Die Grondwet onder die loep

Prof. Koos Malan se nuwe boek plaas die soeklig op die Suid-Afrikaanse Grondwet. Foto: Verskaf.

Deur Seugnet van Zyl

In sy nuwe boek There is no Supreme Constitution verduidelik Prof. Koos Malan dat die Grondwet as ’n bykans religieuse dokument voorgehou is, kompleet met sy eie geloofsoortuigings en sy eie boodskap van verlossing. Dog, as jy daarop vertrou het, was dit slegs tot eie nadeel en teleurstelling, want nie een van die Grondwet se geloofsoortuigings is geldig nie.

Strydig met die eerste geloofsartikel is die Grondwet nie werklik oppermagtig, verskans of stabiel, soos wat dit voorgee nie. Inteendeel. Malan verduidelik dat alhoewel die formulerings van die Grondwet nie gewysig word nie, die daadwerklike konstitusie die heel tyd in pas met sterk sosio-politieke kragte aan die verander is. Dit gebeur in weerwil van streng wysigingsvereistes.

Sommige van die veranderings is trouens ingrypend. Malan lig dié punt aan die hand van voorbeelde toe. Ons noem enkeles.

Transformatisme, wat die regering se ideologie van homogenisering (eendersmaking) behels, het die hoofwaarde en beginsel van die konstitusionele orde geword; Engelse eentaligheid het ook die Grondwet se bepalings oor amptelike veeltaligheid as deel van die daadwerklike konstitusie vervang; kaderontplooiing het eweneens die Grondwet se bepalings oor ’n professionele staatsdiens opsy geskuif. Daar is trouens etlike ander voorbeelde, soos in die boek bespreek, wat die ingrypende verandering van die (daadwerklike) konstitusie demonstreer.

Malan redeneer dat ’n mens tussen die Grondwet en die daadwerklike konstitusie moet onderskei. Die Grondwet bestaan in belangrike opsigte nie in die praktyk nie, maar slegs in formulerings op papier. Daarteenoor is daar die eintlike, daadwerklike konstitusie wat in die konkrete wêreld van praktyke bestaan. Die Grondwet se welluidende bepalings oor sy eie oppermag en verskansing kan nie verhoed dat die daadwerklike konstitusie deurlopend verander nie.

transformasie-grondwethof-prof-koos-malan-02

Prof. Koos Malan van die departement publiekreg aan die Universiteit van Pretoria het ook al aangevoer dié hof is besig om die regering se foute na te volg deur rassetransformasie as die oorheersende noodsaaklikheid van die Grondwet te beskou. Foto: Reint Dykema.

In die finale instansie kan enige sterk politieke kragte in die land die daadwerklike konstitusie verander. Dit is nie net die regering nie, maar trouens enige goed georganiseerde groepering wat in staat is om die daadwerklike konstitusie te verander.

Die tweede geloofsartikel leer dat die Grondwet magskonsentrasie en misbruik kan verhoed deur die drieledige verdeling van owerheidsgesag tussen die wetgewer, uitvoerende gesag en die regbank. Veral die howe is as ’n kragtige wig en teenwig teen die regering voorgehou. Hierdie geloofsoortuiging is eweneens op losse skroewe, want ofskoon gesag institusioneel geskei is en elkeen van die drie magte hul eie personeel en funksies het, is hulle gewoonlik heg in ’n enkele politieke leierskap geïntegreer en werk elkeen op sy eie terrein om gemeenskaplike ideologiese doelwitte – dié van transformatisme – te verwesenlik. ’n Hele rits uitsprake wat Malan breedvoerig bespreek, illustreer die regbank se ondersteunende betrokkenheid vir transformatisme.

Die derde geloofsartikel is die onwrikbare geloof in individuele regte as die waterdigte waarborg vir alle belange. Malan toon aan dat die geloof ook ongegrond is. Die rede is dat regte, hoe goed hulle ook al op papier mag lyk, nooit ’n inherente, vaste betekenis het nie. Hulle kry eers betekenis wanneer hulle deur die howe vertolk word. En hierdie interpretasie is sterk ideologies-gedrewe: die konstitusionele hof sien die regte deur die bril van transformatisme en gee daaraan ’n betekenis om die doelwitte van transformatisme te verwesenlik. Sodoende lewer uitsprake dikwels nadelige en teleurstellende gevolge op vir diegene wat op die handves van regte vertrou het.

