Die Keiservoël oor Namaland: Oorhandiging van die boek aan Namas

buitebladKoos Marais, ambassadeur van Afrikaans.com, se historiese roman, Die Keiservoël oor Namaland, is vroeër vanjaar deur Cordis Trust gepubliseer. In hierdie lywige werk vertel hy die verhaal van die Nama- en Herero-vryheidsvegters van destyds wat geveg het teen die onderdrukking van die Duitse imperiale en koloniale heersers. Hy hoop dat die boek die kollig sal laat val op die belangrike bydrae wat die Namas van Namibië en die Khoi-Khoin tot die Afrikaanse taal gelewer het en dat dit hierdie mense sal trots maak op hul herkoms.

Marais het vandeesmaand tydens ʼn geleentheid in Maltahöhe in Namibië die boek amptelik aan die Namas oorhandig. “Die geleentheid was iets waaroor ek baie jare gedroom het. Ek het hierdie Afrikaanse boek waaraan ek so lank gewerk het oorhandig aan die mense vir wie dit só belangrik is,” het Marais verduidelik.

Koos Marais oorhandig die boek aan die goewerneur van die Hardapstreek, haar edele Esme Isaacs

Koos Marais oorhandig die boek aan die goewerneur van die Hardapstreek, haar edele Esme Isaacs

Marais kon altesaam 400 eksemplare van die boek is aan die goewerneur van die Hardapstreek, haar edele Esme Isaacs, geskenk danksy die uitgewer, Cordis Trust, die Trust vir Afrikaanse Onderwys en die Lithon-stigting.

“Die boek sal só sy weg vind na die skole, biblioteke, kerke en kantore van die mense van die suide van Namibië, vir wie ek so lief is,” het hy bygevoeg.

“Die geleentheid het my oorweldig. Ek het lanklaas soveel passie, afwagting, dankbaarheid, en liefde ervaar. Ek kan eintlik nog ’n boek oor gister se gebeure skryf. Die teenwoordiges het ingesluit die goewerneurs van die Hardap- en Karasstreke, lede van die parlement, burgemeesters, tradisionele leiers, raadslede, geestelikes, amptenare en lede van die gemeenskap. Ons is vermaak met wonderlike kulturele danse soos die Namastap en my vrou Ingrid en Marsia Reed van die Lithon-stigting het pragtige handvervaardigde geskenke ontvang.”

Die Namastap (Foto verskaf aan Maroela Media)

Die Namastap (Foto verskaf aan Maroela Media)

Die geleentheid het plaasgevind teen die agtergrond van die huidige debat oor die volkslagting van 1904-1908 waaroor Marais in die boek vertel. “NBC-nuus het onlangs berig dat die Nama- en Herero-afvaardigings uit die samesprekings met die Duitse afvaardiging uitgestap het. Ná die seremonie verstaan ek baie goed hoekom hulle dit gedoen het. Duitsland wil vergoed vir hulle oortredings van destyds, maar hulle verstaan nie dat hulle eers na die regte mense moet luister nie,” Marais verduidelik. “Een van hulle was by die oorhandiging en ek beskou myself as uiters bevoorreg om hom persoonlik te kon ontmoet. Hy is kaptein David Fredericks van Bethanië. Hy is ’n unieke bron van inligting, maar ook reeds provaat. Ek hoop om binnekort ’n baie lang gesprek met hom te voer.”

Verskeie hoogwaardigheidsbekleërs het toesprake gelewer. Deurgaans was die klem op die belang van onderwys en opvoeding, lees en kulturele trots.

“Ek waag dit om dit te sê dat dit die eerste keer was wat ’n boek in Afrikaans verskyn het wat erkenning gee aan die geskiedenis en kultuur van die Namas, en dan veral aan die onregte wat teen hulle gepleeg is. Na die tyd moes ek baie boeke teken en het die Namas my persoonlik kom bedank. Hulle opregte dankbaarheid het my verskeie kere bewoë gelaat.”

