‘Die koms van die biblioteekbus’: Keina se onthou-stories

Foto: Facebook/ Keina Swart

Foto: Facebook/ Keina Swart

Deur Adéle Changuion

Hier by Maroela Media kry ons baie boeke om te lees – elke boekwurm se droom. Ek is veral lief vir kortverhale en rubrieke en was nogal nuuskierig toe ek van Keina Swart se Koms van die Biblioteekbus hoor.

Ek het die aand, terwyl ek my bad tap, besluit om gou die eerste storie te lees sodat ek net ʼn gevoel van die boek kan kry. Tien stories later (die bad lankal vergete) moes ek my dwing om op te hou lees omdat dit reeds verby my slaaptyd was. Die volgende aand was die boek klaargelees. Ek was ʼn bietjie jammer dat die boek nie meer stories gehad het nie.

Keina Swart is ʼn koerantredakteur en skrywer, en veral bekend vir haar kinderstories en rubrieke. Haar jongste boek, Die koms van die biblioteekbus, is ʼn versameling rubrieke en kortverhale wat sy oor die jare vir verskeie koerante geskryf het.

Foto: Facebook/ Keina Swart

Foto: Facebook/ Keina Swart

“Toe ek die stories bymekaarmaak, het ek gesien daar is ʼn lyn wat eintlik deur die hele boek loop, en dit is: musiek en reuke. Dit was nie spesifiek so geskryf nie en ek het dit eers besef toe die klomp stories bymekaar is,” sê Keina.

Die boek bestaan uit onthou- en grootwordstories van Keina se lewe, asook huidige nuusstories wat deur haar blik as joernalis vertel word.

“Mens moet altyd so objektief wees in koerantverslaggewing, en dit is wat lekker is van rubrieke – jy kan skryf wat jy dink en wat jy sien.”

Maar hoekom sal mens stories van iemand se lewe wil hoor as jy hulle nie ken nie?  Wat maak Keina se lewe so spesiaal?

Foto: Facebook/ Keina Swart

Foto: Facebook/ Keina Swart

Haar stories raak jou hart, want haar stories klink en voel ʼn bietjie soos jou eie. Sy skryf oor haar ervarings as skoolkind: oor ʼn aaklige juffrou en ʼn wonderlike juffrou. Sy skryf oor nare kinders en die ontvlugting wat boeke kan bied. Sy skryf oor die teleurstelling wat mens as kind ervaar – dit voel soos jou eie storie. Sy skryf oor die reuk van Vicks en jy ken daai reuk goed. Sy verwys ook baie na musiek en dit vat jou nog verder terug omdat jou ouers ook daai musiek geluister het.

Haar skrywe kom baie eerlik voor, en jy wonder of sy gemaklik is met die feit dat sy haar lewe so oopmaak vir elke Jan Rap en sy maat.

Foto: Facebook/ Keina Swart

Foto: Facebook/ Keina Swart

“Ek besef dat ek baie van myself ontbloot in my skryfwerk. Ek dink dit gaan daaroor dat ʼn mens waarneem en na ander mense kyk – en dan sê jy maar hoe jy dit ervaar. Ek sal goed skryf vir die hele wêreld om te lees, wat ek nie die moed het om te sê vir een mens nie. Ek weet nie of ander skrywers dit ook doen nie,” sê Keina.

Dis is juis dié eerlikheid wat deurlopend in die boek gevind word. Haar stories ontbloot nie net haar eie menslikheid nie, maar ook dié van die leser.

Die koms van die biblioteekbus raak ʼn mens se hart – dit laat jou lag (veral die storie oor die juffrou wat nog die woord “pagina” gebruik). Dit dwing jou om terug te dink, selfs wanneer die onthou nie so lekker is nie.

Uitgewer: Naledi
Prys: R175-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek: Graffiti
Maroela Media-lesers kan, danksy afslag deur Graffiti Boeke, die boek aankoop teen R90-00.
Koop die boek hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.