logiese aksie of een wat algemeen aanvaar word nie. Moed om in moeilike omstandighede steeds die regte ding te doen, is wat die groot verskil maak. Talle voorbeelde kan genoem word, maar om op slegs twee te fokus, kan die punt beklemtoon word. Eerstens, wanneer ʼn medewerknemer of vakbondverteenwoordiger ʼn werknemer tydens ʼn dissiplinêre proses moet verteenwoordig en daar agtergekom word dat die werknemer aan die klagte skuldig is, kom die toets om die regte ding te doen. Gesprekke met die werknemer en werkgewer kan in liefde geskied om die werknemer tot ʼn skulderkenning te lei en die werkgewer weer te oortuig om in liefde die erkenning as versagtend te ag wanneer ʼn sanksie bepaal word. Tweedens kan werknemers onredelike versoeke tydens byvoorbeeld salarisonderhandelinge eis, waar medewerknemers dan in liefde en vriendelikheid op hul onvanpaste eise gewys moet word. Hierdie optrede verg moed, maar ook geduld.

Een van die groot toetse kom juis na vore wanneer vasgestel word of iemand geduld het. Geduld is om te wag op God se tyd en op God se beloftes. Om doeltreffend geduldig te wees, vereis natuurlik dat ʼn mens deurentyd bid. Die doel van die toets is om agter te kom of iemand se geloof ook deursettingsvermoë insluit. In ʼn wêreld wat nie wil wag nie, is dit nie altyd ʼn maklike toets nie. As ʼn mens koersvas aan jou roeping vashou, leer jy deursettingsvermoë aan met God se plan vir jou lewe. Julian stel dit soos volg:

God’s perfect plan for your life may not involve tangible evidence today. Often, it’s the things we can’t see in the present that prepare us for a significant future. But we can run boldly and with perseverance the race that God has specially marked out for each of us.

Die deel in die boek oor leierskap is baie fassinerend. Vanuit ʼn Christus-gesentreerde benadering lig Julian talle aspekte uit oor hoe om geloof en werk sinvol bymekaar te bring. Julian wys dan ook daarop dat dit belangrik is om nie geloof los te maak van jou werk nie. Hoe reflekteer jou dade, gewoontes, besluite en woorde wie God werklik is? Prakties gestel, hoe hanteer jy as Christen byvoorbeeld ʼn teleurstelling wanneer jy ʼn klein salarisaanpassing ontvang vir substantiewe nuwe verantwoordelikhede wat jy moet opneem? Hoe tree jy op teenoor jou kollega wat ten koste van jou bevorder word? Hoe verander jou gedrag ná ʼn bevordering in ʼn posisie met baie gesag en ruim vergoeding? Hoe bestuur jy jou span, of hoe motiveer jy ʼn disfunksionele span wat jy oorneem? Dit is veral in hierdie laasgenoemde begrip van dienende leierskap waarin die waarde vir besigheid en arbeidsverhoudinge opgesluit is.

Dit is noodsaaklik dat die konsep van wat ʼn Christelike bestuurstyl behels, deel word van Christene se verwagting en belewing in hul werkplek. Hier sal die vrug van die Gees, soos dit opgeteken is in Galasiërs 5:22 (1953), al baie help om in die regte rigting te gaan en ʼn Christelike benadering tot bestuur te volg: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”

Hoe sou ʼn bestuurder lyk wat die vrug van die Gees vertoon, veral in die geval waar historiese verskille en kulturele diversiteit opmerklik is? Hoe sou arbeidsverhoudinge hervorm kan word as die verwagting juis is dat die vrug van die Gees ook in werkers se onderlinge verhoudings met mekaar na vore moet kom? Hoe verander jy tradisionele arbeidsverhoudinge wat kenmerkend is aan die najaag van eie belang, na gemeenskaplike belang kenmerkend aan toegewings en ʼn gee-en-neem- en wen-wen-benadering? Dit behels natuurlik baie meer as om maar net die kommas en punte van ʼn getekende kontrak uit te stippel en toe te pas. Dit gaan ook daaroor om ʼn balans te vind tussen regte en verpligtinge.

ʼn Werkplek word gekonfronteer met vele uitdagings soos marktoestande en regulasies waaroor geen beheer uitgeoefen kan word nie, maar bestuurders en werknemers het wel beheer oor hul gedrag, optrede en ingesteldheid by die werkplek. Om dus beheer uit te oefen oor wat beheer kan word, verg dissipline en veral selfbeheersing, waarvan laasgenoemde nie sonder rede as die laaste element van die vrug van die Gees gelys word nie.

Dit is opvallend dat Paulus juis praat van “vrug” in die enkelvoud, en nie van “vrugte” soos wat meermale gesê word nie. Die enkelvoud dui juis op die eenheid in die werke van God die Heilige Gees. Iemand wat in Christus glo, as Redder en Koning, het die Heilige Gees. Die Gees laat so ʼn persoon se lewe vrug oplewer. Dit is soos ʼn granaat met baie pitte, maar saam vorm dit een vrug. Christus kom juis na vore wanneer iemand die vrug van die Gees vertoon. Christene in maatskappye en ook Christelike maatskappye sal goed doen om die vrug van die Gees as riglyn vir goeie bestuur en gesonde arbeidsverhoudinge te gebruik.

***

Oor die boek

“Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie.”

Dié woorde uit Eksodus 20 is aan baie Christene bekend, juis omdat dit so gereeld voorgehou word as deel van die Wet van die Here. Hierdie gebod se eerste bevel stel dit duidelik dat die gelowige vir ses dae moet werk, en al sy werk moet doen. Op die sewende dag mag ʼn mens egter glad nie werk nie.

Die tema van werk is vandag nog ’n gewigtige kwessie. In Die Christen en sy werk: Etiese aspekte in die werkplek, die eerste boek in Begrond se Die Christen-reeks, word die besondere band tussen die Christen en sy werkmilieu van naderby ondersoek.

Onder redaksie van Wikus Buys en Paul Maritz word verskeie kwessies in die werkomgewing bespreek saam met lesse uit die Bybel wat in daardie betrokke situasie van toepassing is. Dit bied ook praktiese riglyne oor hoe om as Christen jou werk en die wêreld van werk te benader.

Altesaam 15 skrywers het elkeen ʼn bydrae tot dié publikasie gelewer. Elke skrywer behandel ʼn unieke fokusgebied wat uit hul daaglikse aktiwiteite en werksaamhede spruit.

Tesame met Buys en Maritz se skryfstukke, verskyn daar ook bydraes deur Rikus Fick, Pierre Muller, Dirk Hermann, Marisa Engelbrecht, Hannes Noëth, Ronald Bain, Alwyn Swanepoel, Michael Heyns, Henk Stoker, Gideon du Plessis, Victor E d’Assonville, Lourens Venter en Flip Buys.

ʼn Beperkte oplaag van Die Christen en sy werk: Etiese aspekte in die werkplek is nou beskikbaar vir R190 (prys onderworpe aan verandering).

Klik hier om Die Christen en sy werk aan te skaf, of stuur ʼn e-pos aan [email protected].

  • Die uittreksel is goedgunstig deur Kraal Uitgewers verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.