’n Beter konstitusionele orde moet bewerkstellig word, naamlik een wat die klem plaas op outonome bestuur – selfbestuur – vir gemeenskappe en op selfbesturende beroepe, sakeorganisasies, opvoedkundige en dergelike instellings. Alleen só ’n verbeterde stelsel kan die nodige wigte en teenwigte voorsien om magsmisbruik teen te werk en wat geregtigheid vir almal – ook vir minderheidsgemeenskappe – kan waarborg. Wat veral belangwekkend is, is die bevrydende insig dat die verandering – en verbetering – van die konstitusionele orde ook ten dele binne die vermoë van kleiner, maar goed georganiseerde gemeenskappe lê, wat deur hul praktyke die konstitusie gunstig verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Dirk Jonker ·

Praat,praat – droom voort Prof – of dit ons nou hinder tot in ons grafte in – die meerderheid regeer en “anargeer” en word al hoe meer wetteloos – binnekort sal hulle eenvoudig vat net wat hulle wil en geen ou Wetjie of akademiese uitleg oor grond gaan dit keer nie!

Tiaan van Dyk ·

Geagte Dirk. Die boek gaan juis daaroor dat die meerderheid reageer en anargeer (soos jy sê) en maak wat hul wil. Jy en Prof Malan sê dieselfde ding. Hy dalk net in meer akademiese terme. Wat ek nie verstaan nie is hoekom jy Prof Malan aanval terwyl jul saamstem. Jou aanval is ongegrond en onnodig. Bemark liewer jou eie standpunt deur die boek te bemark.

Johan Venter ·

Hy kon verder gegaan het en die religieuse dokument die ANC se ‘Bybel’ genoem het.

Heinrich van Zyl ·

So ek moet R350 betaal om te lees wat ek in 1992 al geweet het?

Gert ·

Een van die belaglikste dinge in hierdie stelsel is dat die President die Hoofregter aanstel, so waar is die skeiding van die regbank?

Jaco Kleynhans ·

Ek was ‘n paar maande gelede by die bekendstelling van hierdie boek en het die voorreg om vir Prof Koos Malan reeds vir jare te ken en gereeld saam met hom aan radioprogramme oor aktuele sake in Suid-Afrika deel te neem.
Prof Malan is myns insiens een van Suid-Afrika se voorste kenners van die publiekreg en juis ook omdat hy nie net oor akademiese kennis beskik nie, maar ook uitsonderlik goed op hoogte is van ‘n legio dinge wat die afgelope paar jaar in die publiekreg in Suid-Afrika gebeur het. Hy is geen koue kliniese akademikus nie, maar eerder ‘n regskenner wat die werklike krisis met die grondwetlike werklikhede (die konstitusie waarna hy verwys) verstaan en verwoord. Sy boek is aktueel, relevant en noodsaaklike leestof vir ‘n internasionale gehoor wat kan en moet begin begryp hoe gevaarlik hard na links die konstitusionele orde in Suid-Afrika verskuif het. Die boek is elke sent werd. Daar is geen ander boek, lesing, reeks artikels of skrywes tans wat so relevant oor hierdie tema soos hierdie boek is nie.

Jack Klok ·

Hierdie boek moet verpligte leesstof wees vir almal wat nog dink dat hulle hulle op die Gronwet kan beroep vir beskerming van persoonlike regte.

Die DA, byvoorbeeld gee hoog op dat hulle die enigste party is wat die beginsels van die Grondwet nastreef en beskerm, maar leef inderwaarheid in ;n idealistiese droomwêreld, soos deur Prof Koos uitgewys.

Ons moet koelkop en realisties wees.

Dries du Toit ·

Prof. Malan het wat hy in sy boek skryf al jare gelede gewaarsku. Hy is n profeet. Die wat hom nou aanval is verseker die wat gehelp het om hierdie tragedie in SA gehelp skep het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.