Marais sê hy glo onwrikbaar dat die Namas en die ander mense van Namibië Afrikaans se beste bondgenoot is. “Ons moet aanhou om Afrikaanse projekte in Namibië te ondersteun. Die tyd loop uit.”

Dit gehoor sit vasgenael en luister (Foto verskaf aan Maroela Media)

Dit gehoor sit en luister aandagtig (Foto verskaf aan Maroela Media)

Marais het tydens sy toespraak gesê die titel van die boek laat twee vrae ontstaan: “Wat is ‘n keiservoël en waar is Namaland? Wel, ‘n keiservoël is die rooiborslaksman en die naam keiservoël verwys na die ou kleure van die Duitse vlag, rooi en swart, en daarom is die ander naam van die rooiborslaksman dan ook die Duitse vlag. Hierdie ou name kom albei voor in die woordeboeke en dit is uniek tot die Namas. Met ander woorde, dit is die kontreitaal, kontreiname van die rooiborslaksman, soos julle mense dit gebruik. Ook die ou Duitsers het van der Reichsvogel gepraat as hulle ‘n rooiborslaksman sien.

“Wat van Namaland? Waar is dit? Dit is presies hier waar ons vandag is, Van min of meer hiervandaan en verder suid, tot teen die Garieprivier. In die ou dae, voor 1883, het hierdie wêreld aan die Namavolk behoort. Maar een fout het hulle hierdie land gekos. Een verkeerde besluit het veroorsaak dat die Namas hulle grond verloor het. Dit is die storie van my boek.”

Marais het ook in sy toespraak verwys na wrede eksperimente wat in 1906 op die Nama krygsgevangenes op Haai-eiland in Lüderitz se hawe gedoen deur ʼn Duitse dokter. “Uiteindelik het hy boeke geskryf waarin hy gesê het dat die Namas ‘n minderwaardige ras is. Dit het beteken dat hy gereken het dat dit nie verkeerd is om sy wrede eksperimente te doen nie. Hy het onder andere die krygsgevangenes se koppe afgesny en vir hulle vrouens gegee om skoon te maak. Hierdie skedels het hulle Duitsland toe gestuur en daar verdere navorsing gedoen. Die meeste van daardie skedels is vandag nog daar.”

Duitsland het vanjaar erken dat dit ‘n fout was.

Dan verduidelik Marais verder dat dié dokter se werk die begin was van wat 33 jaar later die sogenaamde Jodeslagting of Holocaust sou wees waartydens 6 miljoen Jode vermoor is. “En dit het alles op Haai-eiland (Shark Island) in Lüderitzbaai begin.

“Hoe het dit alles gebeur? Hoekom? En wat was die fout wat die Namas gemaak het? Wat het hulle verkeerd gedoen? Dit is die storie van Die Keiservoël Oor Namaland.”

Marais verduidelik die boek vertel die storie van die Herero- en die Nama-helde, van Hendrik Witbooi, Cornelius Fredericks, Simon Koper, Abraham Morris, Jakob Morenga en ander. “Ek wil hê dat die mense van hierdie land moet lees van hulle eie helde, mense wat baie opgeoffer het, eintlik alles verloor het. Ek wil hê julle moet trots wees op julle helde, julle moet hulle nagedagtenis vereer, julle moet trots wes op julle kultuur, julle taal en julle Afrikaans. Bo alles wil ek hê julle moet lees. Om te lees is om mag te hê. Om woorde te ken maak jou sterk. Lees elke dag ‘n paar bladsye, vir die res van jou lewe, want dit maak jou sterk en slim.”

Boek: Die Keiservoël oor Namaland

Uitgewer: Cordis Trust Publikasies
Prys: R375-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eend ·

Skryf n soortgelyke boek vir die swart leser om hulle bewus te maak wie die eintlike eerste bywoners van suidelike afrika was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.