Die kamer langsaan

Annemarie Coetser

’n Verhaal oor ’n vrou wat ’n roman skryf om die werklikheid te ontsnap totdat die verskil tussen werklikheid en fiksie ontstellend klein word …

Hoeveel opofferings mag die liefde van jou vra? Vir die dramatiese Donné en terughoudende Theresa is hierdie vraag die krag wat hulle op uiteenlopende paaie dryf.

Ná ’n uitval pak Donné haar tas en stuur vir haar man ’n e-pos om te sê hy moenie na haar kom soek nie. Sy huur ’n meenthuis en begin met die roman – ’n debuut, wat sy lankal wou skryf. Maar dit is ’n probleem dat so baie debuutromans eintlik maar outobiografies is. Dus skep sy ’n roman rondom die onbekende en afwesige vrou by wie sy die meenthuis huur. Gaandeweg word die verskil tussen werklikheid en fiksie ontstellend klein.

Dit is egte Coetser-werk: lewensgetrou, byderwets, sinvol, humoristies en betrek veral vroue van ’n verskeidenheid ouderdomme.

“Tog lees die boek maklik en dit kan lekker vakansie-ontspanning verskaf. Veral die twee hoofkarakters se menslikheid is so oortuigend en aangrypend dat die meeste lesers aanklank by hulle behoort te vind.” – Alida van der Westhuizen oor Oop Kaarte, Die Burger (2007).

Oor die outeur:
Annemari Coetser is op 29 September 1945 in Durban gebore. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Indwe in 1962 en het ’n Laer Diploma in Biblioteekkunde by Unisa verwerf. Sy werk in Bloemfontein en woon ook in Amerika, Namibië en Pretoria. Annemari werk vir ’n lang tyd as bibliotekaresse, skryf Siembamba-stories vir die radio en publiseer ’n paar kortverhale in tydskrifte. Sy hou daarvan om te reis, foto’s te neem, te fliek en te lees. In 2006 verskyn ’n aantal van haar kortverhale, saam met dié van drie ander skrywers, in die bundel Viersprong. Annemari se roman, Oop Kaarte, was ’n finalis in die Sanlam/Insig Groot Romanwedstryd en dit is in 2007 gepubliseer. Haar tweede boek, Langverlof, het in 2008 verskyn.

Uitgewer: Lapa
Prys: R170-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.