Die Davelvroue – Willemien

Chanette Paul

Op aandrang van lesers verskyn die heruitgawes van Chanette Paul se gewilde Davelvroue-reeks – met splinternuwe voorblaaie en in groter formaat. Die reeks bestaan uit sewe boeke: Tamara, Willemien, Annabella, Deborah, Isabelle, Maryn en Fleur. Elke maand verskyn ’n boek – van Julie 2011 af tot in Januarie 2012.

In Willemien (1909, Tamara se broerskind) speel die taalstryd ’n rol. Wat gebeur as ’n vrou, wat ’n konsentrasiekampkind was en wie se hele familie feitlik uitgewis is deur die Engelse, verlief raak op ’n Ier? En as sy boonop ’n stryder vir die taal is en haar liefde vir die man verg dat sy Ierland toe moet trek?

Benewens die kwessie van vroue se bemagtiging, spreek die Davelvroue ook eg Suid-Afrikaanse en spesifiek Afrikaanse geskiedkundige kwessies op subtiele wyse aan, hoewel die genre steeds fokus op vroue se belewing van die liefde.

Elke vrou voer haar eie stryd, beleef op haar eie unieke manier die geskiedkundige tydperk waarin sy leef en beland in een of ander konfliksituasie met die man wat sy liefkry. Hoewel dit as ’n reeks verskyn, vorm elke boek ’n afgeslote eenheid en kan met gemak ook as enkeltitels gelees word.

Oor die outeur
Chanette Paul het veral bekendheid verwerf met haar romanses en later met die Davelvroue. Sedert 2007 het sy begin om romantiese spanningsverhale te skryf – in die volksmond staan dit al bekend as die Gys-boeke – en sy was in 2010 ’n finalis in die ATKV-Woordveertjieprys vir Spanningsromans met Boheem, die derde boek in die reeks. Sy het al vier en dertig boeke geskryf en woon op Stanford in die Overberg. Sy is lief vir lees en musiek en het ’n passie vir swem, snorkel en walviskyk. Sy is ook lid van die International Thriller Writers van die VSA.

 

Lees ‘n lekker lusmakertjie uit die boek. In hierdie toneel sit Willemien op ‘n bootreis aan die kaptein se tafel saam met ‘n klomp Britse hooggeplaasdes. Alle oë, ook Aidan s’n, is skielik op Willemien. Soos julle kan dink, kook die onderliggende emosies gou-gou oor:

Die voorgeregte is uit die heel boonste rakke en die wyn ook. Die gesprekke is lig en vermaaklik, asof selfs hierdie berese mense ook steeds opwinding op hierdie seereis ervaar. Willemien verluister haar aan die geselskap. Die beringde vroue praat merendeels oor operas wat hulle bygewoon het, kortstondig oor Kipling wat die Nobelprys ontvang het, Joseph Conrad se jongste boek, die saligverklaring van Joan of Arc en verder oor modes en hul ervarings in Kaapstad. Die mans bespreek die voor- en nadele van die Tin Lizzie, Kimmerling se vlugte in sy FlyingMatchbox en die politiek in Duitsland.

Sy sug heimlik. Dis so ’n verligting om nie heeltyd Suid-Afrikaanse politiek te hoor nie. Louis Botha is sus, ja, maar Hertzog is so … Hoe moeg raak sy nie soms daarvoor nie. Dis asof alles in Afrika ’n stryd is. Die kerk, die taal, die onlangse verlede, die toekoms.

“Ek sal my kop op ’n blok sit dis ’n Poiret-ontwerp wat jy aan het, miss Davel?” dring die stem van een van die jonger vroue tot haar deur. Lady wie nou weer? probeer Willemien onthou. Anne? Jane? Nee, Sarah.

Willemien bloos liggies. “Inderdaad,” is al waaraan sy kan dink om te sê.

“Ek verstaan gravin Greffulhe het een van sy ontwerpe na haar dogter se troue gedra en amper die bruid oorskadu! Dis waar sy faam glo begin het. Maar ek wonder tog hoe dit voel om so sonder …” Die admiraal se volborstige vrou twee sitplekke van Willemien af bloos effens. “So sonder julle-weet-wat rond te loop.”

“Wel, vra vir miss Davel,” giggel lady Sarah.

Uitgewer: Lapa
Prys: R165,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae